wallpaper_prototype_02_1920x1200-copy

. . . K A N N I B A A L F E E S . . .

Geskryf (in 2009) deur – Etienne Rossouw

Genre: Riller
Aantal woorde: 19 100
Foto: Game Wallpapers.com

Waaroor gaan storie?

Jak Skobbejak, leier van die Skolliepatrollie, probeer hard om sy klein brawe bende te laat verstaan, dat bloeddorstige kannibale hulle een vir een in die laatnagte vang en verslind. Niemand glo hom egter nie en een vir een word hulle gevang . . . totdat daar net een oorbly wat miskien nog ‘n gevreesde kannibaalfees sal vryspring . . .

—————————————————————————————

(Hoofstuk 1) – Dis die begin van ‘n jaagtog

Een aand laat word ‘n groepie opgewonde jong straatkinders vermaak met groot handskaduwees teen ‘n muur. Hulle kan nie sien wie die skaduwees maak nie. Die kinders lag en geniet die vreugdevolle vertoning. Hulle sien eers ‘n hasie, dan ‘n bokkie, dan ‘n duifie met vlerke wat fladder en dan die herkenbare kloue van niemand ander as die gevreesde . . . Monsterkloue, wat hulle elke aand rondjaag.

Bang vir die skielik verskynende kloue, klou hulle vreesbevange aan mekaar se moue. Nader aan die straatlig raak die monster se kloue al hoe groter.
Die kleine straatkinders skree hard en begin vinnig weg te hardloop, want as die gevreesde Monsterkloue hulle vang, sal hulle nóóit weer gesien word nie.

Die kinders is almal vreesbevange, want hulle weet nie wat Monsterkloue is nie.
Jak Skobbejak is die 11-jarige blondekop leiertjie van die Skolliepatrollie. Hy is lank vir sy ouderdom en uiters maer, maar lyk sterk en atleties gebou. Hy spog gereeld by die ander lede van sy groepie hy kan minstens tien opstote ná mekaar doen.
Die Skolliepatrollie bestaan uit ‘n groep van tot tien straatkinders.
‘n Sesjarige seuntjie met ‘n snotneus, Snotneus Snuiter, het al baie maatjies verloor, altyd snags. Snotneus Snuiter is in sy noppies wanneer nóg straatkindertjies deelraak van die Skolliepatrollie, want dit beteken meer maatjies.
Dalk is Monsterkloue ‘n reusagtige arend of ‘n groot uil wat sy maatjies gryp en laat verdwyn, dink Snotneus Snuiter. Dalk is ék volgende? Wat anders kan sulke groot kloue hê?
Die onmenslike monster kom net uit in die donkerste nag.
Saam met die res van die Skolliepatrollie patrolleer Snotneus Snuiter snags die strate vir enige gevaar om so ander straatkinders te probeer beskerm. Dis ‘n gevaarlike werk wat niemand wil doen nie, maar tog doen dié brawe kleintjies dit amper elke aand.

Die straatkinders staan met hul rug teen die muur. Hul oë is groot, soekende na gevaar.
In die koue nagwind beweeg blaarlose takke se onheilspellende skaduwees soos honderde skerp kloue teen ‘n baksteenmuur.
Dan sien die senuweeagtige, verskrikte kinders ‘n aaklige gedierte met groot, krom hande.
Wat kan dit wees? wonder die grootoog kleintjies.
Die onmenslike monster maak normaalweg sy verskyning net ná middernag. Dít is wanneer die ding klein kinders begin jag.
Monsterkloue se krom hande silhoeëtteer skielik soos kloue tussen nabye boomtakke deur.
Die Skolliepatrollie skrik en hou hul monde styf toe om sagter asem te haal. Gou ly die hele groepie aan Monsterkloustrofobie.
Skielik sien hulle die ding se kloue wat soos skerp slagysters uit die donkerte voor hulle verskyn.

Jak Skobbejak moet nou leiding neem om die kleintjies, wat meestal weeskinders, wegloop-kinders en stout kinders is, te beskerm, maar hy dink net aan homself.
‘n Groot, verligte advertensiebord adverteer ‘n nuwe fliek Claws of Death in die agtergrond en dit maak ál die jong bloedjies net nóg meer vreesbevange. Hulle maak reg vir Monsterkloue se gewelddadige woedeaanval.
Die Skolliepatrollie sal verwoed terugbaklei met klein toegevoude vuisies.
“Gaan staan voor!” beveel Jak Skobbejak die bange Snotneus Snuiter.
“Gaan wys ons hoe dapper is jý!” voeg die jong leier by en stamp die snotneusie vorentoe.

Almal is oorgeskakel tot in die hoogste senuweeagtigste rat.
“Wat het so vinnig beweeg?” vra Snotneus Snuiter fluisterend. “Is dit ‘n dier?”
“Bly stil, Snotneus,” grom die blondekop hardekwas.
“Het jy die kloue gesien?” wil Snotneus Snuiter weet. Hy vee sy snotneus af en skree: “Dis ‘n dinosaurus! Hardloop!”
Snotneus Snuiter bevind homself skielik effe afgesonder van die res van sy groep en begin hard te huil.

Monsterkloue verskyn soos blits, met sy alombekende lang swart reënjas, kappie oor sy swaar bebaarde gesig en die verskriklike kloue wat altyd na voor wys, reg om te gryp.
Sy donker jas vou skielik soos ‘n doodsgordyn rondom ‘n angsbevange Snotneus Snuiter.

“Die dood het jou gevang,” brom ‘n hees stem agter Snotneus Snuiter se ore.
Monsterkloue gryp die vreesbevange knapie só vinnig, dat dié nie eens ‘n piepgeluidjie kan uiter nie. Hy verdwyn met sy nuutste slagoffer die donker nag in, na wie weet waar.
In dié vreesaanjaende oomblik vries almal van skok.
“Wees sterk, Snotneus! Jy sal oorleef!” skree Jak die skobbejak positief agterna, al weet hy sy groepie sal die snotneusie nooit weer sien nie.

Jak Skobbejak raak bekommerd, want sy middernagtelike patrollie raak elke aand net kleiner en kleiner. Hy is een van die oudste straatkinders in hul groep en het een van die grootste straatkindgroepe in die Kaapse middestad. Maar nie as Monsterkloue hulle elke aand afmaai nie.
Jak Skobbejak sal vinnig ‘n meesterplan moet bewerkstellig om van die gevreesde monster en sy kloue ontslae te raak.
Die blondekop seun sal egter eers moet uitvind watse gedrog Monsterkloue rêrig is.

——000000——


(Hoofstuk 2) – Houtkop & Klipkop

Die kaalkop boemelaarbroers Houtkop en Klipkop bly in ‘n verlate systraatjie in die middel van die Kaapse middestad.

Houtkop het jare se ervaring in houtsneekuns en weet hoe hard en hoe sag hy elke hou op sy beitel moet gee. Elke hou het sy doel, nes in tennis. Die beitel kerf elke snit dieper in die hout. Hy weet al instinktief in watter rigting hy moet kerf. Die beeldjie word met ‘n skerp mes en ‘n holbeitel netjies uitgesny en gekerf. Met ‘n potlood maak hy nog merkies op die hout waar hy weer moet kap, want die beeld moet saamvloei met die karakter van die hout. Houtkop se vingers is gedurig besig om met die beitel op die hout te druk, te keer en te beskerm of om die beitel stadiger te laat sny.

Al het Houtkop altyd ‘n dom uitdrukking op sy gesig, is hy ‘n baie talentvolle kunstenaar.

Klipkop is altyd kaalvoet teenoor Houtkop wat rampatsjaans (Afrika-sandale met motorbandsole) dra. Dis vir ál die houtsplinters wat hom gedurig steek. Houtstukke en planke lê oral gesaai. Dit lyk soos ‘n reuse-voëlnes. Die hele plek is onder splinters, want daar word selde skoongemaak.

Klipkop is ook ‘n beeldende kunstenaar en hy kerf meestal beeldjies uit sagte klip. Dis wel Houtkop se bosbeelde wat meer aandag trek omdat hy die emosie van karakters só fantasties uitbeeld.

Houtkop is vasbeslote om sy nuwe beeld so gou as moontlik klaar te kerf en gebruik sy houtsnymes om die emosie van die beeldjie se oë meer te beklemtoon. Hy hol die figuurtjie se neusgate dieper uit met ‘n reguit-holbeitel. Die beeldjie is vol kerfmerke en is besig om sommer gou-gou vorm aan te neem.

Klipkop staan opgewonde nader en wonder wie die bekende persoon is wat Houtkop probeer uitbeeld. Dan val sy skouers en hy sug, want dis net nóg ‘n Mandela-beeldjie waarmee Houtkop besig is.
Houtkop ignoreer hom, want hy weet sy houtbeelde verkoop meer as Klipkop se klipbeelde.
Klipkop stap weg en kerf verder aan sy abstrakte beeldjie. Vir ‘n oomblik raak hy deurmekaar, want hy weet self nie meer wat hy probeer uitbeeld nie. Hy haal sy dik rooi mussie van sy kop af en krap sy kaalkop uit pure frustrasie. Die twee broers het albei baie sterk hande, want beeldhou is ‘n veeleisende werk.
Houtkop tel sy gunsteling-beitel op en sien die punt het heeltemal afgebreek. Hy gluur Klipkop nors aan, want net hý gebruik sy beitels só onhandig.
Houtkop slinger die stomp beitel in sy broer se rigting en skel: “Maak skerp!”
“Ja, broer. Jammer, broer,” neul Klipkop.
Houtkop moet nou kophou en nie te veel van Mandela se kop wegsny nie. As hy te veel wegkerf, kan hy dit nie weer terugplak nie, want hy weet toeriste wil perfekte beeldjies koop.
Vir die finale afwerking gebruik hy ‘n houtbeitel en hammertjie om liggies plooie rondom Mandela se oë uit te kerf. Houtkop vee die houtkerfsels weg en skuur dit so glad as wat hy kan met ‘n ou stukkie skuurpapier. Dan poets hy die beeldjies met swart politoer blink en donker.
Die houtgraveerkunstenaar glimlag tevrede. Nou het hy nóg ‘n beeldjie om by Groentemarkplein uit te stal en te probeer verkoop. Heel tevrede plaas hy sy nuutste skepping langs sy groeiende versameling Mandela-beeldjies. Hulle lyk almal eenders en verkoop altyd lekker vinnig.
Klipkop staan nader en besigtig sy broer se uitmuntende vakmanskap.
Hoe op aarde kry Houtkop dit reg? wonder die minder talentvolle Klipkop.
Hy weet sy abstrakte klipkunswerke sal niemand koop nie. Dit lyk meestal horibaal. Saans steel hy ronde, wit rivierklippe uit mense se tuine wat hy bedags kunstig verf en verkoop.

Kleintyd het Houtkop met ‘n houtpop gespeel. Pinocchio het hy die pop genoem. Sy boetie, Klipkop, het die pop se lang neus afgesaag, want volgens die knapie het die pop te veel gejok. Hy het later die pop gaan stenig . . . en van daar sy liefde vir klippe. Houtkop was woedend en het broer Klipkop met ‘n plank gejaag en probeer slaan . . . en van daar ontwikkel hy ‘n liefde vir hout.

Vandag is daar ‘n groot waarskuwing by die ingang van hul blyplek: STRICTLY NO ENTRY! BEWARE! STICKS AND STONES WILL BREAK YOUR BONES!
Dié waarskuwing is iets wat veral lastige straatkinders baie ernstig moet opvat.

——000000——


(Hoofstuk 3) – Middernagtelike Monsterklou-jagtog

Die tienjarige Trish Trash is Jak Skobbejak se meisie en speel ‘n belangrike deel in die berugte Skolliepatrollie. Sy is haar kêrel se tweede in bevel.
Die vloekerige Vuilbek Vuilgoed is maar net nege, maar vloek reeds soos ‘n matroos. Die poenskop seuntjie se vieslike taalgebruik walg die res van sy groepie.

Dis net ná middernag en die straatkinders weet . . . dis tyd vir Monsterkloue om sy verskyning te maak.
“Wheêêla-kapeêêla, jy kan ons nie vang nie!” eggo Vuilbek Vuilgoed se uittartende woorde deur die strate.

Monsterkloue is nader as wat Vuilbek Vuilgoed dink. Hy hoor duidelik hoe ‘n erg irriterende kindjie hom uittart.
Wie sal dit durf waag om my te spot? wonder Monsterkloue boos.
Hy beweeg vinnig in die rigting van waar die stem gekom het.

“Wat doen jy?!” skel Trish Trash. “Monsterkloue sal jou hoor!”
“Ag, kalmeer, Trish!” lag Vuilbek Vuilgoed in haar gesig.
Monsterkloue sal my nooit gryp nie, want ek’s permanent vuil en stink, dink die vuilbek.
Trish Trash word yskoud toe sy ‘n hand op haar skouer voel. Sy draai vinnig om, maar dis net haar outjie.
“Wil jy my ‘n hartaanval gee, Jak?!” skel sy met ‘n glimlag.
“Nee, Trish. Ek wil jou net ‘n soentjie en ‘n drukkie gee om vir jou te sê ek het jou baie lief, my skattebolletjie.”
“Aawww. Dis só sweet van jou. Dankie, my hart se puntjie.”
Groot, swaar reëndruppels begin uit die donker bloute te val.
Jak Skobbejak is skielik effe twyfelagtig. Moet hy sy meisie voor sy Skolliepatrollie soen of nie? Vuilbek Vuilgoed sal seker iets walgliks, vulgêr en vloekerig sê, so hy besluit om haar eerder net ‘n flou drukkie te gee.
Vuilbek Vuilgoed lag vir die verliefdes.
As Jak Skobbejak net uit die prentjie kan verdwyn, is Trish Trash myne, dink hy.
Die wind tel skielik op en die groepie staan senuweeagtig nader aan mekaar.
Vuilbek Vuilgoed se oë rek. Hy is seker hy het sopas Monsterkloue gewaar. Soos ‘n regte lafaard sak hy af in ‘n hoekie, druk sy vuil vingers in sy mond en begin sy naels senuweeagtig te kou.
As ek slim is en vir niemand sê nie, sal Monsterkloue Jak Skobbejak dalk vang, dink Vuilbek Vuilgoed.
“Wat’s fout, Vuilbek?” vra Jak Skobbejak. “Het jy daai vuilgoed gesien?”
“Ek het niks gesien nie,” jok hy skouerophalend. Tog sien hy wel hoe Monsterkloue stilletjies ál nader beweeg.
Die sewejarige Charlie Tjankbalie, tans die jongste bendelid van die Skolliepatrollie, begin skielik kliphard keel opsit. En dis gewoonlik ‘n teken dat iets leliks verkeerd is.
Jak Skobbejak se sintuie werk oortyd. Wat het Charlie Tjankbalie gesien? wonder hy. Waar is die gevaar?
In hul magteloosheid word bewegende skaduwees fyn dopgehou. Die Skolliepatrollie se oë rek soos een man groot toe hulle ‘n donker figuur sien naderkom.
Ag, dis net Gemors Jors, besef hulle. Dankie tog, dis net hy.
“Welkom terug by die Skolliepatrollie!” roep Jak Skobbejak terwyl dit harder begin reën en die wind verder optel.
“Hoekom hardloop julle vir my weg?” kla die negejarige Gemors Jors terwyl hy sy koeldrank klaardrink. Die knapie gooi sy leë blikkie raserig op die sypaadjie.
“Bly stil!” raas Jak Skobbejak.
Gou raak die bedrywige stad geluidloos. Almal wag in intense spanning. Is Monsterkloue weg of . . . nee, hier kom hy!
“Hy het die blikkie gehoor!” skree Trish Trash. “Hardloop!”
Dis ‘n vreesbelaaide adrenalien-oomblik en word vererger deur donderende weerligstrale en ‘n erge wolkbreek. Soos blits hardloop hulle na die volgende systraat.
Die terroriserende monster van die nag is terug.
Weerlig slaan kliphard en vir ‘n oomblik sien hulle Monsterkloue se skewe swart tande en glinsterende dooiemansoë.
“Dis Monsterkloue se afskuwelike gevreet!” skree Jak Skobbejak. “Hy wil elkeen van ons sommer vinnig opvreet!”
Monsterkloue gee die straatkinders almal ‘n vernietigende kyk en verdwyn dan vinnig die koue, nat donker in.
Trish Trash het meer trane op haar wange as reëndruppels. Haar lippies bewe van die skrik en die koue.
“Hy het direk na my gekyk, net om my te wys, ék is volgende.”
“Moenie jy dúrf so dink nie!” raas Jak Skobbejak. “As ons almal saamstaan, kan en sal ons daai drommel duidelik opfrommel.”
“Sy gesig het gelyk soos die donderweer, met wit blitse in sy oë,” sê ‘n vreesbevange Gemors Jors.
“Monsterkloue gaan terugkom,” snik Trish Trash. “Vanáánd nog. Ek het ‘n sterk voorgevoel.”
“Ons is die Skolliepatrollie!” skel Jak Skobbejak. “En niemand, niemand, mors met die Skolliepatrolie nie! As ons almal saam in ‘n groot groep beweeg, kan hy ons nie vang nie!”
“Hy vang ons al kláár, een vir een!” kla Trish Trash.
Charlie Tjankbalie sit ‘n erge keel op en maak dié keer nóg harder alarm. Hy
het gevaar gewaar.

