Die Jan van Riebeeck-fees – 1952

Die Jan van Riebeeck-fees, die 300-jarige herdenking van die landing aan die Kaap van Jan van Riebeeck, was een van die drie grootste feeste in Suid-Afrika ooit en het in 1952 plaasgevind.

Die swart en wit foto’s is van die Burger se foto argief. Groot dank gaan aan die Burger biblioteek personeel van 2003, wat my gehelp het om dié oorspronklike foto’s met moeite te vind, wat ek digitaal afgeneem het.

jan

Agtergrond

Op 6 April 1652 het Jan van Riebeeck met sy drie skepe, Die Dromedaris, De Goede Hoop en die Reyger, in Tafelbaai geland.
In 1952, 300 jaar later, is die reuse-Van Riebeeckfees gehou. Dit was die moeder van alle feeste ooit in Suid-Afrika en ‘n volle drie weke lank (van 14 Maart tot 5 April). ‘n Gedenkfees van dié grootte is sedertdien nog nie weer in ons land gesien nie.
Feeste oor die hele land moes die weg berei vir die reuse-viering in Kaapstad. Poskoetse, getrek deur spanne perde, het van oral oor die land lang reistogte na Kaapstad onderneem as deel van die viering.
Dié idee het gekom van die Ossewatrek van 1938 toe die ossewaens na Pretoria getrek het vir die Voortrekkermonument se hoeksteenlegging.
Terwyl kleiner feeste in dorpies dwarsdeur Suid-Afrika gehou is, het die voorbereidings vir die groot fees in Kaapstad voortgegaan. ‘n Enorme tydelike feesstadion, toe die grootste ter wêreld, het sitplek vir 50 000 mense op die feesterrein gebied. Dit is op die herwinde, toe pas-drooggelegde, maar toe nog onontwikkelde Kaapstadse strandgebied opgerig (24 morg) waar net ‘n paar jare vantevore nog see was.
Daar was ‘n reuse toneel- en musiekfees en kunstenaars het van oral in die land gereis om te kom deelneem.
‘n Enorme optog van 1 500 deelnemers, 70 sierwaens, 9 orkeste en 400 perde in Adderleystraat is deur 300 000 mense geniet.
‘n Ongelooflike 900 000 feesgangers van oor Suid-Afrika, die destydse Rhodesië (Zimbabwe) en Suidwes-Afrika (Namibië) en selfs Europa het die reuse-gebeurtenis bygewoon. Hulle het in tentedorpe oral oor die Skiereieland gebly.
Die Nasionale Party-regering, sedert 1948 aan bewind, het die kans aangegryp om aan Suid-Afrika en die wêreld te wys wat ons land in 300 jaar bereik het en wat die land kon doen.
Die koste aan die fees was ₤2 miljoen, daai jare natuurlik ‘n enorme bedrag (in vandag se geld waarskynlik sowat R750 miljoen).
Hulle het selfs 16 wilde Boesmans is uit Suidwes-Afrika se mees noordelike streke Kaap toe gebring.
Dan is ‘n aantal leeuwelpies in die Kruger-wildtuin gevang en in een van die uitstallingsareas vertoon as ‘n uitbeelding van Suid-Afrika se wildlewe en natuurskoon.
‘n Allemintige 60 riksja’s is van Durban vir die fees gebring.
Die Weense Seunskoor is selfs uit Oostenryk vir die groot geleentheid afgevlieg.

Die simboliese voorstelling van Van Riebeeck se landing op 6 April 1652 op 5 April 1952 by Grangerbaai (Groenpunt) was die hoogtepunt van die fees.
Dit was die grootste sametrekking vir kuns en kultuur tot nog toe in ons land.

Bron: Wikipedia en die blog: http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer/2012/04/06/jan-van-riebeeck/.


Sportgeleenthede

Daar was uiters baie sportgeleenthede, onder meer die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap, die proewe vir die Olimpiese Spele, wat op 28 en 29 Maart 1952 in die tydelike Feesstadion gehou is, en waaraan twee Nederlandse kampioene ook deelgeneem het.
Verder het deelnemers uitgeblink in sportsoorte soos bofbal, boks, hengel, hokkie, jukskei, nasionale motorwedrenne, polo, sagtebal, seiljagwedrenne, swem en duik, waterpolo en tennis.


Sondag, 30 Maart 1952

Die finale feesweek het begin met ‘n dag van danksegging op Sondag 30 Maart.
10:00 – kerke oral in die Skiereiland hul klokke gelui, waarna ál die gemeentes in die Kaap ‘n spesiale Van Riebeeck-diens gehou het.
10:30 – ‘n militêre kerkparade word by die Groote Kerk in die Kaapse middestad gehou.
13:00 – ‘n dankdiens word gehou vir die jeug in die Feesstadion waar die Skiereiland se massakoor hul gesamentlike engelstemme die hemelruim ingestuur het om Van Riebeeck te verheilig.


Dinsdag, 1 April 1952 (Feesstadion-gebeurtenisse)

10:00 – Leerlinge en studente neem deel aan ‘n massiewe jeugparade.
Die jong klomp het die onderskeie wapens van hul munisipaliteite gedra.
11:20 – ‘n massakoor van die Paarl, Wellington en Franschhoek sing; 1 000 meisies van hoërskole en vroulike kollege-studente hou ‘n massa-vertoning van liggaamsopvoeding.
21:00 – Nog ‘n massakoor, dié keer een van die Skiereilandse skole, het in die reuse-Feesstadion aan die beurt gekom. Later het die Voortrekkers opgetree met die aankoms van 3 000 fakkeldraers wat die sogenaamde Vlam van die Beskawing vergesel het.

jan-van-riebeeck-fees-01

Talle Voortrekker-vroue en -dogters staan met brandende fakkels in die wind staan naby Jan van Riebeeck se standbeeld.


