My intense navorsing van die Tygerberg

In 2003 het ek, Etienne Rossouw, gewerk vir ‘n videoproduksiemaatskappy. Omdat ek toegang tot die beste digitale videokameras gehad het, het ek besluit om ‘n projek te maak van die Noordelike voorstede van Kaapstad. Ek het ‘n lys saamgestel van wat presies ek wou afneem.
Ek was na al die biblioteke van Bellville, Parow, Goodwood, Brackenfell, Durbanville, Kraaifontein en Kuilsrivier en het selfs die munisipaliteitskantore van ál dié areas besoek.

yes-master-01

Talle biblioteektannies het van 1952 maandeliks koerantberigte van Bellville versamel en in A3-grootte plakboeke geplak, soos hier bo gesien kan word. Dié boeke is bekend as die Masterson-versameling en dit het byna elke belangrike gebeurtenis in rakende Bellville. Soos jy deur die plakboeke blaai, volg jy die stories en sien hoe die klein dorpie Bellville in ‘n groot stad ontwikkel.

etienne-rossouw-02

Hier sit ek in die ysige, lugverkoelde Bellville-biblioteek-argief en blaai tydsaam deur die dik Masterson-versameling.

nuclear-masterson-versameling

Parow het óók koerantberig-plakboeke in sy museum, waar ek weke lank intensief navorsing gedoen het.

As jy deur die Bellville- en Parow-plakboeke blaai, wat elk omtrent 10 cm dik is, besef jy gou daar was ‘n aanhoudende kompetisie en ‘n gespoggery tussen Bellville en Parow. Wie het die meeste brandweermanne? Wie het die grootste skole, hospitale, winkelsentrum en woonbuurte? Gou het die dorpies ontwikkel met groter woonareas totdat hulle later reg teenaan mekaar gelê het. Durbanville, Brackenfell, Kraaifontein en Kuilsrivier, nou almal deel van die groot Tygerberg-area, het op ‘n soortgelyke manier vinnig ontwikkel.

harde-werk

Ek het artikels gevind van die ontstaan van woonareas soos Welgemoed, Hoheizen, Boston, Plattekloof en Welgelegen. Die opening van die Sanlam-sentrum (nou bekend as die Parow-sentrum) en die Tygervallei-inkopieparadys. Van die eerste bioskoopteaters tot die eerste inryteaters en die eerste TV-stel wat gesteel in die Tygerberg. Van die eens bekende gevangenis-steengroef tot die hedendaagse Tyger Waterfront. Stories soos Parow se vrotmelk-kubuskoning. In 1962 was die eerste meisies in bikini’s by die Bellville-swembad te erg vir ander swembadgangers. In die 1980’s was daar melkkoepondiewe, wakkerblykompetisies in winkelsentrums en selfs wêreldrekordrolskaatskampioenskappe.

Om dié projek saam te stel en te skryf, is nie ‘n grap nie. Jy moet jou storie ken en natuurlik baie tyd en geduld hê. Wat pas waar in? Wat moet in en wat moet uit? Ongelukkig het my projek in 2003 tot stilstand gekom vanweë eksterne faktore . . . maar nou, meer as 13 jaar later (2016), is ek terug met ‘n reuse-aanslag.

Ek fokus op sewe dorpe van die noordelike voorstede van Kaapstad: Goodwood, Parow, Bellville, Durbanville, Kraaifontein, Kuilsrivier en Brackenfell. Die ontstaan van plaashuise, nuwe woonareas, bekende mense in die dorpe, winkelsentrums en bekende gebeurtenisse vind byval op my webtuiste.

Mense hou daarvan om te sien hoe dinge dekades terug gelyk het . . .

Die tyd wat ek spandeer het op navorsing:
2 maande om deur ou koerante te blaai;
3 weke om deur 20 jaar se Tyger-Burgers te blaai in die Nobelpark-kantore;
1 maand vir die bestudering van mikrofilm by Media24;
3 maande by Die Burger se foto-argief;
1 maand vir Parow-plakboeke;
5 maande om deur die Masterson-versameling te werk;
1 week vir Brackenfell-plakboeke;
2 maande in 7 dorpe se biblioteke en munisipaliteitsgeboue;
2 weke by die Bellville-argief, die Parow- en Goodwood-museum;
1 week by die Nasionale biblioteek en argief in Kaapstad
2 jaar om ál die inligting (180 bladsye) te herskryf
en 2 weke om die uitleg op my webtuiste, Tygerbergstories.co.za, te laai.

Bronne vir die webtuiste:
“Die Tygerberg”-boek deur N.M. du Plessis, 1998, Tafelberg-Uitgewers;
“Brackenfell…van toeka tot Nou” deur Dalena Vollgraaf, 2001;
“Bellville” deur C.J. Scheepers Strydom, 1981, Nasionale Boekdrukkery;
“Die ontstaan, stigting en ontwikkelingsgeskiedenis van Kuilsrivier deur J.H.H. Visagie, 1993;
“Die Geskiedenis van Kuilsrivier” deur Adinda L. Vermaak, 1993.

My grootste dank aan die hulpvaardige Amanda Oosthuizen by Die Burger-argief en -biblioteek en Martiens van Bart van Media24 vir hul onophoudelike ondersteuning.

Ek het die hele 2003 aan dié uiters interessante en verreikende projek gewerk en gehoop my sogenaamde nuwe “Tygerberg Boek” sou die geldjies laat inrol. Nóú, ná meer as ‘n dekade, is die inligting VERNIET vir almal op die internet beskikbaar.
Ek hoop opreg julle vind die artikels en stories só interessant as wat ek dit ervaar het, want die stories en ou koerantberigte vertel hoe wonderlik ons Tygerbergse mense is.

Vriendelike groete,
Etienne Rossouw