Soos blits uit die donker niks gryp Monsterkloue ‘n maergat met ‘n wilde bos hare. Dis Bous Kabous. Die knapie word skreeuend die donker nag in weggesleep. Die res staan grootoog en sprakeloos terwyl hulle na Bous Kabous se angskreetjies luister.
Oomblikke later is Monsterkoue terug en gryp die vlugvoetige, ronddansende Lance Breakdance. Monsterkloue jaag die knapie soos dié se eie skaduwee.
Die brutaliteit neem toe. Hy gryp die kleine Sissie Bangbroek en verdwyn met hom onder sy een arm en Lance Breakdance onder sy ander arm. Gou is Monsterkloue weer terug en vang vinnig vir vinger-in-die-neus Snotneus Snuiter. Hy verwyn weer . . . om die res van die aand nie weer gesien te word nie.

Eers was ons tien in my Skolliepatrollie, dink Jak Skobbejak vol angs. Hoe moet ek nou met net ses kinders die strate van die stad patrolleer om dit veiliger vir ander straatkinders te maak? Ons kan nie eens onsself beskerm nie.
Hoekom het Monsterkloue só baie van ons gevang? wonder Trish Trash. Dalk het Jak die waarheid gepraat. Dalk maak Monsterkloue gereed vir ‘n reuse-maaltyd. ‘n Smaaklike, heerlike . . . kannibaalfees.
Ta-ta-taah!

——000000——


(Hoofstuk 4) – Sakkie Papsak & Bossie die Bosslaper

‘n Boemelaar wat altyd dronk is, Sakkie Papsak, se papgeld gaan nooit vir pap nie, maar altyd vir ‘n lekker papsak. Hy lyk soos ‘n tipiese dronk, gelukkige bergie met ‘n diep-geplooide gesig.
As hy staan en wieg, lyk dit asof hy enige oomblik sal neerslaan. Vir hom is dit onmoontlik om eens tien meter te waggel sonder om te val. En wanneer hy val, is sy rooi drankneus weer bloedneus.
Sakkie Papsak het altyd ‘n blink papsak onder sy arm. Vir een of ander rede lyk dit altyd vol, maar dis maar net omdat dit waarskynlik reeds die tweede of derde papsak is. Eendag sal Sakkie Papsak huil van dronkverdriet, net om die volgende dag te lag en vrolik te sing en dans. Soms is hy só dronk, niemand kan verstaan wat hy sê nie.
Half-beskonke met oë half-oop, sal hy aanhoudend iets onverstaanbaar mombel soos: “Enah me kops so seer vannie hu blêh wyn.”

Bossie die bosslaper, oorspronklik van Stellenbosch, is in sy vroeë veertigs en bly al lank in die Kaapse middestad. Hy het bosbou studeer en “uitgeval” voordat hy sy eerste jaar kon voltooi. Op ‘n studente-uitstappie het hy in die bos agtergebly om ‘n zol klaar te rook en ná 20 jaar in dieselfde bos weet hy meer as enige bosboukundige van bossies – sommige kan jy rook en sommige kan jy nie rook nie.
Die hartseer waarheid is dat die meeste Stellenbosch-bosboustudente stelselmatig uiteindelik as daggarokende boemelaars opeindig, het Bossie altyd gedink.
Die onbeskaafde Bossie, met sy bosbegroeide bruin baard en deurmekaar bos krulhare, se een voet bly maar altyd in die bos. Met sy stukkende, vuil klere lyk dit of die hawelose Bossie stukke verslete lappe dra.
Soos hy soggens wakker word, so lyk sy hare heeldag lank – skeef en deurmekaar.
Sy hare is vol blare waar hy nou net gelê het.
Sakkie Papsak probeer die slaperige bosslaper, aan die slaap tussen die akkerblare en akkedisse, wakker maak.
“Word wakker, Bossie! Dis tyd vir ‘n oggendknertsie, ou pêl.”
“Ek kannie só vroeg knertsie, Sakkie,” bobbejaangaap Bossie.
“Wat?! Ek knerts al heel oggend!” lag Sakkie Papsak.
“Wat?! Die son trek dan nog nie eens water nie!” antwoord Bossie terwyl hy dik stukke slaap uit sy vuil oë vee.
Bossie is ‘n rommelmusiekinstrumentmaker. Hy maak instrumente uit enige tipes rommel wat hy hier en daar op sypaadjies optel tydens sy daaglikse rondslentery. Dan maak hy sommer self musiek op sy skeppings.
Kombuisware soos messegoed, ketels, klitsers en kastrolle; plastiek- en glasbottels, ou saaglemme, wieldoppe en so meer.
Met houtstokkies slaan hy ritmies op alles en al lyk dit of hy weet wat hy doen, maak hy net ‘n geraas en gee almal wat sy lawaai hoor eintlik maar net ‘n erge kopseer.

Sakkie Papsak sit en drink uit ‘n brandewynbottel, toegedraai in ‘n bruin papiersak.
“Wat gaan jy doen as die prys van witbrood weer styg?” vra Bossie sy pêl Sakkie Papsak, wat drink soos ‘n vis.
“Ek gaan minder brood eet.”
“En as die prys van brandewyn verder styg?”
“Dan gaan ek ophou brood eet.”
“Miskien is dit tyd dat jy begin geld spaar.”
“Ek kan nie. Ek drink te veel,” sê Sakkie Papsak en burp hard en lank.
“Wel, dan moet jy verdomp minder in die bottel kyk.”
“O. Wel, dié bottel is leeg.”

“Welkom terug by Losers Paradise,” groet Houtkop sy twee vriende.
Losers Paradise? Ai! dink ‘n dikgerookte Bossie. Kon Houtkop nie maar aan ‘n beter naam gedink het nie?
Hy vat ‘n diep trek van sy groot zol, maar die sterk Swazi-dagga maak dit moeilik om aan ‘n beter naam te dink.
Sakkie Papsak is permanent dronk. Sodra die naaste drankwinkel oopmaak, kruip hy handeviervoet daai winkel binne. Dan koop hy ‘n papsak en kruip weer handeviervoet daar weg, terug na Losers Paradise.
“My knieë is al deurgeloop,” kla hy.
“Miskien as jy soos ‘n mens loop, hoef jy nie oral heen te kruip nie!” lag Houtkop.
“As ek opstaan, val ek om. Hoe nader ek aan die grond is, hoe sagter val ek.”
“Hmmm. Slimpraatjies van ‘n dronk man.”
“Ek het nog nie eens begin drink nie!” hap Sakkie Papsak terug. “Ek vat nou eers my éérste sluk.”
Al wat Bossie en Sakkie Papsak by die Losers Paradise doen, is rook, drink en almal vermaak met hul deurmekaar praatjies.
“Ek dink ek het alkoholvergiftiging,” kreun Sakkie Papsak ‘n uur later met ‘n diepdronk stem en hou sy seer pens styf vas.
“Nou hou op drink. Dis al negeuur,” neul Houtkop.
“Nee. Wyn virrie pyn.”
“Jy ruik na kots!” skel Bossie neusoptrekkerig.
“En jy stink na gagga dagga!” kap Sakkie Papsak bitsig terug.

Sakkie Papsak werk as trollieman by ‘n drankwinkel om die hoek in Langstraat, maar hy noem die plek sommer die dronkwinkel. Hy help om trollies propvol drank in mense se kattebak te pak. So nou en dan steel hy ‘n bottel en steek dit weg onder sy trui. As sy tydsberekening reg is, kan hy tot ses bottels sterk drank per dag steel.

Bossie se broek skeur

Bossie strek homself lank uit en krap sy woeste kraainesbeboste skilferkop. Hy gee ‘n lang bobbejaangaap, trek sy gesig leliker as wat dit reeds is en steek vir Sakkie Papsak tergend tong uit. Bossie staan op en maak reg vir die dag.
Bedags is Bossie windscreen washer by verkeersligte, waar hy motoriste se vensters was met ‘n botteltjie water en ‘n vuil, taai olielap.
Hy buk af om sy botteltjie en lap op te tel. Toe hy orent kom, skeur sy vrotterige broek – reg in die middel deur.
Ál sy vriende bergielag vir hom. Kliphard.
“Ai, julle. Die lewe gaan darem maar broekskeur!” lag Bossie.
“Daai broek is seker al 20 jaar oud,” lag Houtkop. “Jy moet maar vir jou ‘n anne broek gaan koop.”
“Ek kan nie. Daar is ‘n gat in my broeksak. Nou is my geld weg.”
“Agge nee, ou Bossie. Moetie vir my kyk nie. Ek’s platsak,” kerm Sakkie Papsak.
“Ek is nou só depressief, ek dink ek het nou sommer baie sterk drank nodig. Gee my ‘n groot sluk.”
Sakkie Papsak gee vir hom sy bottel aan en Bossie grom vir hom.
“Agge nee, man! Jy daag altyd met ‘n leë drankbottel hier op,” kla Bossie.
“Dis omlat ekkie res al kla opgesypet,” verduidelik Sakkie Papsak.
“Die bottle store is net om die hoek,” kondig Houtkop aan.
“Checkers óók. Asse ekke by diehu winkel uitloep, beginne ekke alle drink,” hik Sakkie Papsak.
“Bossie, hier’s vir jou ‘n R60,” sê Houtkop. “Gaan koep vir jou ‘n nuwe broek.”
“Dankie, my ou pêl. Hie-hie,” lag Bossie. “From rags to riches in ten seconds flat!”
“Gaan koop vir jou ‘n broek, nie ‘n dagga-bankie nie,” waarsku Houtkop.
“Hey, hoe ken jy my?” lag Bossie.
“Ek ken jou gans té goed!” skel Houtkop en gryp sy R60 terug.
“Nee, man! Wat gaan ek vanmiddag rook?”
Oeps! dink Bossie en gryp sy mond vas. Wat het ek nóú gesê?

——000000——


(Hoofstuk 5) – Jak Skobbejak raak ernstig: “Hulle is kannibale!”

“Monsterkloue is ‘n bergie wat ons jaag,” skel Jak Skobbejak ernstig vir sy Skolliepatrollie. “Hy bly iewers saam met ‘n groep bergies wat almal kannibale is.”
“Ag, hou op lieg!” skel Vuilbek Vuilgoed. Sy lyfie bewe en hy klou bangerig aan Trish Trash terwyl hy gemufte brood in sy mond druk.
Niemand wil Jak Skobbejak glo nie, want die bergies wat húlle ken, kom almal só normaal voor. Volgens die kleintjies bly kannibale in oerwoude en nie stede nie.
“Ek het hulle gesien, julle. Hulle is soos kamakaze-kannibale. Hulle storm op jou af, begin jou te byt en eet jou net daar waar jy staan. Soos piranhas skeur elkeen ‘n stuk vleis uit jou lyf.
“Ek het dit met my eie twee oë gesien,” probeer Jak Skobbejak hulle verder oortuig. “My oë bedrieg my nooit. Ek het al gesien hoe die kannibale straatkinders lewend opvreet.”
“Jy probeer ons net bang praat,” neul Vuilbek Vuilgoed, met trane in sy oë en vrees op sy gesig.
“Ek is jul leier!” raas Jak Skobbejak.
“Nie vir lank nie,” reageer Vuilbek Vuilgoed. “As Monsterkloue jou eers gevang het, sien ons jou nooit weer nie.”
“Monsterkloue!” huil Charlie Tjankbalie.
“Wat van hom?!” vra-skel Jak Skobbejak.
“Nee! Agter jou! Monsterkloue!”
Koue hoendervleis-rillings beweeg soos ‘n golf deur almal se lywe. Die gevreesde duiwelkloue is los, op soek na kos.
Die kleintjies laat spaander almal soos super-atlete.
Vinniger en vinniger hardloop almal skreeuend in ‘n systraatjie af. Hulle trek en stamp aan mekaar net om voor te bly. Die monster se kloue kom vinnig nader.
Charlie Tjankbalie voel hoe die kloue hom wil gryp en skree: “Ek gaan nie vanaand geëet word nie!”
Kaalvoet hardloop hulle so vinnig soos hul beentjies hulle deur die nag kan dra, deur diep plasse reënwater. Links en regs verdwyn hulle om die hoeke van donker geboue.
“Ons kan hier rus en wegkruip,” kondig Trish Trash uitasem aan.
Hulle wag ‘n oomblik in angsgevulde stilte om te luister of Monsterkloue naby is. Ná ‘n minuut of wat van harde asemhaling skarrel Trish Trash en haar geskokte maatjies oor na waar Jak Skobbejak en sy pêlle uitasem teen ‘n kleurvolle muur vol graffiti sit.
Is dít hoe dit elke aand gaan wees? wonder ‘n tranerige Charlie Tjankbalie en snak na sy asem. Terwyl almal in die stad sag slaap, hardloop ons hard vir ons liewe lewens. Ek is net sewe jaar oud. Moet ek dan nou elke aand vir die res van my lewe in vrees leef?

BO: Hierdie is ‘n film plakaat van die fliek, ParaNorman (2012). Die karakters kon net sowel: Vuilbek Vuilgoed, Trish Trash, Jak Skobbejak, Gemors Jors en Charlie Tjankbalie wees.

 

Dis pikdonker waar die Skolliepatrollie wegkruip. ‘n Straatlig flikker-flikker flou oranje bo hul koppe. Almal is natgesweet, honger, moeg en bang.
Dis weer stil . . .
Reën sif saggies neer . . .
Almal se asems is terug . . .
Hulle wag in spanning . . .
Wat gaan nou gebeur? wonder almal. Is dit veilig om weer in die strate rond te loop of kruip Monsterkloue nog in sy bekruipershoekie weg?
Hulle kyk uitasem en grootoog vir mekaar. Dis doodstil en niemand sê ‘n woord nie.
Jak Skobbejak sug ‘n groot sug van verligting en gee dan ‘n breë vuiltandglimlag om te wys dinge is nou weer veilig.
Charlie Tjankbalie huil steeds saggies.
“As jy huil, is jy uit die Skolliepatrollie!” raas Jak Skobbejak hard met hom. “Ons het nie sissies in ons groep nodig nie! Jy weet wat met Sissie Bangbroek gebeur het!”
“Ja, ek weet,” snik Charlie Tjankbalie. “Monsterkloue het hom gevang.”
“Dis reg,” beaam Jak Skobbejak. “En as jy nie pasop nie-”
Trish Trash gil – groot kloue het haar aan die hare beet. Sy skree en ruk en pluk om weg te kom uit die kloue van die dood. Almal spring op en hardloop die donkerte in. Charlie Tjankbalie is heel agter.
“Dis net ‘n droë tak, julle!” skree hy agterna sodat die res van die Skolliepatrollie moet ophou hardloop, maar tevergeefs. Die res hou aan met hardloop en skielik bevind Charlie Tjankbalie homself alleen in die middel van die stil, donker straat.
Ek sal net hier wag vir my Skolliepatrollie-maatjies om terug te kom, dink hy. Hulle sal my nie sommer so alleen agterlaat nie.
“Dis was net ‘n tak, julle!” skree hy weer. Charlie Tjankbalie wag geduldig, maar niemand kom terug nie.
Hy besef sy sogenaamde vriende sal beslis nie terugkom nie . . .

Trish Trash is ook deur die Skolliepatrollie agtergelaat. Nou is sy óók op haar eie en daar is niemand om haar teen die gruwelike Monsterkloue te beskerm nie.

Straatlampe flikker waarskuwend flou-flou,
Kloue gaan julle vang sommer gou-gou.

Spits jul ore soos jakkalshonde,
luister, bly stil en hou jul monde!

Hardloop, straatkindertjies, hardloop!
terug na jul plek van ‘n rommelhoop.

Kruip weg in klein gaatjies en om hoekies,
die ongedierte sien jul bewende broekies.

Die silhoeëtskaduwee van die nare kloue,
verskyn skielik uit die nagtelike koue.

Monsterkloue sal jou sommer gou-gou kry,
dit sal jy ongelukkig glad nie kan vermy.

Hier kom die man met die groot hande,
as hy ons vasgryp, maak hy offerhande.

Kloue kruip weg tussen die takke en blare,
hy ruk Trish weg aan haar vuil bos hare.

Klein hartjies klop vinnig in die stille nag,
‘n afgryslike slagting lê vir haar en wag.

Die arme, bange, kleine Trish Trash,
is nou niks meer as mince meat en mash.

Ta-ta-taah!

——000000——


(Hoofstuk 6) – Hello Tafelbergie

Houtkop se jarelange vriend Tafelbergie en sy meisie, Gucci, kom vroegoggend by Losers Paradise aan. Hulle bly ook hier saam met Houtkop, Klipkop, Bossie en Sakkie Papsak. Tafelbergie is oorspronklik van Tafelberg, maar hy verkies dit om tussen sy vriende te bly.
Sy wilde swart baard is dik oor sy gesig en net sy neus en oë steek uit. Een ding wat Tafelbergie herkenbaar maak, is sy krom hande wat lyk soos afskuwelike kreefkloue. Hy is só onhandig met sy verwronge hande dat hy absoluut geen werk kan doen nie.

Hello Gucci

Gucci is ‘n mooi 20-jarige straatmeisie met ‘n sterk persoonlikheid. Sy dra permanent haar elegante, noupassende geel Gucci-ontwerpersrok. Dis die enigste rok wat sy het en gelukkig vir haar wys dit haar sexy kurwes die beste en straal haar innerlike warmte uit. Die rok was vroeër ‘n geskenk van ‘n vrou by wie sy huiswerkies gedoen het. En van daar haar naam, Gucci.
Sy is pynlik netjies, met graad sewe agter haar naam en brandarm.

