Durbanville-geskiedenis & Interessante Berigte

Durbanville – dorp van die ossewa

img_0717

Aan die einde van die agtiende eeu, toe die belangrikste roetes aangelê is, het dié roetes via ‘n fontein geloop wat die gebied se beste waterbron was. Durbanville het rondom dié fontein ontstaan, wat selfs in die droogste somermaande, daagliks duisende gellings soet water gelewer het. Die hedendaagse middedorp is die plek waar die dorpie oorspronklik geleë is.
Geen boerderygrond is rondom die fontein toegeken nie, aangesien hierdie gebied in die eerste 40 jaar van nedersetting aan die Kaap vir openbare gebruik opsy gesit is.
(“Die Tygerberg”-boek deur N.M. du Plessis, 1998, Tafelberg-uitgewers)

Foto: Die Onze Molen-meul het reeds in 1840 die plaaslike mense se koring begin maal tot vroeg in die 20ste eeu.

img_0712

Hier is een van die oudste kerke in Suid-Afrika, die NG-moederkerk in Durbanville, wat in 1826 ingewy is.

Pampoenkraal verander sy naam na Durbanville

Die Pampoenkraal NG Kerk (bekend as die “Tygerberg”-kerk) het in 1826 tot stand gekom en ‘n Skotse leraar is daarheen beroep.
Daar is toe ‘n skool gebou en die eerste “voorleser-onderwyser” vir die Tygerbergse gemeenskap is aangestel. In 1828 is 20 kinders by die skool ingeskryf.
Die boere en dorpenaars was ongelukkig met die naam Pampoenkraal en daarom het 53 van hulle in 1836 ‘n petisie aan goewerneur D’Urban gestuur. Hulle het daarmee versoek dat Pampoenkraal na hom hernoem word. Die feit dat die dorpie se inwonertal “reeds heelwat styg” en dat sy ligging sentraal en dus geskik vir ‘n veemark was, het hulle as motivering aangevoer. Die versoek is spoedig toegestaan.
Deur die byvoeging van die Franse agtervoegsel “-ville”, is die naam van in 1886, met die regering se instemming, verander. Die dorpie se bevolking het tussen 1878 en 1897 stadig geklim, van 500 tot 1 000.
In 1897 kry dit ‘n dorpsraad en in 1901 raak hulle ‘n munisipaliteit.
(“Die Tygerberg”-boek deur N.M. du Plessis, 1998, Tafelberg-uitgewers)

Op ‘n stil aand kon selfs die see in Durbanville gehoor word

Op reis na die Noord-Kaap teken W.J. Burchell in 1811 aan: “We therefore unyoked at an outspanplace called Pampoenkraal, where during the stillness of the night we could plainly hear the noise of the surf on the shore of Table Bay.”
(Die Burger, Pampoenkraal word reus, 31 Junie 1976)


James King se Durban Wagon Works

100_4518

100_4517

(fotos van die Kaapse Argief)

Hierdie besigheid het 250 man in diens gehad, feitlik elke liggaamlik-geskikte man op die dorp. Gedurende ‘n tydperk van drie maande is 1 100 voertuie, sowel as ‘n enorme hoeveelheid onderdele voltooi.
Hul waens het die “wildernis deurkruis” en is “selfs anderkant die Zambesi” aangetref.
Dié wamakery is in 1906 as die grootste wamakery in Suid-Afrika beskryf, maar die koms van die motor het tot sy ondergang gelei. In 1907 het die besigheid begin wankel en in 1918 is dit gelikwideer.
(“Die Tygerberg”-boek deur N.M. du Plessis, 1998, Tafelberg-uitgewers)


Durbanvillers is bedrywige mense

Terug in die 19de eeu was daar darem nie te min om te doen wat betref sosiale geleenthede nie.
Daar was gereeld musikale aande, debat en drama-uitvoerings, sosiale danse en sport (gewoonlik perdewedrenne), militêre vertonings, jagtogte en selfs jakkalsjag. Daai jare was die dorpsmense baie lief vir perde. Stoetperde was gereeld opgeveil en perderesiese het gereeld in Pampoenkraal plaasgevind.
Gereelde skerpskutterkompetisies was ook aan die orde van die dag.
Die D’urban Volunteer Cavalry het ‘n baie goeie orkes gehad, wat op sosiale funksies gespeel het. Verskeie militêre eenhede het ook gereeld militêre vertonings aangebied.

