Bellville – Fenisiërs was dalk 600 v.C. al reeds in Bellville

Fenisiërs was dalk 600 v.C. in die Kaap

under-sail-north

Dekades gelede het talle argeoloë in Pinelands na die oorblyfsels van ‘n Fenisiese skip gesoek. Daar is ‘n kans die Fenisiërs het voor Dias rondom die Kaap geseil, maar dit is nou nog nie geheel en al ‘n sekerheid nie.
Sedert die Britte die Kaap in 1806 beset het, was daar al sprake van ‘n Fenisiese skeepswrak van 600 v.C.
Volgens stories oor die eeue heen vertel, het mense vragte van die wrak se hout weggery omdat dit glo baie goeie brandhout was.
Jose Burman se boek The Unofficial History of the Cape vertel hieroor.

123rf-com-stock-photo-archaeological-remains-of-a-phoenician-shipwreck-in-a-park-in-arrecife-lanzarote-canary-islands

123rf.com Voorraadfoto – Argeologiese oorblyfsels van ‘n Fenisiese wrak in ‘n park in Arrecife, Lanzarote, Kanariese Eilande.

Die oorblyfsels van die wrak is destyds deur die landmeter-generaal Charles Bell (die man na wie Bellville vernoem is) geïnspekteer.
Op 26 Julie 1852 het hy ‘n verslag daaroor aan sir Charles Henry Darling, luitenant-goewerneur, gestuur. Volgens Bell se verslag was hy maar erg skepties oor die wrak. Hy het egter geen keuse gehad as om te erken dit kon inderdaad die oorblyfsels van ‘n seilskip, van meer as 20 m lank, gewees het. Dit was egter ‘n volle 16 km van die oseaan. Volgens Bell het die uiters antieke wrak 30 jaar vantevore oopgespoel toe die sogenaamde Hardekraaltjie Stream (nou die Elsieskraalrivier) se loop verander het.
Die goewerneur het ingestem om vir die wrak se opgrawing te betaal, maar niemand weet of die projek toe aangepak en voltooi is nie.
Die volgende jaar (1853) het Darling gevra dat die geoloog en padbouer Andrew Geddes Bain saam met hom moet gaan kyk na wat skynbaar die oorblyfsels van ‘n Fenisiese wrak is.
“By the mighty ribs of this jolly old Phoenician, plainly traceable as she lies buried in clay ten feet (3 m) below the surface of the Cape Flats, I found that she must have been upwards of a mile (1.6 km) in length . . .” het Bain kwytgeraak. Hy het dit onmiddellik herken as “merely a bed of lignite or brown coal which is found all over the Cape Flats”.
Bruinkool is ‘n tipe steenkool – in The Unofficial History of the Cape is ‘n foto van ‘n stuk wat destyds op die Kaapse Vlakte gevind is.
Volgens Burman se boek het die Fenisiërs lank voor Dias rondom die Kaap geseil. Die Egiptenare wou vele eeue gelede ‘n “kortpad” tussen die Nylrivier en die Rooi See hê.
‘n Paar duisend jaar voordat die Suez-kanaal gebou is, het die farao ook begin om ‘n reuse-kanaal te grawe, maar sy waarsêers het gewaarsku hy moet dit eerder nie bou nie. Die reuse-projek is toe stopgesit. Die farao het toe besluit om eerder ‘n waterweg rondom Afrika te soek. Daardie jare het hulle Afrika Libië genoem.
Die Fenisiërs was destyds die beste en mees avontuurlustige seevaarders en die farao sou hulle seker “oortuig” het om die lang en gevaarlike tog rondom Afrika te onderneem.

pinterest-com

Die deursnee van ‘n Fenisiese skip van honderde jare voor Christus.
(Bron: pinterest.com)


Replika van Fenisiese skip vaar om Afrika

bbc-news

Herodotus, die Griekse historikus, skryf die storie van Koning Necho II van Egipte, wat in 600 v.C. die Fenisiërs gekry het om rondom Afrika te vaar. Vroeër is dit as ‘n onmoontlike taak beskou. Soos alle seevaarders, het Fenisiese seevaarders nie teruggedeins van die uitdaging nie. Hulle bou toe vir hulle ‘n seevaartuig in Egipte, waarna hulle deur die Rooisee gevaar en eers drie jaar later via die Middellandse See teruggekeer het.
Maar het hulle dit rêrig reggekry? Geskrewe rekords (van papirus) het natuurlik oor die jare gedisintegreer, so dit was nie moontlik om te bewys nie.
‘n Replika Fenisiese skip is toe gebou, waarmee rondom Afrika geseil is.
In Augustus 2008 het die seevaart toe begin om te probeer bewys dat die destydse Fenisiërs wél hul reis suksesvol kon voltooi het. (Bron en foto: Lina Sinjab, BBC News, Damascus)

Die skip, Phoenicia, het toe rondom die punt van Afrika geseil en was terug in die Port of Arwad Island, Syrië in Oktober 2010. Dus is bewys die Fenisiërs van 600 v.C. kon inderdaad vermag het wat ons nie verwag het.
Die seevaart in die replika van die destydse Feniese skip rondom Afrika
was ‘n ongelooflike 27 200km ver.
Daar was net 13 bemanningslede van Amerika, Brittanje en Indonesië, insluitende 4 vroue, aanboord die skippie.

maritimejournal-com

Die Fenisiese skip – net 21.5 m lank en 5.75 m breed en gebou van denne-, okkerneut-, en olyfhout – is halfpad om Afrika en lê geanker in Tafelbaai. Dit lyk of hulle wag vir die Kaapse Dokter op sy “kop” bo Tafelberg uit te steek.
(Foto: maritimejournal.com)

www-phoenicia-org-uk

(Foto: phoenicia.org.uk)

As julle meer wil sien, kyk hierdie twee video’s op YouTube:
https://www.youtube.com/watch?v=0tyUMssb60A
https://www.youtube.com/watch?v=V3H1UwnLDfg

Bronne:
1. Die Vlieënde Hollander vaar toe wraggies in Bellville; Die Burger, 28 Mei 1967
2. ‘Bruinkool’ kan ‘n skip wees, Die Burger, 18 Maart 1993
3. http://poseidonsciences.scienceblog.com/category/marine- sciences/
4. http://www.dp-news.com/en/detail.aspx?articleid=59970