“Jy het gesê jy het ‘n broer,” sê Gucci vir Houtkop.
“Ja, Klipkop. Sy kop is só hard soos ‘n klip. Hy’s nie nou hier nie. Hy het gaan tuinklippe haal. Jy en Tafelbergie kan maar sit. Maak julle tuis tussen die stompe, beelde en klippe.”
“Genade! Het jy dit álles gemaak?”
“Ja, ek verkoop baie Madiba-beeldjies. Dit vat net baie lank om te maak.”
“Ek moet sê, jy’s baie talentvol, Houtkop,” koer Gucci.
Tafelbergie kyk na die detail van ‘n beeldjie en vra: “Kan ek een kry, asseblief?”
“Jy kan een kry wat stukkend is. Ek het nie gom om die gebreekte goed te plak nie. Die straatkinders steel my gom om dit te snuif. Hulle is ‘n pes hier rond. Dis daai Gomtor-straatkind. Hy’s deel van die lastige laatnag Skolliepatrollie.”
“Is dit die polieste?” vra Gucci.
“Nee, ‘n straatbende. Klomp lastige kinders. Steel, breek, lieg en grafitti alles. Laataand moeilikheidmakers.”
“Ooooo. Dis ‘n lekker plekkie wat jy hier het.”
“Ja, ek en my broer is lekker bedrywig hier. My stalletjie is net om die hoek in Groentemarkplein. Dié is ‘n lekker stil systraat. Die karre ry nie hier in nie. Daar agter jou is die restaurant se buitetoilet en wasbak. Ons mag dit gebruik. Lekke, lekke.”
“Ek moet sê, dis heel siwelaaized hier,” glimlag Gucci.

‘n Geruime tyd later sit Gucci teen ‘n muur en gee Tafelbergie ‘n wilde kyk met haar groot, blink katoggies en sug, want sy is besig om vele groot gate in sy onderbroek heel te maak.
“Jy moet vir jou nuwe onderbroeke by die tweedehandse onderklerewinkeltjie gaan kry. Ai, hoe het ons so in die armoede weggesink?” sug sy en skud haar stywe bruin bokstertjies.
“Hmmm, jy doen ‘n bietjie naaldwerk. Ek sien jy’s in ‘n goeie luim vanmôre,” sê Tafelbergie opgeruimd.
“Wat is ‘n luim?”
“Ek weet nie.”
“Nou hoekom sê jy dit dan, jou stuk skuim.”

Gucci is ‘n handvol. Sy is jonk, vol energie én bekkig. Daarby vind ál wat ‘n bergie is haar vreeslik sexy. Veral as sy haar mooi bene glad skeer of as sy vooroor buk, haar boudjies in die lug, om haar lang hare in ‘n ou emmer water te was.

Die onhandige Tafelbergie bring die mooie Gucci ‘n blikbeker koffie. Sy krom hande bewe effe en hy laat val die warm koffie voor haar op die grond.
“Verduiwels! Die emosionele pyn wat ek elke dag moet verduur om saam met jou en jou belaglike gebrekkige hande gesien te word!” verkleineer sy haar bergie-boyfriend. “Ek kan nie langer so saam met jou leef nie. Jy moet daai sangoma gaan sien, sodat sy jou hande kan reg toor.”
“Ja, ek dink dis tyd,” beaam ‘n verleë Tafelbergie.

Die bergies dra elke dag dieselfde klere en Gucci moet alle stukkende kledingstukke gereeld regmaak.
Bossie dra ‘n donkerblou sweetpak met wit wolkies op, wat hom selfs méér in die wolke laat voorkom.
Sakkie Papsak dra altyd bruin, sakkerige klere.
Houtkop dra meestal groenbruin weermagklere.
Klipkop dra altyd ‘n rooi mussie, rooi trui en swart langbroek.
Gucci dra natuurlik altyd haar geel Gucci-rok.
Tafelbergie dra ‘n groot, donker jas met lang moue om sy krom hande weg te steek. Daarby dra hy twee verskillende verslete draftekkies: ‘n ou Nike aan die linkervoet en ‘n Puma aan die regtervoet. Soos hulle sê, ‘n boemelaar moet maar vat wat hy kan kry.

Bossie skinder van Houtkop by Tafelbergie

“Tafelbergie,” waarsku Bossie, “jy moet oppas vir Houtkop en jou oë oopmaak. Hy na-aap alles wat jy doen. As jy nice skoene dra, moet hy ook nice skoene dra. As hy dit nie kan kry nie, sal hy dit beslis van jou steel.”
“Ja, man,” antwoord Tafelbergie. “Ek hoor jou, ou pêl.”
“As hy nie iets kan kry wat beter is as jou goed nie, sal hy jou goed vat en breek. Dis jaloesie wat so maak. Hy dwing jou om sy vriend te wees, net sodat hy jou kan gebruik. En binnekort steel hy nog jou girl óók.”
“Ag, Bossie. Dit sal nooit gebeur nie.”
“As sy swart gesig donkerrooi raak, is dit jaloesie. Dis dán wat hy só kwaad raak en jou begin verneder. Hy sal jou beste vriend wees vir ‘n week en dan eendag uit die bloute is hy jou grootste vyand. Jy moet jou man staan.”
“Jy is reg,” sug Tafelbergie swaar.
“Houtkop is baasspelerig,” gaan Bossie voort. “Hierdie is sý territory. Jy moet ligloop vir ‘n man met ‘n byl. Jy sien hoe loer hy en sy broer vir Gucci.”
“Ja, ek weet hulle eye haar.”
Dis seker die meeste wat ek nóg met hierdie daggakop gepraat het, dink Tafelbergie. Só baie waarheid in ‘n paar sinne.
“Bossie, jy moes sielkunde gaan swot het.”
“Julle dink my brein skakel af as ek gerook is, maar my oë is oop. Ek sien álles. Jy beter vinnig agter die kap . . . van Houtkop . . . se byl kom,” maan Bossie hom terwyl hy rook.
“Hoe praat jy dan nou?” wil Tafelbergie weet.
“Jy moet jou omstandighede verstaan en leiding neem,” sê Bossie en trek dié keer nóg dieper in.
Dan voeg hy by: “Hier is . . . onheil . . . aan’t broei, my broe.”
“Bossie, ek is besig om jou te verloor,” sê Tafelbergie bekommerd. “Jy raak nou alwéér té gerook.”
“Nee, maar . . . hierdie daggazol . . . raak nou . . . lekker bedonnerd.”
Bossie raak vinnig dikgerook reg voor Tafelbergie se oë.
Hy staan ‘n tree of twee nader, waai sy een hand voor Bossie se gesig en dink: Hy registreer niks meer nie. Daar gaan niks in sy brein aan nie. Dis asof die wind deur sy leë kop waai. Dalk het sy gerookte brein eenvoudig afgeskakel. Ai, Bossie is beslis op sy gelukkigste wanneer hy gerook is.

——000000——


(Hoofstuk 7) – Dis veilig in die Bomb Shelter

Voor sonop is die Skolliepatrollie almal by die Bomb Shelter. Dis wat Jak Skobbejak hul blyplek noem.
Die sogenaamde Bomb Shelter is ‘n groot beton kluis met ‘n oop deur. Alles rondom hul blyplek is net ‘n rommelhoop bakstene en ‘n paar mure van ‘n bank wat voorheen op die perseel was. Natuurlik was daar geen geld in die ou betonkluis toe Jak Skobbejak die eerste keer daar ingestap het nie.
Tog is die kluis, van sowat vier meter lank en breed en twee meter hoog, stewig gebou en kan dit die woeste Suidoostewind en Kaapse storms hanteer. Vir die Skolliepatrollie is dit tans die veiligste plek vir hulle in die stad.
“Jy’s terug!” sê Jak Skobbejak vir Charlie Tjankbalie. “Dis verbasend ongelooflik!”
“Ja, maar waar is die arme Trish Trash?” huil Charlie Tjankbalie. “Het Monsterkloue haar gevang?”
“Moenie worry nie, Charlie,” lag ‘n vriendelike dogtertjiestemmetjie.
“Trish!” skree almal opgewonde. Hulle hardloop op haar af en omhels haar.
“Ons dag ons sien jou nooit weer nie,” glimlag Jak Skobbejak.
“Dit was so hittete, maar Monsterkloue kon my nie kry nie.”
“Sjoe, ek kan nie vir jou sê hoe bly ek is om jou weer te sien nie!” borrel Jak Skobbejak.
Trish Trash stap nader aan Jak Skobbejak en klap hom kliphard deur die gesig. “Jy het my in die middel van nêrens gelos! ‘n Kêrel is veronderstel om sy meisie te beskerm! Altyd!”
“Dit was donker. Dit het gereën. Dit het geblits.”
“Jy het ‘n flits.”
“Die flits is stukkend.”
“Ja, soos my hartjie,” snik Trish Trash. “Jy het my hart gebreek, Jak. Ek het géén liefde meer vir jou oor nie.”
“Ek is verantwoordelik vir die hele Skolliepatrollie se veiligheid,” verduidelik Jak Skobbejak. “Ek kan nie heeltyd oor my skouer kyk om te sien of jy nog agter my is nie. Ek moet vóór my kyk as ek hardloop. Wil jy hê ek moet val en my nek breek? Huh?”
“Ag, Jak! Dis puntloos om met jou te stry! Wat het ek gemis terwyl ek weg was?”
“Wel,” kerm Vuilbek Vuilgoed. “Gemors Jors het ‘n stuk seep in my mond gedruk.”
“Miskien probeer hy vir jou iets sê, Gemors Jors.”
“Moenie oor mý bekommerd wees nie,” huil Charlie Tjankbalie. “Ek was óók alleen agtergelaat. Ek het dit self, op my eie, teruggemaak tot hier.”
“Ons is só bly jy is veilig terug, Tjankbalie,” kondig Jak Skobbejak sarkasties aan. “Ons het jou babahuilery verskriklik gemis.”

Jak stel Tikkoptikster voor aan Trish Trash

“Wie is die blondekop?” vra Trish Trash.
“Dit is Tikkoptikster,” verduidelik Jak Skobbejak. “As ons nuwe maatjie nie minder gaan tik nie, sal sy nie haar 11de verjaardag sien nie. Tik is erg sterk en dit vreet reeds haar brein. Ongelukkig besef sy dit nie, want sy is al te dom gerook.”
Ál wat die blondekoppie Tikkoptikster geniet, is tik-tik-tik. Pypieswaai is haar lewe.
Jeugmisdadigers was meestal deel van die Skolliepatrollie, so Trish Trash het dit nie eintlik vreemd gevind dat Tikkoptikster nou ook deel is van hul bende nie. Sy stap nader om beter met die tikkoppoppie kennis te maak.
“Hallo. Ek is Trish Trash.”
“Goed vir jou!” lag die selfvoldane tikkoppie. “Ek het gehoor ‘n vreesaanjaende monster het jou gevang en jou toe weer gelos omdat jy nie die moeite werd is nie.”
“Ek het van hom ontsnap. Daar is ‘n verskil.”
“Ek stry nie. Ek noem dit maar net. Toevallig het Jak Skobbejak jou óók gelos. Seker omdat jy trash is.”
“Hy het my alleen gelos in die middel van die stad en nou het ek hóm gelos.”
“Wel, hy het jou éérste gelos, Trash Can. En dit maak jou ‘n loooooser.”
“Dis Trish Trash. Sjoe, maar jy’s lekker getik in jou kop,” reageer sy kwaai.
Sy tik-tik-tik met haar vinger op Tikkoptikster se voorkop en spot: “Jy’s só onintellektueel.”
“Wat beteken dúht?”
“Jy’s ‘n dom blonde, dommie.”
“En jý is ‘n stuk vuil gemors soos Gemors Jors en so vuil soos Vuilbek Vuilgoed, jou flippen flêrrie!”
Charlie Tjankbalie sien hoe die twee meisies mekaar rondstamp. Hy huil onverpoos voort, want hy is té jonk om te verstaan waaroor hulle stry.

Tikkoptikster

Later die aand raak die weer mistroostig. Alles is vaal en grys. Selfs die blou lug is vergrys met verdonkerde donderwolke. Dit wil reën, maar dit reën ook nie.
“My hande is dom van die koue,” sê Trish Trash.
“Daai wolke lyk soos reën,” sê Vuilbek Vuilgoed.
Soos blits begin dit reën en enkele oomblikke almal is die hele Skolliepatrollie sopnat.
Terwyl hulle laat spaander na die Bomb Shelter, grap Jak Skobbejak: “Laat weet my volgende keer as jy wolke sien wat lyk soos klippe!”
“Genade!” skree Vuilbek Vuilgoed. “Dit reën ou meide met knopkieries!”
“Dink jy Monsterkloue jag weer straatkinders vanaand?” kerm Gemors Jors.
“Nee. Dit reën te veel. Hy sal nie uitkom as dit só erg reën nie,” reken Jak Skobbejak.
Die Skolliepatrollie maak dit tot by die Bomb Shelter en staan en koudkry terwyl die suidooster woes en wild waai.
Natuurlik is dit verstaanbaar dat klein kindertjies bang is vir monsters wat wegkruip in donker hoekies. Wanneer dit egter beurtkrag is, is dit pikdonker – nie ‘n enkele straatlig brand nie. Net hier en daar verhelder motorkarligte by tye die Bomb Shelter.

“. . . en al wat jy sal hoor, is die gekraak van jou ribbes soos die groot kloue jou papdruk,” vertel Jak Skobbejak ‘n grootoog Tikkoptikster. “Jou ribbes sal sommer deur jou binnegoed steek.”
Sy vryf oor haar magie en vou haar arms beskermend rondom haar bors. Dit voel skielik nóg donkerder rondom haar. Rou vrees en verwarring klou aan haar verstrakte gesiggie. Tikkoptikster is nou só bang gepraat, sy kan amper nie asemhaal nie. Trane begin haar oë vul. Sy voel erg angstig.
“Wat doen jy?” skel Jak Skobbejak. “Is jy alweer besig met iets onverantwoordeliks?! Ek het nie tyd vir gomtorre wat heeldag pypie swaai nie!”
“Ek móét nou ‘n bietjie tik vir my senuwees, Jak.”
Jak Skobbejak is meestal komkommerkoel in stresvolle situasies. Hy het nooit nodig om iets te drink of te rook nie.
Dis ‘n rillerkoue aand en so donker soos die dood.
‘n Bewerige Tikkoptikster laat val haar tiklollie.
Net nie dit nie, dink sy. Waar is my gunsteling-pypie nou?

Tikkoptikster sal haar lewe waag vir haar gunsteling-lollie.
Sy byt haar onderlippie bewend stukkend en proe bloed.

Later die aand, terwyl die Skolliepatrollie soet saam slaap, gaan soek Tikkoptikster vir haar ‘n splinternuwe lollie.
Die drang in haar na haar gunsteling-stokperdjie is groot en sy verlaat vreesloos die relatiewe veiligheid van die Bomb Shelter.
Sy stap teen die bult af in die rigting van ‘n nabye brug, waar Tollie altyd beskikbaar is met ‘n nuwe lollie.
Halfpad op pad na Tollie gryp Monsterkloue haar kleine lyfie in sy ystergreep vas.
Tikkoptikster spartel verwoed, maar tevergeefs. Haar dringende drang om haarself bo alles te beveilig, is nie genoeg nie. Kan haar klein hartjie soveel skok hanteer? Monsterkloue is besig om haar letterlik stukkend te druk en sy voel hoe die lewe uit haar klein lyfie tap.
Die angsgevulde kleintjie voel meteens nóg vele hande op haar lyfie.
Monsterkloue is nie alleen nie. Sy kannibaalvriende het ook in die fees kom deel.
Terwyl haar lewe uit haar gebroke lyfie vloei, voel sy soos ‘n wildsbokkie wat deur ‘n pak honger leeus opgevreet word.
Ta-ta-taah!

——000000——


(Hoofstuk 8) – Vlooie & Kietsiekat

By Loser’s Paradise slaap die bergies laat op erg vreemde plekke en maniere.
Houtkop slaap gemaklik in ‘n oop doodskis wat hy vir homself gebou het.
Klipkop slaap op die grond, met sy kop wat op ‘n klip rus.
Bossie slaap in ‘n hoop ou, vuil, stukkende klere.
Sakkie Papsak lê in ‘n stukkende kruiwa, sy arms en bene hier, daar en oral.
Tafelbergie en Gucci deel ‘n stukkende, erg gevlekte matras en lê onder ‘n groot Afrikapatroon-lappieskombers.

Dis skuins voor elfuur en uiteindelik is almal uiteindelik wakker. Vlooie, Houtkoop se maer optelhond, lê met sy kop luilekker en bak op haar skoot. Sy haal die vlooie een vir een van sy maag af.
“Wat is dié?” vra sy. “Is dít ‘n bosluis of jou tietie, Vlooie?”
Sy pluk daaraan en die brak gee ‘n omgekrapte tjank. “Dis ‘n tietie! Is dit dan ‘n wyfie? Ek dag dis ‘n mannetjie.”
“Dis die lelikste straathond wat ek nóg gesien het,” lag Tafelbergie.
“Houtkop, Vlooie is vol vlooie,” kerm Gucci.
“Hulle sal afval wanneer Vlooie begin hardloop,” verduidelik Houtkop, skynbaar slim.
“Wel, ek het amper ál die vlooie afgehaal. Dan is Vlooie vlooiloos.”
“Is jy nie veronderstel om die vlooie dood te maak nie?” vra Houtkop fronsend. “Jy gooi hulle almal op slapende Klipkop! Hy is al klaar besig om homself wakker te krap! Jou dom vroumens! Die vlooie is nou-nou weer op Vlooie,”
“Ag, hou jou bek, jou houtkop!” skel Gucci.
Vlooie skram weg van Gucci, want eintlik is sý die een wat hóm vlooie gee.