1843 – Jakkalsjag

foto-deur-priscilla-k-miller-photography

‘n Jakkelsjagtog in Engeland (Foto: Priscilla K. Miller Photography)

Jakkelsjagtogte het in die Tygerberg gewild geraak omdat die area baie jakkalse gehad het – die boere het dit lekker afleiding gevind en hul besoekers getrakteer deur hulle uit te vat op jakkalsjagtogte. In 1843 is the Cape Hunt Club gestig en die eerste jagtog het op 27 Mei van daardie jaar plaasgevind.

“Durbanville – Drie Eeue van Wellewendheid” deur C.M. Stimie, uitgegee deur Mariaanne Moore, CREDA Communications, 2006


1905 – Elektrisiteit vir Durbanville

Dit was die jaar 1905. Die strate van Durbanville was donker en gevaarlik, maar toe kom daar skielik ‘n wonderlike verandering . . .
En toe skielik uit die bloute was daar lig!
Straatbeligting! Paraffienlampe is op strate aangebring. Van 1911 tot 1923 het ‘n reuse “Spaarzaam”-olielamp die Wellington- en Hoofweg- (deesdae se Durbanvilleweg) kruising verlig.
Uiteindelik, in die jaar 1929, het onse Durbanville finaal elektriese straatlampe gekry. Ál die inwoners van die dorp het in die strate bymekaargekom vir dié geskiedkundige gebeurtenis en het hul amper blind gestaar na die wonder van elektriese straatlampe.


1918 – Spaanse griepepidemie – Meer as 87 000 sterf in Kaap

sanish-flu

Tot 1912 was Durbanville se mediese dokter, Dr. Biccard, feitlik die enigste dokter in die Tygerberg. Dr. Biccard het alleen na die gemeenskap omgesien, dwarsdeur die Spaanse griepepidemie van 1918.
Daardie jaar het ‘n allemintige 87 000 mense in die Kaap gesterf (50 miljoen wêreldwyd). Daar is tougestaan om dooies aan te meld en kismakers het reguit bank toe geglimlag.
Duisende jong ouers is dood en die NG Kerk se weeshuis in Kaapstad kon nie voorbly nie. Die Kerk soek toe ‘n groot huis op die platteland vir bykomende huisvesting vir die wesies.
Die jongste King-broer, Gordon Stewart, se huis in Durbanville is aangekoop en die weeshuis – aan die bopunt van Vredestraat – is die volgende jaar ingebruik geneem.

Die hele gemeenskap het toe baie erg gely, aangesien die depressie, die ondergang van die wamakery, die Eerste Wêreldoorlog en die griepepidemie, alles basies gelyktydig plaasgevind het.
Tog het Durbanville dít alles “oorleef” en is vandag ‘n mooi, vooruitstrewende area.
(“Die Tygerberg”-boek deur N.M. du Plessis, 1998, Tafelberg-uitgewers)

685621351_orig

Foto: simran-spanish-influenza.weebly.com


1996 – Die Anglikaanse All Saints-kerk deur brand verwoes

kerk

Die Anglikaanse All Saints Kerk in Durbanville wat in 1862 gebou en as ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, is gisteroggend vroeg heeltemal deur ‘n brand vernietig.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend en aangesien die deure van die kerk gesluit was, word brandstigting nie in dié stadium vermoed nie. Die moontlikheid van ‘n elektriese fout tot aanleiding van die brand, kan ook nie heeltemal uitgeskakel word nie.
Die totale skade aan die kerk beloop sowat R2 miljoen. Die konsistorie wat net onder die galery is se waardevolle inhoud het behoue gebly, aangesien dit deur ‘n betonmuur omring is en die soliede deur toe was.
“Om ‘n gebou te vervang, is maklik, maar die liefde en sorg wat talle gemeentelede oor jare met ‘n handewerk hier ingesit het, is onvervangbaar,” het die opsigter van die kerk, Jim Duggan, gesê.
(Tyger-Burger, 5 Junie 1996)
Intussen, met finansiële bystand van die gemeente, is die kerk weer gerestoureer en tot sy volle oorspronklike glorie herstel.


