Brackenfell – Geskiedenis van die dorp en sy plase

Brackenfell – Geskiedenis van die dorp en sy plase

Vroeë geskiedenis:
Brackenfell was reeds in die tyd van Jan van Riebeeck deel van die VOC. Enkele jare nadat Van Riebeeck in opdrag van die VOC ‘n verversingspos aan die Kaap gestig het, het hy besef dat die onmiddellike omgewing van die Kaap nie aan die spesifieke behoeftes voldoen nie.
Dus het hy meer na die binneland buiteposte geskep. De Clapmuts was een van die buiteposte waar hooi as somervoer vir die Kompanjie se perde ingesamel kon word. Die beeste het ook hierdie gebied vir weiveld gebruik.
Brackenfell het deel van die gebied suid van Klapmutsberg uitgemaak. Hierdie plek was bekend as De Bottelarij, wat as opslagplek vir kos op ‘n seilskip geheet het (eers was daar net bottels, maar later het dit as ‘n spens vir kosvoorrade gedien). Vleis en groente is vanaf De Bottelarij gebring vir die skepe wat die Kaap aangedoen het.

Die eerste grondeienaars:
Hazendal (1704), Stellenburgh (1705) en Het Kruispad (1712) was die eerste plase in die Brackenfell-omgewing wat as vrypag toegeken is. Ons fokus op die laasgenoemde twee plase, aangesien die dorp Brackenfell daarop ontstaan het.
Stellenburgh was weerskante van die Kuilsrivier geleë en is op 9 Augustus 1705 deur WA van der Stel aan Joan Blesius toegeken. (Stellenburgh het later bekend gestaan as Stellenburg, waarna die naam later verander is na vandag se Stellenberg.) In 1707 word Jacobus van der Heiden die eienaar van Stellenburgh.
Die ander plaas in die gebied, “Het Kruijspad oor die Kuyls Rivier by die Duyvenheuwel”, is op 15 Maart 1712 aan Josua Selie toegeken.

Brackenfell kry sy naam:
George Henry Walton, wat ‘n gedeelte van Kruispad, suid van die hardepad gekoop het, se nuwe plaas het ook Kanonkop ingesluit. Die plantegroei op sy plaas het hom so aan dié van Skotland herinner dat hy sy plaas Bracken Fell genoem het. Bracken beteken varing en Fell beteken heuwel.
In 1903 het die spoorweg-owerhede egter die sylyn hier aangelê en dit Brackenfel genoem. Na vertoë deur Walton het hulle nog ‘n “l” bygevoeg, maar is dit steeds as een woord geskryf. Baie jare later het Brackenfell weer sy een “l” verloor toe een “l” van die stasiebord afgeval het. Eers in 1946 is die naam finaal reggestel.

Kanonkop se graniet:
Die Waltons se boerdery was nie baie suksesvol nie. Vroeg in 1916 is daar begin met die ontginning van Kanonkop se graniet. Granietblokke en gebreekte klip is onder meer vir die bou van strate en as randstene gebruik. Teen 1948 was dit ‘n uitgemaakte saak dat ontginning op Kanonkop nie onbepaald sou voortduur nie. ‘n Groepie van die inwoners het dit toe prioriteit gemaak om die Kanonkop as natuurreservaat te bewaar.

Laerskool/Hoërskool Brackenfell:
Reeds voor 1906, blykbaar op die plaas Stellenberg, het kinders onderrig in Brackenfell ontvang. Vroeërjare het leerlinge die laerskool bygewoon tot standerd 6. Vir onderwys ná standerd 6 moes leerlinge na ander dorpe gaan, omdat Brackenfell nog nie ‘n hoërskool gehad het nie. Die eerste hoërskool in Brackenfell, tans die Hoërskool Brackenfell, het eers op 21 Januarie 1976 sy deure geopen. Paarl-Skool vir Neuraalgestremdes se deure het op 18 Julie 1978 in Brackenfell geopen.

Die Brackenfell Motel:
Sedert 1964 is dit ‘n baken langs die nasionale pad. In 1973 het die hotel nuwe eienaars gekry wat die naam toe na die Louis Carlos Motel verander het. In 1977 koop die direkteur van die Aroma-groep die motel. In 1982 word die motel omskep en ontwikkel tot ‘n volwaardige hotel, die Aroma Inn. In 1990, toe die hotel reeds tot 100 kamers uitgebrei is, het dit die Cape Rendezvous Hotel geword.
Van dorpsbestuur na munisipaliteit na Oostenberg en toe die Uniestad Kaapstad. In 1968 kry Brackenfell sy eie dorpsbestuur. In 1970 kry hy sy eie munisipaliteit.
In 1996 is die munisipaliteite van Brackenfell saam met dié van Kuilsrivier, Kraaifontein en die omliggende gebiede ingeskakel in die Oostelike Munisipaliteit. Al drie hierdie munisipaliteite was voorheen onder beheer van die Wes-Kaapse Streeksdiensteraad.
In Desember 2000 het ál die munisipaliteite van die Kaap saamgesmelt om deel van die Uniestad: Stad Kaapstad uit te maak.
(Bron: “Brackenfell…van toeka tot Nou” deur Dalena Vollgraaf, 2001)
“Bloedjong dorp hou aan groei dat dit kraak” – (Die Burger, 16 September 1983)
“BRACKENFELL – Kaapstad se nuwe paddastoel” – (Die Burger, 20 Augustus 1976)
“BRACKENFELL – jong voorstad met ‘n groot toekoms” – (Die Burger, 3 November 1979)