Dis moeilik om só ‘n lelike hond lief te kry, dink Gucci. Houtkop gee Vlooie net kos en geen liefde nie. Nou is Vlooie oud en heeltyd knorrig. Dit lyk of hy met die lelike stok geslaan is. Sy bek is skeef en hy kwyl oor alles.

Voertsek is Houtkop se ander straatbrak. Daar is 7.5 miljoen honde in Suid-Afrika, waarvan dié gebasterde swart hond die lelikste is. Hy het skeel oë, een blou oog en een bruin oog wat in alle rigtings staar en oop kolle op sy lyf waar sy hare uitval. Sy lang, skewe tande is skerp en hy byt seer. Hy het ‘n gebreklike gesig, want hy is jare vantevore deur ‘n kar raakgery.
As mense die absoluut afskuwelike Voertsek probeer wegjaag, doen dié brak meestal net die teenoorgestelde.

Tande omruil om beter te kan kou

“My maag is nie lekker nie,” kla Sakkie Papsak.
“Drink nog wyn vir die pyn,” sê Bossie.
“Dit voel asof ek honderde krioelende miere in my maag het.”
“Wil jy hê ek moet insekdoder in jou mond spuit?”
“Nee, dankie, ou Bos.”
“Ek gebruik insekdoder as onderarmsproei. Dit help vir die lastige vlieë en vlooie.”
Bossie gryp die kannetjie insekdoder by Sakkie Papsak en sê: “Sakkie, maak oop jou bek.”
Sakkie mors nie tyd nie en maak sy mond wawyd oop.
“Agge nee, man, Sakkie! Dis mos nie jou tande in jou mond nie! Jy het Klipkop se valstande in jou mond!”
“Rêrig?”
“Ja. Rêrig.”
Sakkie Papsak spoeg die tande in sy hand uit.
Klipkop staan nader, haal slymerige valstande uit sy mond en sê: “So, dan is dié jóú tande, Sakkie?”
“Nee, dis Gucci se tande,” lag Sakkie Papsak.
“Ek wou sê die tande voel so bietjie losser vandag.”

Skielik staan ál die bergies nader, haal hul slymerige valstande uit en ruil dit onder mekaar uit. Dis ‘n slymerige, onhigiëniese, naarmaak storie, maar hulle is al gewoond daaraan. Dis immers nie die eerste keer dat dit gebeur nie en ook nie die laaste nie. Voordat die groep bergies gaan slaap, gooi elkeen van hulle hul valstande in ‘n groot fles water, net om die volgende oggend die verkeerde tande uit te haal en te gebruik.

Ontbyt: Duif en eekhoring

Nes in die Steentydperk kap Klipkop klippe teen mekaar en ‘n vuurtjie kom aan die gang vir hul ontbyt. Ontbyt is ‘n keuse tussen mak stadsduiwe en vetgevoerde Kompanjiestuin-eekhorings.
Ná die heerlike ontbyt gryp Sakkie Papsak sy blink papsak en laat waai. Hy is glad nie skaam om vir almal te wys hy is ‘n ernstige drinker nie.
Rihanna se treffer “We found love in a hopeless place” speel salig in sy kop. Sakkie Papsak se tong raak vinnig lam van sy sterk drank en gou begin hy onduidelike sleepwoorde te uiter.
“Gucci, jy-huh trek jou panty reg voo muh uit. Skaam djou. Wha-wha hoe-hoe ekke vatte nogge slukkie en dan gee jy my ‘n lêkke oggenddrukkie.”
“Raak aan my en ek gee jou ‘n vuil klap!” waarsku Gucci. Sy trek haar stywe Gucci-rok reg en maak gereed vir die dag.
“Hou nou op drink, man! Jy raak nou vervelig!” kla Gucci.
“Ek raak smóórverlief as ek dronk is,” verklaar Sakkie Papsak sy liefde vir haar. “Die mond van ‘n dronk man praat die waarheid. Hie-hie-hie!”
Gucci staan effens terug, net in geval die dronkie op haar wil leun en per ongeluk haar rok aftrek.
“Ghoochie choo. Djy lyk sjheksie. Gie my sjoooen!” mompel die mampadda en gryp Gucci aan haar rok.
“Los my uit, jou suiplap!” skree sy en stamp hom dat hy dáár trek tussen sy versameling leë bottels.

Kietsiekat

Gucci het ‘n straatkat, genaamd Kietsiekat.
Die kat is alewig in die pad en stamp gedurig Houtkop se maskers en beeldjies om.
“Jy beter jou kat in toom hou,” waarsku Houtkop Gucci met ‘n skerpgemaakte beitel in sy hand.
Kietsiekat het hom al ordentlik seer gekrap. Haar katnaels is soos ‘n katdoring in sy vlees.
“Jou kat is onhanteerbaar, ongedissiplineerd en sy bring nie die bal terug nie.”
“Want sy is ‘n kat, jou stupid.”
“Dom kat! Hoe laat jy ‘n kat blaf?”
“Katte kan nie blaf nie, man!”
“Ja, hulle kan. As jy petrol op haar rug gooi en haar hare brandsteek, sal sy vir seker wóéf maak!” lag Houtkop.
Hier by Losers Paradise kan Kietsiekat nie kaatjie van die baan wees nie, want Vlooie en Voertsek hou haar gereeld dop en maak gereed om haar te jaag.
Kietsiekat blaas katterig vir Vlooie en Voertsek van waar sy parmantig op Houtkop se skrynwerkerstafel sit. In die proses stamp sy ál sy Madiba-beeldjies om.

Die gemiaau en kattekerm irriteer Houtkop erg. Hy gee ‘n harde fluit sodat sy honde die armsalige kat moet uitlos.
“Jy moet jou honde vasmaak!” skel Gucci.
“Hulle is hier vir ons beskerming.”
“Beskerming teen wie?”
“Daai lastige laataand-straatkinders. Ons sal nog van hulle almal ontslae raak.”
Houtkop is nie baie mal oor die kat nie. Gucci het hom belowe Kietsiekat sal die rotte weghou. Maar hy weet nie so mooi nie, want sommige van die rotte in Losers Paradise is groter as die verdomde kat.
Houtkop lei aan allurofobie – ‘n vrees vir katte. Kietsiekat krul aandagsoekend om sy bene en hy gril tot in sy graf.

——000000——


(Hoofstuk 9) – Madelief die Grypdief

Jak Skobbejak het nou genoeg nare Monsterkloue-ondervindings beleef. Die middernagtelike straatkinderjagtogsessies hou nou al maande lank aan. Niemand treur oor straatkinders as hulle verdwyn nie. Mense op straat ignoreer hulle, maar nou het dit tyd geword dat Jak Skobbejak vir almal wys hoekom hy ‘n skobbejak is. Hy sal sterker leiding moet neem en probeer uitvind waar die bloeddorstige kannibaal-bergies bly.

“Moenie bekommerd wees nie. Ons is doodveilig,” sê Jak Skobbejak positief.
Die straatseun Gomtor wonder hóé veilig is doodveilig, veral aangesien die woord “dood” in het.
“Julle moet net vinniger hardloop,” verduidelik Jak Skobbejak verbeeldingloos, want hy het self nie ‘n plan van aksie nie.
Dit maak nie saak wát ons doen nie, dink Jak Skobbejak. Monsterkloue sal ons álmal vang.
Die straatkinders voel bedreig. Selfs Jak Skobbejak kan hulle nie eens teen Monsterkloue en sy trawante beskerm nie.

Gomtor hou baie van sterk gom snuif, want dit gee hom sterk hallusinasies. Sy bruin hare is seker blond, reken Jak Skobbejak, want dis só vuil. Jak Skobbejak gril terwyl hy Gomtor aangluur, want die stomme seuntjie krap aanhoudend sy jeukerige, seerbedekte gesig.
Sy suster, Madelief die Grypdief, se hande begin bewe en haar oë rek altyd pieringgroot wanneer sy ‘n beursie of geld sien. ‘n Beursie wat bultrug staan, is net vol strokies en nikswerd kleingeld. Dun, slap leerbeursies is altyd ‘n wenner, veral as hulle langs plat slimfone op koffietafels lê en vir haar uittartend koekeloer.
Jak Skobbejak neem aan as Gomtor en sy suster saamstap, sal sy groepie effe groter lyk.
Madelief die Grypdief het ‘n skelm gesig en is erg vlugvoetig, veral wanneer sy mense se beursies steel.
Sy is ‘n aanwins vir die Skolliepatrolle, want sy bring geld in en is seersekerlik rats genoeg om van Monsterkloue te ontsnap.

Die geniepsige reën begin weer uitsak, wat natuurlik beteken minder mense op straat . . . en minder beursies om te steel.
Gou is die hele Skolliepatrollie so nat soos versuipte rivierrotte en erg geïrriteerd.

Vuilbek Vuilgoed is weereens besig met vuilspel. Hy lag vir ‘n middernagtelike munisipale straatskoonmaker en skop sy vuilgoeddrom om.
Die armsalige ou skoonmaker vloek en skree en probeer hom vang, maar die ongeskikte klein karnallie is eenvoudig te vinnig vir hom.
Trish Trash skud haar kop vir die stout kind en wonder of dit sal help om ‘n stuk seep in Vuilbek Vuilgoed se vloekende mond te forseer.
Charlie Tjankbalie is aan die huil, want hy kry die skoonmaker, wat nou ál die gemors moet optel, erg jammer.
‘n Gaskannetjie sigaretaansteekvloeistof rol uit tussen ál die rommel.
Gomtor sien dit, draf vinnig nader, gryp dit en hardloop laggend saam met sy maatjies weg.
‘n Tydjie later staan Gomtor teen ‘n vuil baksteenmuur, hou die kannetjie voor sy neus en spuit die laaste bietjie sproei voor sy gesig uit en asem dit diep in.
Nou draai sy kop behóórlik.
Jak Skobbejak is bekommerd oor Gomtor. Hy kan sien ál die gomsnuiwery het negatiewe effekte op die mannetjie. Sy spraak is aangetas, hy is kort-kort naar en hy het hewige niesaanvalle van te veel giftige dampe. Die outjie het selfs ‘n paar lelike sere onder sy neus en oë.
Enigiets wat sterk ruik, sal hy opsnuif. Binne ‘n dag snuif hy die dampe van ‘n kannetjie petrol, ‘n houer thinners en ‘n spuitkannetjie deoderant en dan bly hy hoog in die wolke vir ‘n dag of wat.
Jak Skobbejak raak nou moerig vir die onverantwoordelike outjie. Dis al ná middernag en hulle weet dis amper weer Monsterkloue-tyd.
Sy gedagtes is nog nie eens uit sy kop nie of, nes hy gedink het, daar verskyn Monsterkloue, in ál sy glorie. Jak Skobbejak is egter die enigste een van die Skolliepatrollie wat die ding al gewaar het.
Gevul met erge vrees sak Jak Skobbejak stil-stil teen ‘n muur af en maak hom só klein as wat hy kan.
Hy reken dit sal nie ‘n groot terugslag vir die Skolliepatrollie wees as Gomtor vanaand Monsterkloue se slagoffer raak nie. Monsterkloue sal hom eintlik ‘n guns bewys.
Gomtor sien Jak Skobbejak teen die muur hurk en wonder wat met sy leier aangaan.
Hy kyk op en sy oë rek pieringgroot. Die gom-bedwelmde knapie sien Monsterkloue op hom afstorm. Hy wip soos hy skrik, maar ruk homself vinnig reg, gryp sy spuitkannetjies en spuit dat dit bars, asof hy ‘n groot monsteragtige insek probeer doodspuit.
Dis egter als tevergeefs. Monsterkloue gryp die brawe Gomtor vinnig soos ‘n wrede roofdier en verdwyn voordat die ander eers kan besef wat gebeur het.

Charlie Tjankbalie skree-huil. Hy kan nie meer sy oë oophou van ál die hartseerhuil nie. Van ál die konstante konsternasie begin hy rondspring uit pure frustrasie.
Die gewoontemisdadiger Madelief die Grypdief begin ook hard te huil, want haar alewig-snuifende boetie is ewe skielik skoonveld.
Trish Trash huil óók, want sy weet Monsterkloue sal definitief wéér toeslaan.
Wat gaan aan met die verdomde kleintjies? wonder Jak Skobbejak. Dit klink soos ‘n huilmarathon.
Soos ‘n koor huil elke liewe lid van die Skolliepatrollie hoër en hoër.
“Asseblief, julle. Hoekom is julle almal só sensitief?” raas hy intensief aggressief.
Met ‘n uitdrukking van waansinnige woede storm Monsterkloue skielik soos ‘n onkeerbare stoomlokomotief op die grypdief af. En net so vinnig as wat die gedierte opgedaag het, verdwyn hy en sy skreeuende klein slagoffertjie die donker nag in – woep-wap!
En ál wat oorbly, is nie ‘n bloedkolletjie nie, mense, maar ‘n gesteelde beursie propvol geld.
Totsiens, Madelief die Grypdief.

Rubberknuppel

Gelukkig is daar een Kaapse straatseuntjie wat gou bekend geword het as ‘n super straatheld. Almal noem hom Rubberknuppel. Nou, baie van julle mag dalk nou wonder . . . hoekom Rubberknubbel? Wel, die rede is bra eenvoudig. Hy het alle aggressiewe, aanvallende bergies lag-lag met sy vinnige rubberknuppel op hul hel gegee.

In die nag se donker skaduwees sien Rubberknuppel die vreesaanjaende Monsterkloue vinnig naderkom, maar hy is glad nie bang nie. Dié heldhaftige negejarige donkerkop mannetjie is goed voorbereid . . . vir enigiets.
Hy staan gereed en wag vir Monsterkloue met twee swaaiende rubberknuppels, reg om die ding goed hel te gee.
Skielik is Monsterkloue reg bo-op Rubberknuppel. Hy kan nie glo hoe vinnig die gedierte kan beweeg nie. Die ding se spoed is amper bonatuurlik.
Rubberknuppel gee ‘n paar wilde houe na sy aaklike vyand. Ongelukkig is almal mis. Monsterkloue maak sy koue kloue wawyd oop, gryp sy nuutste slagoffer se knuppels en gooi hulle ver die donkerte in.
Die seuntjie skrik groot en sy heldhaftigheid is meteens gekortwiek. Sy beentjies begin onmiddellik te bibber en te beef. Sonder Rubberknubbel se rubberknuppels is sy ruggraat ook maar net vol rubber.
Monsterkloue se kloue omvou die kleintjie geheel en al en voordat ons ons held Rubberknuppel nog ‘n bietjie verder kan leer ken, dra die monster die arme bloedjie vir ewig uit ons verhaal.

Jak Skobbejak reken dat hoe banger die straatkinders is, hoe meer verenig almal in sy bende sal wees om as ‘n span lekker saam te werk teen die vele monsters van die nag. So, kort ná ál hierdie sinlose geweld, sing hy vir die oorblywende kindertjies sy eie tergende Monsterklouebangmaakliedjie:
“Spits jul ore soos jakkalshonde,
luister, bly stil en hou jul monde!
“Hardloop, straatkindertjies, hardloop!
terug na jul rommel-tuiste wat gee hoop.
“Kruip weg in klein gatjies en om vele hoekies,
die ongedierte sien beslis jul bewende broekies.
“Monsterkloue sal jou definitief kry,
dit sal jy ongelukkig nie kan vermy.”

Ta-ta-taah!

——000000——


(Hoofstuk 10) – “Wat ‘n katestrofe!”

“Staan stil!” beveel Houtkop die armsalige Klipkop.
“Vir wat?!”
“Staan net verdomp stil!”
“Wat het jy agter jou rug?”
“Vertrou jy my?”
“Nee.”
“Vertrou my.”
“Nee.”
“Staan stil. Moenie beweeg nie.”
Klipkop staan rotsvas. Hy beweeg nie ‘n haar nie.
Houtkop se hand kom agter sy rug uit en hy gooi sy kortsteelbyl direk na Klipkop se kop. Die byl tol vinnig deur die lug en tref ‘n plank reg langs Klipkop se kop.
“Hey! Is jy mal in jou kop?!” ontplof Klipkop.
“Nee!” antwoord sy broer en lag slu.
“Verdomp! Jy het wragtagwaar die persoonlikheid van ‘n houtstomp!” blaf Klipkop.
“En jý het die persoonlikheid van ‘n klip!”
“Jy’s mal, man!”
“Man, ek wou net sien of ek bloed uit ‘n klip kan tap.”
“Jou vark!”
“Vark schmark! Gucci het gesê jy’s ‘n regte klipkouer.”
“Ek kou nie klippe nie!”
“Wel, sy’t gesê jy’s ‘n kanniedood.”
“Net ‘n kat het nege lewens!”
‘n Kat het nege lewens? wonder Houtkop. Kan dit waar wees?
Houtkop kyk heel geïnteresseerd na Kietsiekat voordat hy na sy moordbyl kyk en prewel: “Hmmm, nege lewens. Ons sal sien.”