100_4471

Bo is ‘n advertensie van Goedemoed-woonarea.
(Die Burger Woongids, 24 Maart 1984)


Die 9 km lange laan bloekombome langs Durbanweg

Verbeel jou jy ry op met Durbanweg van Bellville-stasie. Aan weerskante van die pad is ‘n nege kilometer lange laning enorme Bloekombome – 3 000 van hulle – al langs Durbanweg op tot in Durbanville.
Wat ‘n fees sou dít nie wees!
Dié indrukwekkende bome, wat vandag meer as 130 jaar oud sou gewees het, is afgesaag, net om Durbanweg  breër te maak.

img_0749

Op die foto hierbo is ‘n laning bome langs die pad tussen Kenridge en Durbanville.
In die ou dae toe die waens met hul swaar vragte die lang stowwerige pad na Durbanville moes aandurf, sou ‘n bietjie skaduwee ‘n welkome lafenis gewees het. Vandaar die gedagte om bome langs die pad te plant.
Die 6 myl (meer as 9 km) bome sou skaduwee bied vir die perde en osse wat so ver moes ry en ook as versiering dien.
Die laan bome het oorspronklik van Bellville-stasie tot by Durbanville, oor ‘n afstand van 6 myl gestrek.
‘n Predikant van die Engelse Kerk in Durbanville, ene eerw. G. Lawrence, blyk die leidende figuur by die hele onderneming te gewees het. In ‘n brief aan Mnr Clarke, ‘n lid van die Afdelingsraad, is daar gevra vir 3 000 bloekombome. Die bome is toe verskaf en aangeplant en dateer uit die jaar 1886.
Met die koms van elektrisiteit het die sierlike laan in Bellville spesifiek daaronder gelei, aangesien kragpale en -drade aangelê moes word.
Met die koms van die karmotor moes die laan in sy geheel in Durbanville plek maak vir breër strate.
Die destydse Historiese Monumentekommissie het die laan in 1927 besigtig en oorweeg om dit tot historiese gedenkwaardigeid te verklaar, maar selfs hulle het die stryd teen onstuitbare vooruitgang verloor.
(“Bellville” deur C.J. Scheepers Strydom, 1981, Nasionale Boekdrukkery)

dsc05488

1949 – The famous 103 Giant Bluegum trees must go

Work on the removal of 103 Giant Bluegum trees out of 1 387 in Durbanville Avenue is to start on Friday. It had become imperative to remove them so infrastructure progress could take place in the area.
(Cape Argus, 26 March 1949)

1957 – Report on Durbanville Bluegums

At a meeting of the Divisional Council of the Cape, an expert presented a report regarding the historic avenue of Bluegums, stretching all the way from Bellville to Durbanville. More and more traffic most probably necessitates widening of the road or building of a double roadway. Authorities have recently elected for felling of the trees.
(Cape Argus, 20 January 1957)


Hotelle en nagklubs in Durbanville

Die Durban Hotel het sy naam na Durbanville Hotel verander. Hierdie hotel het die dorp se mans bedien en huisvesting aan reisigers gebied.
In 1906 het die International, ‘n luukser hotel, aan die bopunt van Wellingtonweg oopgemaak. Aangesien die hotel nie ‘n wins kon maak nie, is dit in 1913 gesluit. In 1919 het dit as die Grange Hotel herleef.
In 1907 is die Oxford Hotel op die hoek van Wellingtonweg en Oxfordstraat begin. Dié gebou het later die welbekende kroeg Oxford Beans gevestig en vandag is daar ‘n Absa-gebou op die perseel.
(“Die Tygerberg”-boek deur N.M. du Plessis, 1998, Tafelberg-uitgewers)

1995 – Tiener-vandale bemors Durbanville oor naweke

Sakelui en inwoners naby Wayne’s World, ‘n groot arkade, moet elke Saterdagoggend braaksel en urine voor hul deure en op hul trappe afwas, en leë en gebreekte drankbottels, gebruikte kondome verwyder.

discomusic-com

Tieners kap dit uit op die dansvloer. (Foto: discomusic.com)

