Bellville – Raffles-nagklub in Voortrekkerweg, Boston

uncletnuc-com

Die berugte Raffles-nagklub in Voortrekkerweg was gedurig in die nuus vir die verkeerde redes. Voordat Edwardstraat daar was met ál sy nagklubs, was Raffles in die vroeë 90’s die plek om by te wees.Veral wanneer daar opwindende en beslis sexy moddergevegte was. Ek onthou dit goed, want toe ek in die Hoërskool DF Malan was, het ons altyd die skool se sokkie-aande bygewoon om dit net later te verlaat en dan by Raffles te gaan inglip om die sexy, modderbedekte, bakleiende lywe te gaan gesien. Ek en my vriende kon ongelukkig nooit lank bly nie, want ons moes weer die 12 lane terugstap tot by die skool, want my ma het gesê sy tel ons 23:30 op. Die een keer het sy my vreemd aangekyk en gevra: “Etienne, hoekom is jou hemp so vol modderspatsels?” (Die foto is van uncletnuc.com)

1993 – Kaalbors-kelnerinne dompel Tygerberg in morele krisis

100_4452

Bo is ‘n advertensie uit Die Tyger-Burger van 27 Oktober 1993.

Die Tygerberg is in rep en roer oor ‘n hotel in Kuilsrivier en ‘n restaurant in Bellville wat van kaalbors-kelnerinne gebruik maak.
Vooraanstaande Tygerbergers is erg geskok oor die wulpse doen en late by die twee plekke.
Om nie eens te praat van die onlangse opening van die eerste gesellinklub in die Tygerberg nie. Die Milnertonse Killarney Hotel se kaalbors-kelnerinne het nou glo vervelig geraak. ‘n Mens kan maar net wonder wat nóú agter hul geslote deure plaasvind.
Behalwe vir die gewone kaalbors-kabaretdanseresse en -kelnerinne, is vroue-oliestoei ook by Raffles in Bellville te sien.
Die burgemeester van Kuilsrivier, Pierre Uys, het gesê: “Die Christelike deel van die gemeenskap van Kuilsrivier kan hulle nie met so iets assosieer nie en sal die plek beslis vermy.”
Volgens Noël Johnson van die Hotel Die Kuile het sy omset verdubbel sedert hy met sy kaalborswerkertjies begin het. Hy het bygevoeg alles is altyd smaakvol by die hotel en dat niks onsedeliks daar aangaan nie.
“Dit het tyd geword dat die sogenaamde 72% Christene in die land wakker skrik!” het ‘n woordvoerder van Christene vir die Waarheid gekla.
(Die Burger, 10 September 1993)

Rooiliggebied in stad gevrees

By die Raffles-nagklub gaan jongmense snags só erg te kere dat talle mense hul hare uit hul kop wil trek.
Inwoners is huilerig oor die geraas en wangedrag deur “besope, bakleiende jong mense” (ek was een van die besopenes).
Die burgemeester Awie Kempen is ook al in die laatnag oor die rumoer gebel.
“Die saadjies van Satanisme word daar geplant,” het een inwoner geneul.
Die polisie het ouers gewaarsku om hulself te vergewis van waar hul kinders laatnag rondkarjakker.
Die woordvoerder van die munisipaliteit het gesê: “As ouers nie self tuis hul kinders moraliteitsbeginsels leer nie, kan die munisipaliteit en die polisie dit nie vir hulle doen nie.”
‘n Pastoor van die Volle Evangeliekerk, wat in ‘n woonstel oorkant Raffles woon, het gesê: “Afgesien van die laatnag-lawaai vrees ek dat ‘n deel van Voortrekkerweg in ‘n rooiliggebied sal ontaard.”
Volgens Neville Rossouw, Raffles-eienaar, het vele ouers van die Tygerberg hom al ontsteld gebel om te kla oor die bostuklose-meisies en die oliestoeiery by sy plek.
Nadat ‘n Raffles-woordvoerder vroeër bevestig het kaalborsmeisies werk wel by die nagklub, het Rossouw gister bygevoeg hulle dra darem blinkertjies op hul borste of tepelhoedjies.
(Die Burger, 16 September 1993)

Raffles hou wilde dames-oliestoeitoernooi

Die Voortrekkerweg-dames-oliestoeitoernooi by Raffles laat vele manne se tong uithang. As jy in ag neem dat die kuier tot 04:00 aanhou, is dit geen wonder dat daar oor die land se onproduktiwiteit gekla word nie.
Die sexy stoeiers het name soos Blast en Super Bitch en die skeidsregter is ‘n arme siel wat pas mondig geword het en deur sy vriende oorreed is om sy verjaardag saam met hulle by dié nagklub te vier.
Super Bitch en Blast trek hul kleertjies uit. Nou is dit net deurtrekkertjies en, as jy jou verbeelding gebruik, pleistertjies wat halfhartig tepeltjies probeer bedek. Die jong, grootoog skeidsregtertjie gooi ‘n bottel kookolie in die put uit. Dan spring die stoeiers in en gly en glinster en giggel en gryp. Wanneer die skeidsregter hulle uitmekaar probeer haal, word hy gepak. Saam rol die drie dan glimlaggend in die put rond. Vir die grotendeels manlike gehoor is die hele petalje skynbaar vreeslik snaaks.
Dan is dit tyd vir Raffles se sogenaamde kabaret – wat eintlik niks anders as ontkleedansery is nie. ‘n Skamerige jong man word gevra om die danseres Solitaire met haar ontkleeproses te help. Hy gebruik sy tande. Wanneer Madonna se “Erotic” speel, bespuit sy haarself met lyfroom.
“Erotic, erotic! Put your hands all over my body!” is die oorstelpte jong man se uitnodiging om te vat waar hy graag wil vat. Solitaire maak of sy haar deurtrekkertjie gaan verwyder . . . wag ‘n paar sekondes, maar buig dan laag en verlaat die verhoog terwyl die nat-agter-die-ore-outjie haar oopmond agterna staar.
Wild? Ja, nie sleg vir ‘n Dinsdagaand nie.
(Die Burger, 24 September 1993)

Bo is ‘n voorstelling waar Raffles nagklug in Voortrekkerweg gelee was. Die gebou links van die rooi sirkel is waar Bellville se eerste Woolworths was. Die woonarea aan die bokant is Boston en die groot pad wat vertikaal opgaan is Durbanweg.