Kietsiekat is ‘n katspoegie weg van Houtkop. Die wyfie sit kiertsregop en kyk die man minwetend aan met haar pragtige, blink katogies en gee ‘n liefdevolle “purrrr”.
Houtkop lag vir Kietsiekat. Die kat het nie ‘n kat se kans teen hom nie, want hy gooi nooit mis nie. Hy slinger die byl hard en sekuur na die kat. Kietsiekat word in ‘n oogwink in twee gekloof.
Hmmm, nege lewens, dink Houtkop. Ek het sommer gewéét Klipkop jok.
Die dooie kat lê net ‘n klipgooi ver van Klipkop.
Klipkop raak onmiddellik moerig vir sy broer toe hy bloedspatsels op sy skoongewaste, gesteelde rivierklippe gewaar.
“Offer jy nou katte aan die gode?” wil Klipkop boos weet.
“Wat ‘n katestrofe!” lag ‘n dikgerookte Bossie. “Katjie Kekkelbek is dood.”
Bossie is só erg gerook, hy weet weereens glad nie eintlik wat aangaan nie.
Haar gesig asvaal van skok, begin Gucci Houtkop soos ‘n straathoer te skel: “My kat! Wát het jy gedoen?! Jou wreedaard!”
‘n Sagmoedige Sakkie Papsak kom nader gestap, hou sy papsak in Gucci se rigting en vra saggies: “Wyn virrie pyn?”
Tafelbergie staan nader en hou sy Gucci simpatiek vas.
Hy wil hê sy moet ophou skel, want hy weet Houtkop is kort van draad en hou baie van byl gooi. Tafelbergie wil Houtkop beslis nie konfronteer nie. Houtkop het armer en swaarder as Tafelbergie grootgeword. Hy was beslis reeds baie langer op straat as sy mede-bergies. Die straatlewe verander ‘n mens. Dit maak jou hard en koud.

Vinnig braai Houtkop die voorlyf en agterlyf van Kietsiekat oor die kole en die katvleis raak gou gaar.
Tydsaam en tergend proe-proe Houtkop ‘n stukkis vleis van Kietsiekat se ribbes. Om alles nóg erger te maak, maak hy katgeluide om te beklemtoon hóé lekker sappig die katvleis proe.
“Wil jy die kat se oë hê, Gucci?” terg Houtkop. “Ek sal ‘n katboud vir Klipkop gee en die stert vir Bossie.”
Gucci se oë is steeds dik gehuil. Sy staan langs Tafelbergie en dié sê ook nie ‘n woord nie.
“Jy gaan kat skiet as jy die kat eet,” waarsku Sakkie Papsak hulle. “Ek ken van kots.”
Houtkop vreet byna die hele gebraaide kat op. Terwyl hy in Gucci se oë kyk, suig hy die kat se oë uit en kou die ribbetjies morsig stukkend. Hy bied vir Gucci ook aan. “Ek sal met jou deel, Gucci Gucci Gooh. Dis nog lekker warm.”
Woordeloos gluur Gucci die afskuwelike troeteldiermoordenaar aan.
Die wreedaard verlustig homself aan die katvleis en krap kort-kort stukke vleis met ‘n katribbetjie tussen sy valstande uit.
Houtkop dink hy is die kat se snorbaard. Hy hou Kietsie se afgesnyde snorbaartjies bo sy lip en spot in ‘n fyn stemmetjie in Gucci se natgehuilde gesig: “Miaau! Kyk, julle! Ek is ‘n klein kietsiekatjie!”
Die dikgerookte Bossie is die enigste bergie wat lag.
“Ek kannie meer kyk nie,” huil Gucci in Tafelbergie se trosende arms.
“Elke hond kry sy dag,” sê Houtkop kripties. “Vandag is jou dag, Vlooie, want
jy verjaar.”
Vlooie wonder hoekom hy nou ‘n stuk gebrande kat moet eet.
“Staaadig nou, Vlooie,” waarsku Houtkop. “Haastige hond verbrand sy mond.”
“Aitsa!” sê Klipkop. “Kyk hoe lekker eet hy. Hy is dol oor vars-gebraaide kat.”
“Hy eet só dol, dit lyk my hy het hondsdolheid!” lag Bossie.
Vlooie, met sy afskuwelike skewe tande, kan nie veel raakbyt nie en kou maar meestal mis.
Voertsek blaf skielik.
“En nou, Voertsek?” lag Houtkop. “Daai stoute blaf is aandag soek! Kom hier, Voertsek. Hier is vir jou ‘n lekker kietsiekatpootjie.”
Die arme skeel hond fokus baie moeilik. Houtkop gooi vir hom die katpootjie en soos gewoonlik val die been, doef! bo-op sy kop.

Ná die kattestrofe het Gucci haar aartsvyand, Houtkop, elke dag dood gewens. In haar drome het sy die moed gehad om hom te vermoor.
Die vark, dink sy vol haat. Só onmenslik, ongevoelig en moedswillig. Hoe lekker kry hy nou, want my arme Kietsiekatjie is dood.
Houtkop se gewetenloosheid het Gucci geweldig ontstel. Sy kan die haat vir hom eenvoudig nie wegsteek nie en sweer stilweg sy sal nog sy vuil byl gryp en sy kop afkap.
Ta-ta-taah!

——000000——


(Hoofstuk 11) – Die man met die groot hande

Elke aand teen sononder bid Vuilbek Vuilgoed kliphard dat die son nie moet sak nie, want hy lei aan noktifobie – nagvrees. Hy is doodbang vir die nag, maar ongeag dit, is dit reeds vir hom nag, want Monsterkloue is naby.

Weereens reën dit katte en honde. Vir ‘n oomblik slaan die weerlig met ‘n geweldige lawaai ál die donker weg. ‘n Bewegende swart gedaante kom vinnig nader. Die moedswillige Monsterkloue se vreesaanjaende silhoeët word gewaar. Vrees word in die hele Skolliepatrollie ingejaag.
Met elke weerligstraal is Monsterkloue sowat tien treë nader.
Skielik word Jak Skobbejak deur groot, nat kloue omvou. Die bendeleiertjie skree, maar gelukkig is Vuilbek Vuilgoed in ‘n oogwink daar. Hy pluk hom met alle geweld uit die gedierte se kloue, vloek vreeslik vuil en skree: “Hardloop, Jak!”

Oomblikke later wag die straatkinders ernstig angstig vir die monster om weer sy verskyning te maak. Die atmosfeer raak weer elektries met donderende weerlig in die lug. Hul vreesgevulde gesigte reflekteer uiterste hulpeloosheid.
Dis ‘n nare, grillerige gevoel om te weet jy word dopgehou, dink Trish Trash.
Charlie Tjankbalie raak soos altyd histeries aan die huil terwyl die res van die Skolliepatrollie saamfluister om ‘n veilige wegkomkans te probeer loots.

“Hou julle bekke,” fluister Vuilbek Vuilgoed. “Ek dink ek het iets gehoor.”
Almal is doodstil en spits hul ore.
‘n Naguil maak: “Hoe-hoe!”
Almal skrik en skree en begin weer hardloop. In die gehardloop hardloop die gillende straatkinders in ‘n bebaarde oom met ‘n lang swart jas vas.
Die oom val om en steun en kreun.
“Jammer, Oom,” sê Trish Trash, trek hom hulpvaardig op, skrik groot en vra verbaas: “Hoekom is Oom se hande so groot?”
Ál die kinders staan vinnig nader en kyk verstom na die oom se reuse-hande.
“Het ‘n stoomroller dan oor Oom se hande gery?” wil Gemors Jors weet.
Gemors Jors drink sy waterbottel leeg en gooi dit op die grond langs hom neer.
Die oom grom kwaai, buk af, tel die bottel op, druk dit in Gemors Jors se mond en blaf: “Plastiekbottels moet herwin word!”
Gemors Jors spoeg die bottel kwaad uit en skel: “Ek’s nie ‘n recycle bin nie!”
Jak Skobbejak het ‘n nare gevoel oor dié ou man en trek Gemors Jors aan sy kraag terug voordat die knapie te naby aan hom kan kom.
Voordat die Skolliepatrollie kan besef wat gebeur, trek die oom sy kappie oor sy kop en verander . . . ta-ta-taah! . . . in die gevreesde Monsterkloue.
“Ek het groot hande nodig om klein kindertjies makliker te kan vang,” lag Monsterkloue.
Die grootoog kinders begin soos een te skreeu terwyl drie vinnige donderslae die een ná die ander rondom hulle weergalm.
Dan begin Monsterkloue die skreeuende kleintjies met sy massiewe hande te jaag.

Vyf minute later staan die oorblywende lede van die Skolliepatrollie binne-in ‘n verlate stukkende huis om hul asems te probeer terugkry.
“Monsterkloue is net ‘n gewone ou man met groot kloue,” begin Vuilbek Vuilgoed. “Hy lyk meer soos ‘n boemelaar as ‘n monster. Hoekom is ons só bang vir hom?”
“Jy’s reg,” antwoord Jak Skobbejak. “Hy’s net ‘n man met groot, krom hande. As ons saamstaan en saamwerk, het ons ‘n beter kans ons hom vas te trek.”
Die verskriklik verwaande Vuilbek Vuilgoed vloek vieslike vuil vloekwoorde.
Trish Trash druk haar klein, sensitiewe oortjies toe. Sy wil sommer haar oë ook sluit, want sy is nie lus om in Vuilbek Vuilgoed se skreeulelike gesig vas te kyk nie.
Hoekom is hy deel van die Skolliepatrollie? wonder sy weereens. Ál wat dié vuilbek doen, is vreeslik vloek.
Hy besmet hulle met sy vulgêre taal en trek sy aaklige gesig nóg leliker dat hy elke vloekwoord leliker kan beklemtoon.

Jak Skobbejak wil Monsterkloue vang

“Dit was ‘n simpel besluit,” sê Jak Skobbejak vir klein Charlie Tjankbalie en klap hom deur die gesig. “Jy steek my alwéér in die skande. Ek het vir jou gesê jy staan daar en wag dat Monsterkloue jou vang. Dis dán wanneer ons hóm vang. Verstaan jy? Jy is die lokaas, Charlie.”
“Monsterkloue,” snik Charlie Tjankbalie saggies.
“Eintlik wens ek hy vang jou, want jy’s niks anders as ‘n nikswerd nie,” skel Jak Skobbejak die arme, snikkende seuntjie.
“Monsterkloue!” skree Charlie Tjankbalie.
“Hou jou bek, Charlie!” grom Vuilbek Vuilgoed en vloek vreeslik op hom. “Ons Skolliepatrolie is steeds sterk genoeg om een armsalige monsterklou-boemelaar te vang en op sy hel te-”
En dit was sy laaste woorde.
Monsterkloue gryp Vuilbek Vuilgoed en verdwyn die donkerte in.
Ta-ta-taah!

——000000——


(Hoofstuk 12) – Tafelbergie se hande word getoor

‘n Paar weke voor ál dié onaardighede begin plaasvind het, het Tafelbergie homself laat een aand in ‘n songoma se agterplaas bevind.
Die sangoma, ‘n Xhosa-vrou in haar laat sestigerjare, bly in ‘n enorme uitmekaarval-huis met ‘n massiewe tuin en groot, dooie bome, wat lyk of hulle almal binnekort sal omval. Dis ‘n vuil plek waar net die braafstes dit sal waag en dalk oorleef.
Donker donderwolke hang swaar in die nagtelike hemelruim. Blitse slaan hard en dit dreig om selfs harder te reën.

Tafelbergie is op ‘n ashoop gebore. Hy glo vandag nog hy is ‘n armsalige weggooikind. Hy het krom, gebreklike handjies wat hy meestal probeer wegsteek omdat almal hom altyd as kind daaroor gespot het.
Van kleintyd het die kinders hom Kreefkloue genoem.
Vanaand sal Tafelbergie se lewe en sy hande handomkeer verander. Die sangoma gaan sy verwronge hande toor. Sy kreefkloue sal vir hom ‘n magtige aanwins word en onder dié wat hom vrees, sal hy bekend staan as . . . Monsterkloue.

Tafelbergie en sy vriende staan voor die sangoma met haar geel-gesmeerde wange en voorkop. Sy het ‘n rooi vertikale verflyn oor die brug van haar neus. Onder haar wangbene is blou en wit strepe. Haar rooibruin Afrika-rok het lang moue met gedrukte Robert Mugabe-gesigte op. Sy dra groot reënbooggekleurde krale rondom haar nek. Haar bolyf is bedek met wolfsterte en sy dra ‘n bont Afrika-kopdoek met stekelrige saamgevlegte hare wat soos penne lyk.
Geelbruin riempiestoue vloei spiraalvormig om haar arms terwyl groot koperringe haar dik swart vingers omsirkel. Netjiese metaal ornamente en versamelstukke soos klokkies en skulpies is aan haar rok vasgemaak.

Tafelbergie, Gucci, Bossie en Sakkie Papsak staan rondom die prewelende sangoma se groot swart driepootpot. Met hul hande op ‘n dik stok, roer hulle saam die kokende, slymerige groenbruin brousel, al in die ronde.
Houtkop en Klipkop speel dramaties al vinniger tradisionele Afrika-tromme om die nag van onheil in te seil.

“Bittergal, rotbloed, boomgom, groeipoeier, brandnetels, nagaddergif en towerkruie,” gorrel die sangoma en spoeg sommer ‘n dik slym in die pot.
Dan skel sy die daggakop: “Roer, Bossie! Roer vinniger!”
“Ek roer, Antie! Ek roer!”
“Gooi in die brandnetels – tragia rupestris. Gooi in die tien sentimeter lange wit pendorings van die Acacia Karooboom.”
Die sangoma vryf haar hande manies opgewonde teen mekaar en maak gereed vir ‘n oomblik van waarheid. Haar oë dop om sodat die ander net die wit daarvan kan sien.
Dan begin sy weer onheilspellend te prewel:
“Roer daai pot, tarra-gie, tarra-goe, maggalaai,
woes en dreunend met vreeslike groot lawaai.
O, bose gees, neem ons op ‘n nagreis deur die bos,
om Tafelbergie vir ewig van sy krom hande te verlos!
Gooi nog olie op die warme vuur,
om die vreeslike, erge koue te verduur.
Ons kook met woelige mag en woede,
skop die bruin stof op met jul ou skoene.
Kook die haat en nyt weg met towerkruie,
gooi in brandende rooirissies en opgekapte uie!”
Sy eindig met ‘n crescendo van skril klank wat by haar pruimbek uitspu.

Die verskrikte bergies rondom die driepootpot dra almal kleurvolle Afrika-maskers. Die twee broers speel ál vinniger op hul tromme terwyl die res zombie-dans rondom die vuur.
Die sangoma gooi alles wat hitte gee en brand in haar pot. Sterk geelmosterd, rooibrandrissies, peperwortels, wilde bessies en selfs giftige goggas kry ‘n plek in die towersop.
Hier is groot onheil betrokke om die bonatuurlike kragte uit te lok. Die hatende heksebrousel kook wild en borrelend.
Die toordokter het ‘n groot, breë glimlag van selfvertroue op haar gesig.
“Watse duiwelse goed gooi die ou vrou alles in?” fluister Klipkop vir Houtkop.
“Dis haar staatmakerresep: a recipe for disaster.”
“Eish, my broer. Dit klink disastrous.”
“Ja. Dié antie het sterk toorgoed.”
Met wilde, spontane handbewegings kraai die ou kraai skielik dramaties:
“Spin die nasie,
met my spinasie.
Roer daai kookpot,
tot als stink en vrot.
Sommer vuur en vlam,
sal daardie hande verlam.
Swaai jul arms en julle lywe,
die mengsel raak ál hoe stywer.
Stamp jul voete hard in die sand,
soos ‘n Boesmandans in Afrikaland!”

‘n Onaangename kombinasie bestanddele verander in ‘n borrelende, bonatuurlike brousel, met sterk geneeslike krag. Die vuurdansers maak ‘n wye sirkel rondom die groot, swart pot. Hulle skop stof op soos woelige riëldansers.
Die grootoog sangoma gooi ‘n bietjie doepa in – ‘n wondertoormiddel om haar mag te bekrag. Sy gaan voort en toor Tafelbergie met onheilspellende raaiselboodskappe:

“Klap jul hande,
kners jul tande.
Tafelbergie hou jou hande oor die pot se rand,
druk dit in die pot totdat dit warm verbrand.
Jou verbrande hande erg seer en opgeswel,
só verskriklik warm soos die vlammende hel.”

Tafelbergie druk sy kreefkloue in die kokende pot en onmiddellik skree hy van die brandende pyn. Hy trek sy rooi hande vinnig uit die kokende brousel. Skielik flits ál die herinneringe terug toe sy ouers se huisie jare vantevore afgebrand het. Hy hoor weer hul geskree soos hulle doodbrand.
Die getoorde voel of hy wil saamskree van sy hande se skielike seer groeipyne. Almal kyk in verwondering hoe Tafelbergie se hande vinnig ál groter en groter groei.

“Volgens my magtige dolos,
word jy van die bose verlos.
Drink my sagoma-towersous,
dié wenresep verdien applous!
Spierwit stoomwolkgees uit die pot,
genees sy krom hande, dit lyk verspot.
Swartrook-drogbeelde omring die groot vuur,
jou voorvaders sal jou meer pyn laat verduur!”

Die sangoma brand towerkruie en asem die rook in sodat sy in ‘n spirituele beswyming verkeer om die boodskap van sy voorvaderlike geeste beter te verstaan.

Tafelbergie vat ‘n groot sluk van Sakkie Papsak se papsak. Binne sekondes begin hy erg te hallusineer.

Die songama ruim vir oulaas hees:
“Hoor ons noodkreet, opperste towermag,
gee sy gebroke hande ongekende krag!
Jou hande is nou soos magtige magnete,
nou het jy vele straatkinders vir middagete.
Kindergesiggies is vol wantroue,
oppas – hier kom Monsterkloue!”

Ta-ta-taah!