Woensdag, 2 April 1952

Dit was die sogenaamde “Die dag vir die Maleise en Kleurlinggemeenskap”.
Daar was blaasorkeste, ‘n Griekwa-optog en ‘n massakoor (300 mense) en verskeie kulturele gebeurtenisse van hul geskiedenis is in die Feesstadion uitgebeeld.
Die aankoms van sjeik Josef (in 1694) met sy 2 vroue, 14 vriende en bediendes (40 persone) is ook fantasties deur die deelnemers uitgebeeld.
(Bron: af.wikipedia.org/wiki/Van_Riebeeck-fees)

jan-van-riebeeck-fees-02

‘n Destydse replika van die Drommedaris.
(Die Burger, 17 November 1952)

jan-van-riebeeck-fees-03

‘n Reuse-replika van Jan van Riebeeck op ‘n balkon van ‘n winkel in Adderleystraat. (Die Burger, 7 Maart 1952)


jan-van-riebeeck-fees-04

Die reuse-area aan die onderkant van Adderleystraat waar die Van Riebeeck-fees gevier is. (Foto: Wikipedia)

jan-van-riebeeck-fees-23

Foto: flickr.com/photos/8270787@N07/4530180187/
Die area binne-in die pers lyne is waar die skou gehou is, met die groen blok waar die tydelike stadion was.
As julle nog ongelooflike ou foto’s van Suid-Afrika wil sien, besoek Etienne du Plessis op flickr.com.

jan-van-riebeeck-fees-05

‘n Lugfoto van die destydse Jan van Riebeeck-feesterrein.
Op die foto links is die nuwe hawe, met die N1 wat nog in aanbou is. Culemborg is bo in die middel en die tydelike stadion onder dit.
(Die Burger, 1 Maart 1952)

jan-van-riebeeck-fees-06

Duisende karre in die reuse-parkeerarea by die Jan van Riebeeck-fees.
(Die Burger, 4 April 1952)

jan-van-riebeeck-fees-07

Nie ‘n plek vir ‘n muis by die grootste fees ooit in Kaapstad nie. Mense staan in lang toue om by die Feesstadion in te gaan.
(Die Burger, 7 April 1952)

jan-van-riebeeck-fees-08

Konstruksie van die tydelike stadion. Daar is sowat 42 rye sitplekke tot heel bo.
(Die Burger, 5 September 1951)

jan-van-riebeeck-fees-09

Die fees se tentoonstellingsterrein, nog in aanbou.
(Die Burger, 5 Februarie 1952)

jan-van-riebeeck-fees-10

‘n Groot tydelike tentedorp is opgerig vir feesgangers om in te bly.
(Die Burger, 2 Maart 1952)

jan-van-riebeeck-fees-11

‘n Erge stormwind saai verwoesting in die tentedorp.
(Die Burger, 31 Maart 1952)

jan-van-riebeeck-fees-12

Die 12 Mejuffrou Kaapstad-finaliste tydens die fees.
(Die Burger, 21 Februarie 1952)

jan-van-riebeeck-fees-13

Die hoofingang met Jan van Riebeeck se standbeeld op ‘n hoë pilaar.
(Die Burger, 29 Maart 1952)

jan-van-riebeeck-fees-14

Links is die destydse kragsentrale en regs agter is die silos waar die V&A Waterfront vandag is. Onse Jan kyk na die see met sy gesig direk in die son. Gelukkig dra hy sy hoed.
(Die Burger, 2 April 1952)

jan-van-riebeeck-fees-15

Die optog van die Blom van die Jeug.
(Die Burger, 3 April 1952)

jan-van-riebeeck-fees-16

Die verwelkoming van die poskoetse in die stadion.
(Die Burger, 1 April 1952)

jan-van-riebeeck-fees-17

Ruiters op perde, vlagdraers (in tradisionele drag) en kleurvolle vlotte is alles deel van die fees se optogte.

jan-van-riebeeck-fees-18

‘n Allemintige 3 200 kinders van die Skiereiland se skole sing in die tydelike stadion ter voorbereiding van die fees.
(Die Burger, 20 Maart 1952)

jan-van-riebeeck-fees-19

‘n Reuse-massavertoning van liggaamsoefening in die stadion deur studente en skooldogters.
(Die Burger, 2 April 1952)

jan-van-riebeeck-fees-20

As Jan van Riebeeck nog geleef het, sou hy seker verras gewees het om só baie Suid-Afrikaners te sien wat hom kom vereer het.
Links onder maak ‘n orkes lekker musiek. Regs is kinders nog in hul skoolklere, terwyl koetse en perde tussen die skare beweeg.
(Foto: Die Burger, 3 April 1952)

jan-van-riebeeck-fees-21

Die fees se afsluitingseremonie, met reuse-vloedligte wat Tafelberg en Leeukop asemrowend verlig. (Die Burger, 7 April 1952)

jan-van-riebeeck-fees-22

In 2002 skryf ek ‘n brief vir die Tyger-Burger net om te sê dat dit nodig is dat ons ons herkoms moet vier, maar ongelukkig sal daar nooit weer ‘n Jan van Riebeeck-dag-viering wees nie.