Bellville – Charles Bell

Bellville se groot held

dsc05272

Charles Bell, die staatslandmeter en kunstenaar, waarna Bellville vernoem is. Kyk sy cool, gerespekteerde baard! Twee maande voor Charles Davidson Bell se sewentiende verjaardag het hy, geseën met ‘n flinke sin vir humor, ‘n briljante brein en ‘n artistieke talent, in die lente van 1830 vir die eerste keer voet aan wal gesit in Kaapstad.
Hy is in 1813 in Skotland gebore en is deur sy oom, kol. John Bell, toe die koloniale sekretaris, Kaap toe genooi.
Charles was baie goed met die kwas . . . Die jong man het Kaapstad-tonele en plaaslike persoonlikhede met ‘n humoristiese en oplettende oog geteken en geskets.
Toe hy 21 was, het hy aangesluit by dr. Andrew Smith se “Expedition for Exploring Central Africa”. Tydens dié reis moes hy ‘n sketsdagboek van die expedisie hou deur sketse van die landskappe en die inboorlinge wat hulle raakgeloop het, te maak.
Hy was ook baie goed met die hout . . . hy het ‘n groot liefde gehad vir hout en houtsneewerk.

Volgende in Charles se visier was ‘n loopbaan in siviele diens. Op die ouderdom van 24 was hy reeds ‘n gekwalifiseerde landmeter.

Toe hy 36 was, raak hy die voorsitter van die Old Mutual en ontwerp die welbekende Old Mutual-embleem (die een met die drie ankers).
Die volgende jaar, 1850, het Charles en sy vrou geskei. Hulle het drie kinders saam gehad. Hy het laterjare weer getrou.

arrival-janvanriebeeck-bell

Bo: Die kunstige Charles het ook ‘n goue medalje gewen vir die “beste oorspronklike historiese skildery” getiteld “Die landing van Jan van Riebeeck by die Kaap van Goeie Hoop in 1652”.

Die talentvolle en artistiese Charles het ook die bekende Kaapse driehoekseël ontwerp. Dié uiters mooi seëls is op 1 September 1853 uitgereik.

bell-stamp

Indien julle tot op dié punt gewonder het, ja, Bellville is na Charles Bell vernoem. Dít vanweë sy goeie werk as ‘n uiters bekwame ingenieur in die konstruksie van die eerste spoorlyn tussen Kaapstad en Wellington in 1859. Hy was glo die enigste persoon in die destydse Kaapkolonie wat spoorlyndraaie kon uitlê, brûe, walle en tonnels kon bou, en selfs lokomotiewe kon inspekteer.

 

grahamstown-corps-defeated-captain-norden-left-dead

Bo: Dié Charles Bell-kunswerk toon hoe die destydse Grahamstadse grens-regiment deur die inboorlinge oorrompel word. Kaptein Norden word hier afgeslag.

cape-town-caledon-and-swellendam-royal-mail-coach

Bo: Charles Bell se kuns – die Kaapstad-Caledon-Swellendam Royal Mail-koets, circa 1844/1845.

the-great-meeting-held-in-front-of-the-commercial-hall

Bo: “Die Groot Vergadering” voor die destydse Kommersiële Saal in Kaapstad, 4 Julie 1849.

In 1873 is Charles terug Skotland toe. Nege jaar later, in 1882, sterf hy op die ouderdom van 68. Hy laat agt kinders agter.
Sy legendariese en meesterlike kunswerke, uiters mooi na gekyk deur die John and Charles Bell Heritage Trust, is by die Universiteit van Kaapstad te sien. Gaan kyk gerus daar.
(Bron: digitalcollections.lib.uct.ac.za/bell)