——000000——


(Hoofstuk 13) – Tygerbergie vs. Tafelbergie

Tygerbergie, ‘n ouerige vrouebergie, het vir meer as ‘n jaar in die Tygerberg-natuurreservaat gebly. Daar het dié erg geplooide vrou van bessies, wortels, wilde turksvye, akkedis, skilpad en tarentaal geleef. Sy is ‘n bosslaper en natuurmens en dra ‘n gesteelde bruingroen natuurbewaringsuniform.
Tygerbergie het uiteindelik moeg geraak van boring Bellville en vir die laaste paar dae bevind sy haarself in die Kaapse middestad.
Sy is net wat Jak Skobbejak nodig het vir sy Skolliepatrollie. Toe hy Tygerbergie die eerste keer sien, wou hy opgooi van haar lelike gesig. Hy kon amper nie na haar kyk nie. Die vrou se tande is só swart, vir die jong bendeleier lyk dit asof sy op ‘n steenkooldieët is. Haar hare lyk takkerig, amper soos ‘n deurmekaar voëlnes.
Aanvanklik het Jak Skobbejak gedink dié vrou is mal, want sy praat gereeld met haarself. Hy het onmiddellik opgelet sy het groot, sterk vuiste en in sy oë maak dit haar reeds ietwat minder van ‘n loser.
Dít het hom aangemoedig om haar te oorreed om deel te raak van sy berugte Skolliepatrollie – ta-ta-taah!
Wat niemand weet nie, is dat ‘n sangoma ook háár hande groter en sterker getoor het – ta-ta-taah!
Sy sal beslis die perfekte teenstander vir Monsterkloue wees, reken Jak Skobbejak – ta-ta-taah!

Een middag word Tafelbergie uit die bloute deur die rondlopende Skolliepatrollie omring.
Hy is egter nie bang vir die klomp skomgatjies nie, maar dan sien hy ‘n vrou tussen hulle en glimlag groot toe hy haar helse hande gewaar.
Sy het 30 sentimeter lange hande nes ek, merk Tafelbergie in sy gedagtes op. Is dit dalk my droomvrou?
“Wie’s djy?” vra Tafelbergie.
“Ek’s Tygerbergie!” skel sy. “Wie wil wiet?!”
“Daai’s ‘n stoepit naam!”
“Djou agtewêreld, man! Wie de hel is djy?!”
“Ek’s Tafelbergie! Ek rule Kaapstad! Hierdie is mý territory!”
“Nie vir lank nie!”
Tygerbergie vat ‘n paar vinnige groot treë nader en skielik staan sy reg voor Tafelbergie. Hy besef hier kom ‘n groot geveg. Instinktief tel albei van hulle hul swaar vuiste verdedigend op.

Die Skolliepatrollie staan rondom die aanvallende boksers en moedig hul Tygerbergie geesdriftig aan.
Die man met die groot hande trek sommer gou Jak Skobbejak se aandag en hy het ‘n sterk vermoede dié bergie is dalk die gevreesde en alombekende Monsterkloue.
“Trek op jou moue en wys ons jou monster kloue!” skree Jak Skobbejak.
“Hy het reuse-hande!” merk Trish Trash verbaas op.
“Ek dink dis Monsterkloue,” gaan Jak Skobbejak voort. “Ek is amper seker daarvan.”
“Tygerbergie sal dié skepsel vermorsel,” skree Gemors Jors nors. “Ek’s lus vir ‘n morsige bakleiery!”
“Moenie baklei nie, julle,” huil Charlie Tjankbalie.
Maar Tygerbergie is die perfekte teenstander en sy wil Tafelbergie so plat slaan soos die berg waarna hy vernoem is.
Tafelbergie sien hoe die vreemde vrou ‘n baksteen optel en dit intimiderend voor hom verkrummel, soos ‘n stukkie bros beskuit.
Dis absolute malligheid, dink hy en sluk swaar. Moet ek rêrig teen háár baklei? Sy lyk na ‘n middelgewigbokskampioen. Dié katwyfie se gebalde vuiste is so groot soos spanspekke. Is sy dan ook deur my sangoma getoor?

Vir opwarming slaan Tygerbergie gou ‘n paar gate in ‘n baksteenmuur agter haar. Niemand op straat sal waag om met haar te baklei nie, want sy sal beslis enigiemand wat probeer seersekerlik beseer.
Die grootvuisboemelaarsboksgeveg tussen Tafelbergie en Tygerbergie begin skielik in alle erns, want Tygerbergie verras Tafelbergie met ‘n reguitlinker in sy verbaasde gesig.
Tafelbergie tol in die ronde, maar vind vinnig weer sy balans.
Bliksem, maar die vroumens kan hard slaan, dink hy geskok. Ek sal meer versigtig moet wees, want sy sal maklik my kakebene en ribbes kan breek.
Wat die ou vrou nie weet nie, is dat die dapper Tafelbergie agt doppe sterk staan, so enigiets is moontlik. Tans sien hy drie Tygerbergies voor hom. As hy mik vir die middelste een, sal hy haar bes moontlik raakslaan. Dis egter moeilik, want as sy rondspring, spring ál drie Tygerbergies rond. Tafelbergie bevind homself op die agtervoet en hou ná hou tref Tygerbergie hom in die gesig. Sy slaan vinniger sy tande uit as wat ‘n tandarts, op sy vinnigste, kan tande trek. Hy wil handdoek ingooi, maar het nie een om in te gooi nie.
Tygerbergie gee hom ‘n harde opstopper onder sy ken. Sy kop ruk agteroor en sy hele lyf lig vir ‘n oomblik van die grond af op. Tyd vries en Tafelbergie hang vir ‘n sekonde in die lug. Dan val hy hard op sy rug neer. Dit lyk na ‘n uitklophou. Die Skolliepatrollie juig hard, want Tygerbergie is hul koningin van die strate.
Die kragmeting is egter nog glad nie verby nie. Met ‘n gesteun en kreun is Tafelbergie weer op sy voete. Ná daai bloedneushou haat hy haar soos slanggif.
“Ek sal djou flenters slat soes ‘n kleipot!” waarsku sy en begin kliphard te lag.
Die Skolliepatrollie raak meer lawaaierig en skree aanmoedigend vir hul Tygerbergie.
Tygerbergie moker Tafelbergie met ‘n pragtige wye linkerhou. Hy steier en val sittend op die grond.
Tafelbergie kreun weer hard en sukkel steunend orent.
Dis die straatgeveg van die jaar.
Hy probeer haar aanvallende houe versigtig systap, maar daar is geen keer aan haar harde vuiste wat op hom neerreën nie. Die ystervuisbergie slaan weer, dié keer met die krag van ‘n honderd gebalde vuiste.
“Jy kan nie ‘n bosslaper om die bos lei nie!” skreelag Tygerbergie.
Uit die bloute begin Tygerbergie se Skolliepatrollie soos een man te dreunsing: “Ystervuiste! Ystervuiste! Ystervuiste!”
Tafelbergie lê op sy rug, maar skraap dan ál sy moed bymekaar en staan strompelend op, reg vir ronte nommer weet-nie-hoeveel-nie.
Hy val verwoed aan en gee ‘n paar harde swaaihoue – almal wild, maar rakelings verby Tygerbergie se kop.
Skielik besef Tafelbergie hy kán dié vyandige vroumens raakslaan. Hy glo hy kort net één harde hou, dan is die sogenaamde Ystervuiste plat. Met leeuemoed begin hy heldhaftig teen sy teenstander terug te veg.
Met ‘n onverwagse steelhou tref Tafelbergie Tygerbergie hard teen die wang. Sy tol om en met ‘n harde reguit hou plant hy haar neus diep in haar lelike gevreet. Haar oë dop om, die knieë wankel en sy val hard neer. Toe sy die teerpad tref, kraak haar swart tande met ‘n harde knal stukkend.
Tafelbergie maak sy rug skielik krom, trek sy hande soos die gevreesde

Monsterkloue en grom onaards wild soos ‘n gevaarlike, aanvallende roofdier.
Die Skolliepatrollie se oë rek soos een wawyd groot. Hulle kan nie glo wat hulle voor hulle sien nie, skree in erge angs en maak hulself vinnig uit die voete.
Ta-ta-taah!

——000000——


(Hoofstuk 14) – Jak Skobbejak volg die verdagtes

‘n Paar dae later stoot Tafelbergie sy winkeltrollie in Langstraat. Sy groepie, Gucci, Houtkop, Klipkop, Bossie en Sakkie Papsak, stap agterna. Houtkop stoot ook ‘n trollie.
Die boemelaars is op pad na hul blyplek aan die bokant van Langstraat.
Langstraat is reg in die middel van die Kaapse middestad. Victoriaanse geboue en winkeltjies is volop in dié karaktervolle straat. Langstraat lok baie toeriste en saans is die nagklubs en kuierplekke gepak.
‘n Hele entjie agter die bergies stap Jak Skobbejak. Hy volg hulle versigtig, want hy wil sien waar hulle bly. Hy wil nie te naby aan die groepie kom en hê dat een van hulle omdraai en hom sien nie.

“Argus! Argus!” skree ‘n straatkoerantverkoper.
“Hey, man!” skree Tafelbergie. “Hou jou bek! Ons is Sonlanders!”
Die Argus-verkoper skree voort. Hy het beslis nie tyd vir ‘n klomp stink sonaanbidders nie.
Verder op in die straat is ‘n oorvriendelike, luidrugtige groente-en-vrugteverkoper.
“Kan ek die dametjie pamperlang, met ‘n perfekte piesang?” vra die man vir Gucci.
“Nee, dankie,” antwoord sy kortaf.
“Is jy bang vir piesang?”
“Nee, ek is bang vir slang,” kap Gucci terug.
“Agge nee, man. Wat van ‘n lekker blomkop vir die donkerkop?”
“Ek wil niks hê nie!” snou Gucci hom toe en trek haar bokstertjies reguit.
“Wat van bietjie vleissop vir die prikkelpop?” rym die growwe ou verder.
“Jou dinges, man! Ek’s g’n jou poppie nie!”
“Nie?! Ek dag jy’s so los soos ‘n druiwetros.”
“Los my vroumens uit!” waarsku Tafelbergie geïrriteerd, “of ek vat daardie pynappel en-”
“Genade, Meneer! Wat van uie vir u buie?”
“Wil jy ‘n appeltjie met my skil?” skel Gucci.
“Ja! Ek verkoop alles vir ‘n appel en ‘n ei.”
“Ag, Gucci, los die hardekoejawel uit,” neul Tafelbergie en kyk die man vuil aan. “Jy kan aartappels in sy ore plant. Hy luister nie vir jou nie.”
“ ‘n Lemoen vir ‘n bedelaar met net een skoen?” vra die verkoper en druk die lemoen in Tafelbergie se gesig.
“Sien jy hierdie groot vuiste van my?!” skel-vra Tafelbergie.
“O, gatta-patta!” skrik die groenteverkoper.
“Dis my appel, dis my peer, dis my kanonne en hulle maak seer,” waarsku Tafelbergie en hou sy swaar vuiste swaaiend nader.
“Ek is nie gepla, ou bra. Vele geelwortel hou my immortal.”

‘n Stortvloed vloekwoorde en skellery vloei uit hul monde, totdat die bergies besluit genoeg is genoeg.
Tafelbergie en Gucci gooi handdoek in en loop verder.
“Lêkke lêkke pere, maak die hare mere!” gaan die verkoper voort terwyl
die kaalkop-broers Houtkop en Klipkop verbydrentel.
“Ons is kannibale,” grom Houtkop met ‘n vrot asem wat skree vir mondspoel.
Die verkoper is onmiddellik spierwit en tjoepstil. Hy het al laatnagstories gehoor van kannibaalbergies.
Die gerookte Bossie en die dronkaard Sakkie Papsak strompel verby en die straatverkoper staar hulle grootoog agterna.

Aan die bopunt van Langstraat is Vredenlaan, wat links uit Langstraat draai. Dis ‘n nou klein straatjie.
Jak Skobbejak, steeds op die groepie se spoor, sien hoe hulle hul trollies voor hul blyplek staanmaak.
So dis hier in Vredenlaan, dink Jak Skobbejak. waar die bergies in skynbare vrede bly. Nóú sal ek en my Skolliepatrollie julle ordentlik kom karnuffel.
Dan rek die Skolliepatrollie-bendeleiertjie se oë groot en hy sien twee halfgeeëte geraamtes in hul blyplek en hy weet onmiddellik – dié bergies is beslis die gevreesde kannibale.
Ta-ta-taah!

——000000——


(Hoofstuk 15) – Monsterkloue vang Gemors Jors

“Jy’s ‘n regte stuk gemors!” skel Jak Skobbejak vir die rommelstrooier Gemors Jors omdat hy altyd vol vuilgoeddromme vandalig omskop dat die vuilgoed dáár trek.
“Wie gaan daai gemors optel?”
Gemors Jors verduidelik: “Monsterkloue sal op die blikke en plastiekbottels trap. Dan sal ons hom makliker hoor aankom.”
“Ons is álmal kaalvoet, jou domkop!” raas Jak Skobbejak. “Wat as een van ons in ‘n stuk glas trap?! Dink ‘n bietjie vir ‘n slag verder as jou lang neus! Orals waar jy gaan, is jy besig om gemors aan te vang!”
Die Skolliepatrollie staan in ‘n donker hoek en wegkruip.
“Toe ek klein was, was ek baie bang vir rotte,” fluister Trish Trash. “Hulle het op my geklim terwyl ek slaap en my dan gebyt en seer gekrap. Maar ek is nie meer bang vir hulle klein kloue nie. Ek is bang vir . . . groot . . . skerp . . . kloue. Kloue!”
“Ja, Trish! Ons het jou gehoor!” antwoord Jak Skobbejak.
“Nee! Monsterkloue!” skree sy en beduie in die rigting van die groot kloue wat ewe skielik uit die donker verskyn.
Almal skree hard en laat spaander.

Later die aand staan hulle weer iewers in ‘n hoekie en bewe van die koue.
“Jy lyk bang,” sê ‘n benoude Jak Skobbejak vir Gemors Jors.
“Ek’s g’n bang nie!” reageer Gemors Jors. “Dis net my broek wat bewe.”
“Ja, maar jou bene bewe óók, so, dit maak van jou ‘n bangbroek.”
“Ag, jy’s net paranoïes!”
“Para-wat?!”
“Jy’s óók ‘n bangbroek!” grom Gemors Jors.
“Daai ongedierte sal jou met alle mag vashou met sy kloue en ál jou ribbes stukkend druk.”
“Jak, jy het gesê Monsterkloue is net ‘n bergie met groot hande.”
“Bergie, bedelaar, boemelaar, bosslaper, dieselfde ding!”

Geduldig wag die monster vir sy prooi. Hy is ‘n venynige, doeltreffende jagter. Sy jagterrein het geen grense nie, maar het ongelukkig gans te veel wegkruipplekke vir straatkinders.
Monsterkloue is reg agter die Skolliepatrollie en grom diep in sy keel, maar die kinders is salig onbewus van sy teenwoordigheid.
Skielik hoor hulle ‘n vreemde stem van ‘n ouerige oom wat sê: “On Fried-day Monster Claws eat fried meat. On Chews-day Monster Claws chew raw meat. What day is today?”
“It’s Chews-day!” antwoord Gemors Jors verskrik.
“That’s right! Chews-day, to eat raw meat and fresh little children!” brul Monsterkloue, maak sy lang vingers so krom soos kloue, gryp Gemors Jors om die bors en verdwyn met hom soos blits.

Later die aand is Jak Skobbejak alleen na Losers Paradise.
Hy kruip weg agter ‘n hoop ou planke. Tot sy erge skok sien hy hoe die kannibale die arme Gemors Jors opvreet.

Monsterkloue, die middernagtelike jagter, het aandete gebring.
Soos ‘n bloeddorstige pak honger leeus bespring ál ses bergies die kleine Gemors Jors. Vinnig word sy klere van sy lyf geskeur en stukke vleis uit hom gehap en gesny.
Die lawaaierige gevretey bestaan meestal uit ‘n gebyttery, ‘n gehappery, ‘n gesmullery, ‘n gekouery en ‘n gesluk.
Gemors Jors raak binne net ‘n paar oomblikke net ‘n hopie bloederige bene.
Wat ‘n liederlike kannibaalfees, dink Jak Skobbejak.
Sy oë rek pieringgroot. Hy kan nie glo wat hy sien nie. Die hele toneel word op ‘n onmenslike, onvergeetbare en uiters wrede manier uitgebeeld.
Die bloedlustige bergies se gesigte, lywe, arms en hande is besmeer met druppende, warm bloed.
“Hmm! Njammies!” smul Gucci en lek haar bloedbesmeerde vingers af.

Kyk hoe lekker vreet die mensvreters, dink die hongerlydende Jak Skobbejak.
Ek kan nie glo hulle vreet die gemors van ‘n Gemors Jors nie. Gemorskos sou vir seker baie beter geproe het.
Hy sien twee aaklige honde baklei oor ‘n stukkie Gemors Jors-vleis.
Dis tyd dat ek soos ‘n skobbejak begin optree, dink Jak Skobbejak.
Die Skolliepatrollie se werk is juis om seker te maak dat die strate veilig is vir straatkinders.

Jak Skobbejak is hewig ontsteld, al het hy ’n vermoede gehad Monsterkloue en sy bergie-vriende is mensvreters. Hy het egter nooit kon droom hulle kan só wreed wees nie.
Sy oë is dik gehuil. Hy het nou meer as genoeg van die euwel daad gesien. Jak Skobbejak se moed is gebreek en is raadop hoe om van die bloeddorstige kannibale ontslae te raak.
Hul veragtelike, onmenslike, skandalige dade sal nie ongestraf bly nie, dink Jak Skobbejak woedend. My Skolliepatrollie sal hulle met woedende weerwraak uit die stad verwilder. Nóú is die tyd. Nóú dat almal trommeldik gevreet is.
Maar sal my Skolliepatrollie glo dié bergies is kannibale? wonder hy.