Weens die voortdurende klagtes het die polisie een Vrydagaand ondersoek gaan instel. Buitekant die gebou het talle tieners rondgehang. ‘n Jong, 14-jarige meisie was só dronk, dat haar vriende haar moes regophou. Van die kinders het die beamptes hard gevloek en liederlik geskel. ‘n Paar is na die plaaslike verkeersdepartement geneem. Hul ouers is dan gebel om hulle te kom haal.
Onsekerheid heers tans oor of daar ongerymdhede met drankverkope binnekant of buitekant Wayne’s World plaasvind.
‘n Motorkar vol drank was blykbaar een Vrydagaand in Scherstraat buitekant die sentrum geparkeer en drank is glo aan die tieners verkoop. Tilana Lubbe en Gerridene Jones van Valmary Slaghuis oorkant Wayne’s World sê hul voordeur en stoep moet elke Saterdagoggend skoongemaak word. “Die reuk van braaksel is soms so intens dat dit binne die slaghuis geruik kan word. Duur plante word uitgeruk en kondome moet gereeld verwyder word. Leë wodka- en brandewynbottels lê oral rond.”
‘n Woordvoerder van ‘n bank daar naby het gesê daar was al duisende rande se skade aan die kitsbank weens (die killer-combo) urine en bier.
Gillian Blaauw, Wayne’s World-eienaar, was by navraag verras oor die klagtes. “Die doel van die sentrum, met pool-tafels, arkade-speletjies en ‘n disko op Vrydagaande, is juis om die kinders van die strate áf te kry,” het sy gesê.
“Tot soveel as 200 kinders kuier Vrydagaande by die disko. Niemand ouer as 18 word toegelaat nie, sakke moet buite gelaat word en wapens word gekonfiskeer. Geen drank word verkoop nie. Hulle drink elders of bring dit van hul ouerhuise. As hulle in ons toilette opgooi, maak ons skoon.”
(Die Burger, 5 Julie 1995)


1961 – Groot meer beplan vir Durbanville

Die Mosselbankrivier naby Phisantekraalstasie sou opgedam gewees het om ‘n meer groter as Zeekoevlei (3 km lank en 1½ km breed) te skep op die plaas Stille Wateren, sowat 8 km buitekant Durbanville. Die meer sou fasiliteite soos jagvaart, roei, swem en visvang ingesluit het in ‘n plattelandse atmosfeer sonder enige besoedeling.

durbanville-meer-01

“Kaptein span die seile . . .”

rhannabanana-blogspot-com

‘n Voorstelling van Durbanvillers wat langs die groot dam ontspan.
(Foto: rhannabanana.blogspot.com)

CREATOR: gd-jpeg v1.0 (using IJG JPEG v62), quality = 100

As die groot dam gebou was sou daar heelwat seilbote op die dam gewees het. Die Mosselbankrivier kan beslis opgedam word – dit het ‘n aansienlike groot opvangsgebied en oorstroom by tye.  (Foto: visitmalcesine.com)

Intussen wag ons steeds almal vir die groot dam in spanning, wat sal lei na heerlike ontspanning.

Tygerberg News, 1 Desember 1961 & “Durbanville – Drie Eeue van Wellewendheid” deur C.M. Stimie, uitgegee deur Mariaanne Moore, CREDA Communications, 2006


2003 – Butlers Pizza & Scooter Pizza drywers in Durbanville gaan deur hel vir tips – (deel 1)

Ek het ‘n video gemaak in 2003 van pizza-drywers. Hoe hulle deur hel moet gaan net vir ‘n paar rand se tips en hoe hulle kort-kort verdwaal. Pizza aflewering is harde werk. Onthou om altyd die pizza-delivery man ‘n fooitjie te gee.

 

2003 – Butlers Pizza & Scooter Pizza drywers in Durbanville gaan deur hel vir tips – (deel 2)

Ek het ‘n video gemaak in 2003 van pizza-drywers. Hoe hulle deur hel moet gaan net vir ‘n paar rand se tips en hoe hulle kort-kort verdwaal. Pizza aflewering is harde werk. Onthou om altyd die pizza-delivery man ‘n fooitjie te gee. Hierdie is deel 2.