——000000——


(Hoofstuk 16) – Houtkop maak lewensgroote beeld van Tafelbergie

“My Mandela-houtkopbeeldjies hou wag terwyl ons slaap,” verduidelik Houtkop aan Gucci.
“Jou beeldjies freak my uit as ek uittrek voor ek gaan slaap. Hoekom bedek jy hulle nie saans nie.
“Vir wat pla hulle jou? Hulle het net hout-oë,” protesteer Houtkop.
“Jou brein is ‘n stuk hout,” antwoord Gucci. “Dis hoekom jy nooit kan dink nie. Almal moet altyd vir jou dink en vir jou redeneer. Jy’s afgestomp en so droog soos ‘n stuk bas. Jy’s leeg en koud soos ‘n nat, blaarlose winterboom.”
Houtsneekunstenaar Houtkop kort ‘n bietjie kerfwerk aan sy persoonlikheid. Weereens het hy een van sy houtmaskers op en dis onmoontlik om sy gesigsuitdrukking te lees.

Terwyl Houtkop sy houtbeitels op ‘n oliesteen skerpmaak, loer hy stip vir Gucci.
Dalk kan ek Afrika-patrone op haar gesig uitkerf, dink Houtkop. Glad nie ‘n slegte plan nie.
Houtkop loer na Tafelbergie se groot hande. Gou raak hy jaloers, want dis altyd Tafelbergie wat die kinders die maklikste vang.
Tafelbergie is die jagter wat die kos huis toe bring en die meisie van hul groep, Gucci, behoort aan hom.
Met sy groot hande het Tafelbergie nou ‘n egoïstiese houding en dink hy hy is slimmer en beter as die res van die groep. Dit irriteer Houtkop grensloos, want hý wil die leier van die groep wees.
Hy wil die een wees wat die kinders vang en is moeg daarvan om net die slagter te wees.
Terselfdertyd wil die haatgevulde Klipkop die grootkop Tafelbergie se reuse-hande met een van sy klippe vergruis.

Tafelbergie, merk Houtkop op, is klaar met sy nuutste beeld. Dis ‘n ewebeeld van Tafelbergie. Hy gaan staan langs die lewensgrootte beeld en hou sy groot hande voor hom uit soos kloue, nes die beeld se uitbeelding.
“Sjoe, Tafelbergie! Dit kan djou tweelingbroer weessj,” giggel ‘n besope Sakkie Papsak.
‘n Gerookte Bossie mompel iets. Die res van die groepie kyk vir hom, maar ál wat hulle kan sien, is ‘n groot daggarookwolk rondom sy kop.
Gucci raak ewe skielik kreatief en trek vir die dubbelganger klere aan: ‘n hoed, ‘n vuil hemp, ‘n lang, swart jas, ‘n verslete jean, stukkende sokkies en stokou stowwerige skoene.
Sy staan terug en bewonder haar nuutste skepping, maar dan val die gekleede houtman vorentoe.
“Die hande is te groot en te swaar vir die beeld, Houtkop,” laat weet Gucci ewe slim. “Dié se gewig trek die ding heeltyd vorentoe.”
Moenie in ‘n kannibaal se slaai krap nie, dink Houtkop kwaai.
Hy vervies homself vir Gucci met haar alewige aanmerkings, maar stamp dan die beeld om dat dit op sy rug val.
“Laat hom lê dá wá hy val!” lag Sakkie Papsak, wat lê en drink in sy kruiwabed. “Hiehie!”

“Miskien moet jy maar weer Mandela-beeldjies maak,” stel Klipkop voor.
“Ag nee! Asseblief nie!” kerm Gucci skril. “Dis erg genoem om heelaand in tientalle Mandela-gesigte vas te kyk. Dit freak my heeltemal uit!”
Houtkop trek ‘n groot Afrika-masker oor sy gesig om Gucci verder te irriteer.
“ ‘n Man met ‘n houtkop kan nie dink nie. Jy moet vir hóm dink!” skel Gucci terwyl sy die mieliepap roer.
“Nou maak jy die pap lekker dik aan!” ontplof Houtkop, wie se smeulende haat vir Gucci begin opvlam.
“Mense wat heeldag met hout werk, raak net afgestomp,” gaan Gucci onverpoos uittartend voort.
Tafelbergie stap nader, omvou sy arms en groot hande om Gucci se middel en fluister in haar oor: “Dis nou genoeg, liefie. Wees nou slim. ‘n Mens stry nie met ‘n man met ‘n byl in sy hand nie.”

‘n Geroosterde kabeldief = heerlike aandete

“Hier om die hoek is ‘n kabeldief besig om draad te trek,” kondig Gucci aan.
“Hy doen wát?” vra-lag Tafelbergie.
“Die seun trek koperdraad,” verduidelik Gucci.
Die verveelde bergies stap woordeloos om die hoek en loop af op die dief.
Operation KHANYISA. The power is in your hands, staan op die klein karnallie se gebleikte T-hempie.
Inderdaad, die krag ís in die tiener se hande, want voordat hulle eers bek kan rek om te skel, begin die kind te skok.
Gucci skree toe sy sien hoe die kind skok.
Die slagoffertjie se maer lyfie skud soos ‘n hiperaktiewe briekdanser op hoë-kwaliteit tik wat ‘n ordentlike oordosis skokterapie ontvang.
Die kannibale se oë rek terwyl hulle die rukkende kind se liederlike doodsdansie aanskou.
‘n Minuut later glimlag die bergies egter slu vir mekaar. Almal dink dieselfde ding.
“Hmmm, aandete,” sê Klipkop terwyl hy sy hande teen mekaar vryf en sy lippe in afwagting lek.
Dis seker nie nodig vir ‘n spitbraai vanaand nie, dink Gucci.
“Daar kom nog rook by sy mond en neusgate uit,” laat weet Tafelbergie in verwondering.
“Ja, hy is behoorlik gaar gerooster,” lag Houtkop terwyl hy nader staan.
“Ai-jai-jai-jai-jáí!” sê Bossie.
“Sjoe, ons gaan vanaand lekker eet,” lag Sakkie Papsak. “Ek was in elk geval nie lus vir nóg dassie en eekhoring nie.”

Houtkop wil Tafelbergie se hande afkap terwyl almal slaap

Ná hul halfverbrande aandete wieg Houtkop heen en weer op sy stoel terwyl hy een van sy vele byle skerpmaak.
“Glo jy in reïnkarnasie?” vra hy Tafelbergie.
“Nee. En ek beplan ook nie om gou dood te gaan nie.”
“ ‘n Mens weet nooit wanneer jy gaan doodgaan nie. Dis áltyd ‘n verrassing. Miskien tref ‘n kar jou of een van die Skolliepatrolie steek jou met ‘n mes. Dalk tref ‘n klip jou teen jou kop.”
“Nou hoekom sal ‘n klip hom nou onverwags teen die kop tref?!” skel Klipkop Houtkop uit, want sy broer belemmer nou sy blink plan om Tafelbergie te stenig.
“Houtkop, jy’s ‘n hardkoppige houtkop houtkapper!” gorrel Klipkop. Hy wil hê sy broer moet Tafelbergie uitlos voordat dié sy moordbedagte planne uitsnuffel.

Dis die volgende aand en weereens het Tafelbergie vir almal aandete gebring en dit maak Houtkop net meer en meer jaloers.
Hoe kry die man dit reg? wonder Houtkop omgekrap. Hoekom kan ek nie ook sulke groot hande kry om die Skolliepatrollie te vang nie?
Met súlke hande kan Houtkop die held van die Losers Paradise-groep wees.
Met ‘n grynslag en skelm jakkelsoë maak Houtkop sy beste byl skerp terwyl hy na Tafelbergie se reuse-hande staar.
Daar is vier byle op ‘n groot stomp ingekap: ‘n kortsteelbyl, ‘n langsteelbyl, ‘n houtkappersbyl en ‘n vleisbyl. Houtkop is die liefste vir die kortsteelbyl, want dié gooi die lekkerste.
Eendag is eendag, ou pêl, dink Houtkop. Dan is jou hande myne.

Dis al laat en almal het gaan slaap. Klipkop slaap met een oog oop. Hy hou sy broer dop, wat rusteloos op en af loop, sy kortsteelbyl in die hand.
Watse dom onnosele ding wil sy broer aanvang? wonder hy.
Tafelbergie en Gucci slaap al en vanaand is die aand, dink Klipkop.
Houtkop gaan staan skielik stil en vryf oor sy stoppelbaard. Hy het Bossie se oogskyn in die maanlig gewaar. Dié is voorwaar wakker.

“Ek watch vir jou!” waarsku Bossie. “Ek lyk miskien gerook, maar ek sien álles raak.”

——000000——


(Hoofstuk 17) – Monsterkloue vang Jak Skobbejak & Trish Trash

Dis vieruur die oggend. ‘n Koue windjie waai weereens woes.
Die bendeleier Jak Skobbejak se broek bewe. Hy kruip agter sy Skolliepatrollie weg en sê vir almal hulle is ‘n klomp bangbroeke.
“Julle moet braaf wees en eerste dié nou straatjie afhardloop!” beveel Jak Skobbejak.
Dis koud en die strate is verlate. In die verte kom ‘n figuur sleepvoet aangeslenter. Hoe nader die man aan hulle beweeg, hoe vinniger sleep hy sy voet agterna.
Die Skolliepatrollie is verskrik.
Die drentelende man beweeg nóg vinniger nader. Skielik swaai die ou sy groot, donker jas oop en reuse-kloue kom te voorskyn.
Almal sien die moordlustige kloue in die maanlig glinster en skree gelyktydig. Sekondes later oorval ‘n digte daggarookwolk die kinders en hulle kan niks sien nie. Almal gil met angs, klou aan mekaar en probeer al hoesend en proesend uit die rookwolk kom.
Die daggarokende Bossie die Stellenbosch-bosslaper verskyn uit sy rookwolk.
Die kinders ruk soos hulle skrik en skree weer. Nóg harder.
Bossie begin uit die bloute ‘n helse lawaai te maak deur met ‘n ysterstaaf op blikke en metaaldromme te slaan.
Die Skolliepatrollie draai om en hardloop vir hul lewe.

‘n Minuut later bondel hulle almal saam in ‘n vuil hoekie en luister fyn om te hoor waar hul aanvallers is.
Die Skolliepatrollie weet al Monsterkloue val nie altyd van dieselfde rigting aan nie. Dan is hy agter jou, dan voor jou. Hy is soos ‘n skim. Hulle besef dit gaan ‘n láng aand wees. Of hulle gaan almal dood wees in die volgende paar minute. Om alles erger te maak, is die stad se krag weereens af en net die volmaan maak dit vir hulle moontlik om enigsins enigiets te sien.
“Dis Eskom wat nie sy elektrisiteitsrekening betaal nie en nou moet ons sukkel in die donker,” kla Jak Skobbejak.
“Ons is nêrens meer veilig in die stad nie,” kerm Trish Trash.
“Ag, bedaar. Ek sien g’n gevaar.”
“Ek het iets gesien beweeg,” kerm Trish grootoog verder.
“Dis net jou verdomde verbeelding.”
Sy woorde was skaars koud of die Skolliepatrollie sien skaduwees beweeg.
Hulle besef hulle is omring deur meer as net een aanvaller.
Die straatkinders kyk na Jak Skobbejak vir leiding, maar hy het geen raad vir hulle nie. Hy is stomgeslaan. Dis elkeen vir homself.
Van elke donker hoekie sluip die gevreesde skaduwees geruisloos nader.

“Julle wil my nogsteeds nie glo nie,” sê Jak Skobbejak onnodig. “Die bergies is kannibale.”
“Kannie wat?” wil ‘n huilerige Charlie Tjankbalie weet.
“Mensvreters, jou stupid!”
Die vreesbevange kinders se ogies rek skielik baie groot.
“As die kannibale julle vang, sal hulle stukke vleis uit julle hap,” gaan Jak Skobbejak met sy gruwelstories voort. “Stukkie vir stukkie.”

Die intimiderende skaduwees beweeg nóg nader aan die Skolliepatrollie. Almal tree stadig en versigtig terug.
“Ek’s nie bang nie,” jok Jak Skobbejak vir die bewende bangbroekies. “Ek is te vinnig vir hulle. Die kannibale sal my nooit vang nie. Monsterkloue sal julle kleintjies eerste vang.”
“Hulle is nie kannibale nie. Hulle is nie kannibale nie,” herhaal Charlie Tjankbalie fluisterend vir homself.
“Ons ís kannibale!” sê die groep bewegende skaduwees en dan verskyn Houtkop, Klipkop, Gucci, Bossie en Sakkie Papsak terselfdertyd in die helder maanlig, elkeen met ‘n angswekkende Afrika-masker op.

Tevergeefs probeer die slinkse Jak Skobbejak die arme kleintjies vals moed inpraat.
“Moenie bang wees nie, julle,” paai hy sy groepie. “Ek is julle leier. Ek sal julle beskerm.”
Trish Trash se oë rek nóg groter toe sy sien hoe groot kloue stadig om Jak se bors beweeg.
Voordat Jak Skobbejak kan besef wat gebeur, gryp skerp kloue hom vas en ruk hom onmiddellik weg, die stik donkerte in.
Doodse stilte volg. Trish Trash wou nog skree, maar sy is té geskok. Die oorblywende Skolliepatrolie staan styf en bewend teen mekaar, enkele meters van die glurende, glimlaggende kannibale.
Jak die skobbejak is weg. Wat nou? wonder die vreesbevange kinders. Hulle kyk magteloos vir mekaar.
Soos zombies omsingel die kannibale die groepie stadig.
Sonder om te dink begin die Skolliepatrollie te hardloop, in die rigting wat hul verlore leier verdwyn het.
Al is dit hóé donker, hardloop hulle blindelings die donker nag in, oor verlate strate, om geboue, af in stegies, links, regs, links, regs – ‘n deurmekaar roete wat selfs die agtergeblewende Sakkie Papsak sal dronk maak.
Ná wat voel soos ure se gevlug kom die kinders uitasem in nóg ‘n skynbaar veilige hoekie tot stilstand – so asof hoekies altyd veilig is.
Charlie Tjankbale se bors brand en hy kan skaars asem kry.
Trish Trash snak na haar asem en is verras die ander kleintjies kon só vinnig hardloop.

Trish sê sy is die nuwe leier van die Skolliepatrollie

“Jak is weg,” huil Charlie Tjankbalie. “Hy’t belowe hy gaan ons beskerm.”
“Ag, hou op babatjie wees,” grom Trish Trash. “Ons het ‘n nuwe leier nodig.”
“Ek sal die nuwe leier wees,” sê die sewejarige.
“Nee. Ek het klaar gekies. Dis ek.”
“Jy kan jou nie self kies nie! Dis kroekings!” protesteer Charlie Tjankbalie en huil nóg harder, nie omdat hy bang is nie, maar omdat die Skolliepatrollie nou ‘n meisie-leier het.
Nou gaan ons beslis almal gevang word, dink hy. Dis die begin van die einde.
“Ek is ouer as julle almal, so, julle moet nou vir my luister,” stry Trish Trash streng terug.
“Jy’s net tien. Ek vat nie bevele van meisiekinners nie!” neul Charlie Tjankbalie. “Dis vernederend.”
“Ek is jammer, maar daar kan net een leier wees,” waarsku Trish Trash. “Ek sê jou wat, Charlie. As Monsterkloue my vang, dan kan jý leier wees.”
Monsterkloue verskyn skielik uit die donker koue, gryp Trish Trash en verdwyn soos blits . . . Ta-ta-taah!
“Trish Trash is weg!” skree-huil Charlie Tjankbalie kliphard. “Monsterkloue het haar gegryp!” Dan besef hy wat dít beteken en glimlag slinks.
“Totsiens, Trish Trash. Nou’s ék leier van die Skolliepatrollie.”

——000000——


(Hoofstuk 18) – Tafelbergie lees gedig vir Gucci

By Losers Paradise word Tafelbergie wakker, vee die slaap uit sy oë, kyk op en sien die spitbraai is weereens aan die gang.
Dis seker die jong meisie wat hy ‘n paar ure vantevore gevang het wat nou draai op die braai, reken die pas ontwaakte.
Hy sien Gucci se alombekende geel Gucci-rok oor ‘n lendelam stoel hang en wonder wat op aarde dit dáár maak. Dan kyk hy weer na die meisie op die spitbraai en lek sy lippe af. Die gebraaide lyfie maak hom rasend honger.
Gucci is steeds nêrens in sig nie.
Waar kan sy dan nou tog wees? wonder Tafelbergie weer.
Tafelbergie besluit om solank vir sy meisie ‘n liefdesbriefie te skryf.
Houtkop staan nader en sê effens onsimpatiek: “Ek het slegte nuus, jong. Jammer om dit vir jou te sê, maar die Skolliepatrollie het Gucci ‘n paar uur terug gegryp. Sy is dood.”
“Dood?! Dóód?!”
“Ja, en sy is klaar begrawe,” voeg Klipkop by.
“Begrawe?!” vra Tafelbergie ontsteld.
“Ja, soos in ‘n begrafplaas,” antwoord Klipkop.
Tafelbergie sak op sy knieë neer en begin onbeheersd te huil. Sy hele lyf ruk soos die trane vloei. Hy is só geskok, hy het geen woorde nie. Hy gryp Sakkie Papsak se papsak en drink dit byna leeg.
Met ‘n groot hand vryf Tafelbergie oor sy bebaarde gesig voordat hy by Klipkop wil weet: “Gucci is dood en sy is klaar begrawe? Hoe is dit moontlik? Waar is sy begrawe?”
“By die begrafplaas hier annerkant,” antwoord Klipkop kortaf.
“Ek sal by haar graf ‘n draai moet maak,” prewel Tafelbergie deur sy trane.
“Dis ‘n goeie idee,” sê Bossie. “Neem blomme saam.”
Tafelbergie kruip terug in sy koerantbed en begin ‘n vaarwelgediggie vir sy geliefde skryf. Hy is baie op sy senuwees, want die gedig moet perfek wees, veral as Gucci se gees daarna sal luister.

‘n Tydjie later is die gediggie geskryf en is hy sielalleen na die begrafplaas om afskeid te neem van sy geliefde Gucci.
Tafelbergie gaan staan by ‘n graf en begin tranerig sy gediggie lees:

“Gucci, my dierbare liefie, ek lees vir jou ‘n dankiesê-gediggie.
wens ek kan vir oulaas my hande vryf oor jou skone gesiggie.
Ek gee jou my hele hart en handevol blomme,
nou moet ek op my eie krap in vele vullisdromme.
Onder leë, koue kartonne bewe ons tye saam al stywe.
Ek het jou altyd met my groot hande probeer warm vrywe.
Ons het mekaar warm probeer hou in die koue aande,
dankie vir jou soentjies en drukkies oor ál die maande.
Ek sal jou vir ewig beskerm teen bytende rotte en muise,
en die siek Skolliepatrollie verwoes met my reuse-vuiste.
Ag, ek wens voorwaar ek kon jou nog een keer vashou,
so lief was ek vir jou, dat ek eintlik met jou wou trou.”

Tafelbergie wou die gediggie op haar graffie plaas, maar die wind het die bladsye uit sy hande gewaai. Noudat hy alles klaar gelees het, is hy ook nou nie eens seker of hy by die regte graf staan nie. Ál wat op die steen staan, is G, met die res van die letters wat verweer is. Hy raak bekommerd, want hy staan dalk selfs in die verkeerde begraafplaas.

Sy smaak so sappig

Terwyl Tafelbergie sy laaste respek by ‘n begrafplaas betoon, staan die honger kannibaal-bergies rondom hul spitbraai.
Gucci se lyk is amper gaar gerooster.
Hulle moet haar vinnig opeet voordat Tafelbergie terug is en enigiets vermoed. Selfs Vlooie en Voertsek kry ‘n lekker groot stuk vleisbedekte been om te eet en aan te kou.
Houtkop wonder of hy sy bebloede moordenaarsbyl moet wegsteek. Hy besluit egter daarteen, want hy is te besig om Gucci se arm te eet. Klipkop verlustig hom aan Gucci se sappige boud.
Die slegte broers het geen gewete of skuldgevoelens nie en smul heerlik. Hulle het Gucci slegs ure vantevore vermoor omdat hulle haar sexy lyfie al baie lank smaak en gewonder het hoe sy régtig smaak.
Weereens is Sakkie Papsak te besope en Bossie te gerook om te weet wat rondom hulle aangaan. Dié twee maak lawwe grappies en eet lekker saam.

——000000——


(Hoofstuk 19) – Charlie Tjankbalie tot almal se redding

Jak Skobbejak en Trish Trash is in hout hokke geplaas sodat die kannibale hulle later kan eet.
Charlie Tjankbalie vermoed sy twee mede-bendelede lewe nog. Jak Skobbejak het vroeër vir sy Skolliepatrollie gesê hy weet waar die kannibale bly. Hy onthou nog die naam van die straat waar die bergies bly.
Alleen suiker hy soontoe. Dinge is nie meer dieselfde by die Skolliepatrollie se Bomb Shelter noudat Jak Skobbejak en Trish Trash weg is nie.
Dis skemer en hy móét weet wat van sy twee maatjies geword het. Het die kannibale hulle reeds soos wilde diere verskeur en opgeëet of is hulle nog lewendig?
Baie versigtig bekruip Charlie Tjankbalie die Losers Paradise en heel verbaas vind hy die plek heeltemal verlate. Daar is nie ‘n enkele siel in sig nie. Hy hou sy mond styf vas sodat hy nie begin huil nie. Voordat dit donker word, moet hy terug wees by die Bomb Shelter.
Vir ‘n oomblik wonder die sewejarige of dit die regte plek is. Dan merk hy op die bergieklere, die vele Mandela-koppe en bebloede byle.
Die kannibale se waghonde, Vlooie en Voertsek, lê en slaap en lyk soos slegversorgde zombie-honde. Die twee omnivore is só lui, hulle doen absoluut geen patrolliewerk om op die uitkyk te wees vir enige lede van die Skolliepatrollie nie.
Charlie Tjankbalie sien die gevreesde Monsterkloue wat eenkant lê soos ‘n groot, vrot sak paptats. Hy stap saggies nader en trap versigtig oor die kannibaal. Die laaste ding wat hy nóú wil hê, is om ‘n monster wakker te maak.
Dan gewaar Charlie Tjankbalie Jak Skobbejak en Trish Trash. Hy begin huil van blydskap toe hy hulle sien. Sy twee vriende sit elkeen koponderstebo in ‘n toegesluite houthok.
Hy stap vinnig nader en tik liggies met sy vingers teen Jak Skobbejak se hok.
Die gevangene lig sy kop en sy oë rek groot toe hy sy huilerige jong matertjie sien.
“Charlie! Wat maak jy hier?” fluister-skel Jak Skobbejak, so ombeskof soos altyd. “Is jy mal in jou kop! Die kannibale sal jou vang.”
Voordat Jak Skobbejak egter ‘n woord verder kan sê, gryp Charlie Tjankbalie ‘n groot klip en kap die slotte tjoef-tjaf stukkend.
“Charlie, jy is my held!” snik Trish Trash en gee hom ‘n stywe drukkie toe sy uit haar lemdelam tronk kruip.

Jak Skobbejak is skaars uit die hok of hy ruk ‘n byl uit ‘n houtstomp en begin hardloop. Hy swaai die byl hoog en kap Monsterkloue se vreesaanjande kloue met weerwraak af. Hy skree ‘n paar haatgevulde vloekwoorde op sy aartsvyand voordat die drie van hulle laat spaander, af in die straat.
“Wag, julle twee,” sê Jak Skobbejak ‘n minuut of wat later uitasem. “Monsterkloue is dood. Dalk moet ons teruggaan en die ander óók doodmaak.”
“Maar ons is net drie,” kla Trish Trash.
“Ja, Trish, maar saam sal ons die kannibale se Losers Paradise hel maak.”

Bossie en Sakkie Papsak daag by hul Losers Paradise op.
“Bossie, wat gaan hier aan? Waar is Tafelbergie se groot hande?” vra ‘n dronk Sakkie Papsak. Hy kan nie verstaan wat hy sien nie. “Iemand het hom vermoor. Tafelbergie is dood.”
“Sy hande is afgekap,” sê ‘n gerookte Bossie en wonder dan self wat aangaan.
Dalk was dit daai Judas-gesig Houtkop, dink ‘n verslae Sakkie Papsak.
Sy gedagte was nog nie eens lou nie of Houtkop en Klipkop daag by Losers Paradise op.
“Hello, losers! Ons is terug!” kondig Houtkop vol brawade aan.
Die twee broers sien nie wat aangaan nie en gesels luidrugtig verder.
Bossie en Sakkie Papsak sê nie ‘n woord nie en gluur hulle net aan. Hulle is só ontsteld, Bossie gryp Sakkie Papsak se papsak en drink dit sommer leeg terwyl Sakkie Papsak Bossie se sterk daggazol binne sekondes klaar rook. Byna onmiddellik is albei behoorlik deurmekaar gekoring.
Sonder om enigiets rakende Tafelbergie te besef, begin Klipkop die beendere van straatkinders met ‘n groot steen poeierfyn te kap. Die harde werk maak hom sommer gou uitgeput en honger.

Die drie Skolliepatrollie-kinders kyk stil-stil in afgryse hoe Klipkop meer as vyf klein skedels met ‘n groot klip verkrummel.
“Ek is honger,” sê Klipkop vir Houtkop.
“Ons almal is honger,” antwoord Houtkop. Hy gryp sy byl en stap na die houthok waar hulle Trish Trash opgesluit het.
“Wat gaan hier aan?!” brul Houtkop briesend. “Die hok is dan leeg!”
“Jy jok! Jy jok oor die hok!” skree Klipkop verbaas en staan nader om te kyk wat aangaan.
Hulle besef die hok langsaan is óók leeg.
“Hulle het ontsnap!” blaker Houtkop geskok uit. “Nou het ons geen aandete nie!”
“Dis daai verdomde Skolliepatrollie!” blaf Houtkop woedend en gryp een van sy byle. “Kom ons gaan kry hulle!”
‘n Besope Bossie en ‘n dikgerookte Sakkie Papsak staan nader.
Die vier van hulle gryp Afrika-maskers, trek dit oor hul gesigte en begin storm.

“Goeie drommel!” skree-huil Charlie Tjankbalie. “Hulle het ons gesien! Hier kom hulle!”
Gou is die drie van hulle wéér aan die hardloop vir hul lewe.

——000000——


(Hoofstuk 20) – Die Skolliepatrollie val  aan

Die volgende aand laat is die Skolliepatrollie terug by Losers Paradise om verdere chaos te kom aanrig. Hulle daag op met ‘n inkopiesak, ‘n tregter, Super Glue en ‘n R5-muntstuk . . .
Trish Trash beweeg stilletjies tussen die slapende kannibale deur en gooi hul vuurtjie met twee handevol sand dood. Nou is dit nóg donkerder.
“Die vuur is dood. Wat is plan B?” vra Trish Trash Jak Skobbejak.
“Wat bedoel jy plan B?!” fluister-skel Jak Skobbejak. “Ons is nog besig met plan A!”
“Plan B is vir Bossie,” fluister Charlie Tjankbalie deur sy trane.
“Goeie idee,” antwoord sy leier vol selfvertroue. “Bossie is nog wakker.”
Stilletjies beweeg Jak Skobbejak na Bossie waar hy dikgerook lê en stook. In sy huidige toestand hoor Bossie hom nie aankom nie. Die seun beweeg vinnig, haal ‘n plastieksak uit sy broeksak, sak af op sy knieë en trek dit in een gladde beweging oor die gerookte se kop. Bossie probeer nog baklei vir sy lewe, maar ál wat hy kan doen, is spartel. Jak Skobbejak skop vas. Hy is te sterk vir die bosslaper. Binne enkele sekondes verstik Bossie in sy eie daggawalms en verloor sy bewussyn.

Skolliepatrollie gooi wyn in Sakkie se keel af

Dan bespring hulle Sakkie Papsak, druk die tregter in sy oop mond en gooi sy papsak-wyn in sy keel af.
Die pas ontwaakte spartel en probeer skree, maar hy is besig om in sy eie rooiwyn te verdrink. Dit borrel by sy mond en neus uit.
“Wie die laaste lag, lag die lekkerste!” lag Jak Skobbejak terwyl Sakkie borrelend aan sy laaste papsak versuip.
Nou is Houtkop wawyd wakker, sien daar is erge drama by Losers Paradise en is onmiddellik gereed vir baklei. Hy staan met ‘n kortsteelbyl in elke hand, sy greep om sy byle stewig en sterk.
Houtkop ken van byl swaai en binnekort gaan iemand se kop beslis waai.
Voordat hy egter enigiets aan sy aanvallers kan doen, slaan Trish Trash hom met ‘n plank oor sy kop. Houtkop tref die grond hard met die kant van sy gesig. Sy wangbeen breek soos ‘n keramiekkoppie en Houtkop verloor ook sý bewussyn.

Skolliepatrollie vs. Klipkop

Gedurende ál dié chaos het Klipkop salig soos ‘n klip geslaap. Nou is hy egter uiteindelik wakker en wonder wat rondom hom aangaan.
Dis die Skolliepatrollie, besef Klipkop en skrik groot.
Hy staan op, maar die drie kwaai kinders omsingel hom onmiddellik.
Jak Skobbejak, Trish Trash en Charlie Tjankbalie begin klippe na Klipkop se kop slinger.
“Hulle sê sy kop is van soliede klip!” skree ‘n bloeddorstige Jak Skobbejak. “Dís hoekom hy só stupid is! Sy brein het versteen! Kom ons stenig sy brein verder!”
Met herwonne selfvertroue tel Jak Skobbejak nóg ‘n klip op en bulder: “Dis tyd dat jy ‘n bietjie klippe klou, Klipkop!”
Die brawe bendeleiertjie gooi hard en Klipkop kry ‘n klip in sy mond. Hy verstik en slaan neer.

Tafelbergie probeer vasgeplakte R5 munstuk optel

Trish Trash val oor Monsterkloue se lyk.
“Wat de hel?!” sê sy geskok. “Dís nie Monsterkloue nie! Dis ‘n houtbeeld! Jy het ‘n houtbeeld se hande afgekap, Jak!”
Dan hoor die drie van hulle iemand naderkom.
“Dis seker Monsterkloue!” huil Charlie Tjankbalie.
Jak Skobbejak ruk die R5 en Super Glue uit sy broeksak en plak die muntstuk vinnig op die sypadjie vas. Die lokaas is gereed.
Die drie van hulle gaan kruip weg terwyl Tafelbergie niksvermoedend nader kom.
Dan sien hy iets in die maanlig glinster – die geld op die teerpad.
Hy buk af om die geld op te tel, maar dit wil die roer nie.
Dis asof dit aan die teer vasgeplak is, dink hy. Of dalk is my groot vingers te groot . . .
Jak Skobbejak se skobbejakplan werk. Monsterkloue buk wéér af en probeer die geld optel . . . maar op ‘n manier kry hy die muntstuk los en druk dit in sy sak.
Charlie Tjankbalie begin onmiddellik harder huil, want dit was sy R5.
Die Skolliepatrollie is té stadig. Jak Skobbejak se plan was om ‘n niksvermoedende kannibaal oor die kop te slaan sodra dié vir die verleidelike muntstuk sou buk.
Dan gewaar Monsterkloue die drie nadersluipende kinders. Hy maak sy groot hande wyd soos kloue en brul soos die mees vreesaanjaende middernagtelike kannibaalmonster ooit.

Monsterkloue se nuwe staalkloue

Monsterkloue het ‘n verrassing vir die oorblywende Skolliepatrollie-lede.
Amper soos Freddie Kruger van die fliek Nightmare on Elm Street het Monsterkloue ‘n paar van Houtkop se houtbytels gevat en dit aan sy leerhandskoene vasgemaak.
Hy begin die grootoog straatkinders jaag. Monsterkloue maak sy hande wyd oop sodat die beitels vonke maak wanneer dit teen enige metaal skuur. Die gekrap van metaal op metaal veroorsaak ‘n skril klank en maak die kinders nóg meer bang. Met die bytels bo-op sy groot kloue het hy nou dubbele kloue, dubbel die mag en dubbel die krag. Monsterkloue se naam kon netsowel Staalkloue gewees het.
“Ek ruik bloedjonge staatkinders,” brul Monsterkloue.
“Goeie hel!” skree Trish Trash. “Die verdomde Monsterkloue is soos ‘n baie slegte verkoue! Hy gaan net nooit weg nie!”
Die hollende Charlie Tjankbalie huil net ál hoe harder en harder.
Monsterkloue kom van agter, gryp Jak Skobbejak en Trish Trash aan hul kele en begin hulle genadeloos te wurg. Hul gesigte raak gou-gou blou.
Charlie Tjankbalie smeek by Monsterkloue om sy maatjies uit te los, maar sien dis te laat. Sy bende-matertjies het hom ongelukkig reeds verlaat. Hulle is weg na ‘n baie beter plek.
Monsterkloue sleep Jak Skobbejak en Trish Trash na die houthokke en gooi die deure toe.
Hy draai om . . . en voel hoe ‘n ystervuis sy gesig vergruis.
Uit die bloute verskyn Tygerbergie . . . verlig in ‘n helder weerligstraal, en moker hom deur die gesig.
Die groot wraakgeveg het begin, maar Monsterkloue is reeds plat op die grond, uit soos ‘n kers.
Wonderlik, dink Tygerbergie. Met Tafelbergie uit die prentjie, neem ek nou die titel oor as . . . Monsterkloue.
Ta-ta-taah!

Die piepklein seuntjie Charlie Tjankbalie bevind hom skielik moedersielalleen. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd huil Charlie Tjankbalie nie, want skielik besef hy hy is die enigste oorblywende lid van die nou vermorselde Skolliepatrollie. Jak Skobbejak en Trish Trash is weg.
Daar lê Monsterkloue, roerloos . . . maar dan laat ‘n erge koue rilling sy angstige klein lyfie skielik ruk. Hy kyk op en gewaar ‘n afskuwelike vroulike bergie . . . óók met monsteragtige kloue.
Charlie Tjankbalie lag histeries.
‘n Nuwe dag het aangebreek, dink hy.
Die maan skyn helder op sy bleek gesiggie en soos hy sy oë vir oulaas toemaak, dink hy aan die volgende gediggie.

Ek soek my maatjies tevergeefs,
miskien wil hulle net nie meer leef.
Ek besef te laat ek’s in ‘n hinderlaag,
groot kloue gly vinnig om my kleine maag.
Monsterkloue herleef en daar is geen ontsnapping,
haar magtige hande is reg vir haar eerste slagting.
Ek smeek, tjank en spartel tevergeefs.
Sy sleep my weg na ‘n grote kannibaalfees.

DIE EINDE . . . Ta-ta-taah!

——000000——