Kuilsrivier – Geskiedenis vanaf 1680

1680 – Geskiedenis van Kuilsrivier

Kuilsrivier was eens ‘n klein, slaperige ou dorpie. Tans is dit egter een van die vinnigsgroeiende voorstede van Kaapstad. Die dorp het in die ou dae as De Cuijlen bekend gestaan.

Met die uitbreiding van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (NOIK) was dit noodsaaklik dat meer veeposte gestig moes word. Goewerneur Simon van der Stel het op 8 Januarie 1680 aanbeveel dat ‘n veepos opgerig moes word by ‘n sekere “oort de Cuijlen”. Die veepos is in 1683 langs die Kuilsrivier voltooi. In daardie jare het die leeus nog dik rondgeloop in die area. In die vroegste jare in die Kuilsriver-omgewing was daar ook heelwat seekoeie, otters, likkewane, wilde volstruise en ander wilde diere. In 1694 het ‘n leeu selfs sewe melkkoeie van die Kompanjie verskeur.

Voordat die Duitse boere hulself op die Kaapse Vlakte kom vestig het, was Kuilsrivier die primêre groenteverskaffer in die Kaapkolonie. Die lang tog (met ossewaens) na die Kaapse oggendmark het normaalweg Donderdagmiddae begin. Hulle het dan op “Waaisand” (Goodwood) gerus, ongeveer halfpad tussen Kaapstad en die Kuilsrivier-area.


EERSTE SKOOLGEBOU: Die eerste skool is in 1898 geopen. Die einste skoolgebou het vir baie jare ook as kerk en biblioteek vir die plaaslike gemeenskap gedien. Kort voor lank is ‘n skoolsaal en verdere klasse aangebou. In latere jare het ene Jan Mostert die kompleks gekoop en van die klaskamers in woonstelle omskep. Die woonstelletjies het as “Mossieneste” bekend gestaan.

NG KERK: Die kerkgebou van die Moedergemeente is op 29 November 1904 ingewy.

JAN KRIEL-SKOOL: Dié NG-kerk se pastorie-seun is in 1925 vanweë epilepsie oorlede. Dit het in 1937 gelei tot die uiteindelike registrasie, deur sy ouers, ds. en mev. Kriel, van die pastorie as die “Jan Kriel Tehuis en Skool”, vir die “behandeling van persone onderhewig aan vallende siekte”.
Tans staan die skool bekend as die Jan Kriel-Skool.

EERSTE STADSRAAD: Die dorpsbestuur het uiteindelik op 4 Desember 1950 munisipaliteitstatus verkry.

MIKRO (CH KUHN): Die Suid-Afrikaanse skrywer Mikro, wat ‘n allemintige 107 boeke geskryf en gepubliseer het, het 37 van daardie boeke in Kuilsrivier geskryf. Sy gewildste boek, Die Ruiter in die Nag, is selfs verfilm. Mikro se hoogste kwalifikasie was maar ‘n beskeie standerd 10 (graad 12).

MRS. BALL SE BLATJANG: In die laat 19de eeu het mev. Ball haar oral-bekende blatjang in ‘n geboutjie op die destydse stuk grond agter die huidige Aroma begin kook.

DIE HALFWAY HOUSE HOTEL: Dié hotel was die laaste van die hotelle in die Kuilsrivier van toentertyd. Interessant genoeg het die Halfway House destyds drank aan kleurlinge verkoop! Verder het die hotel sy kleedkamers aan besoekende rugbyspanne beskikbaar gestel, aangesien die plaaslike rugbyklub in daardie jare nog nie sy eie kleedkamers gehad het nie.


Ou Kuilsrivier-huise wat vandag nog staan

Leeuwenhof: Teen die jaar 1700 het Leeuwenhof (vroeër bekend as Papegaaibosch), as deel van die landgoed De Kuilen, Olof Bergh se eiendom geword. Daniel Bosman het in 1788 die herehuis Leeuwenhof hier gebou.

Zevenfontein: In die jaar 1688 is die plaas Langverwacht aan ene Jean le Roux toegeken. Dit was ‘n lank tyd later, in 1793, dat die plaas Zevenfontein aan ene Daniel Bosman toegeken is. Ses jaar later word ene Petrus Hiebner die eienaar en in 1800 word die herehuis gebou. Einste huis is vandag ‘n nasionale, historiese gedenkwaardigheid. In 1825 word die eerste wyne op dié plaas geproduseer. Gilbert Colyn het uiteindelik Zevenfontein in 1979 aangekoop en in 1980 die plaas Langverwacht. Saam staan die twee plase as Zevenwacht bekend.

Bellevue: Dié plaas is in 1701 deur goewerneur W.A. van der Stel aan C. Groenewald toegeken. In 1803 is die huidige T-plan-opstal gebou. Meer onlangs, in 1993, word die Kaap-Hollandse plaashuis tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Hazendal: Dié plaas is in 1704 ook deur W.A. van der Stel aan C. Hazenwinkel toegeken. Die plaasopstal is in 1790 gebou en meeste van die gebou staan tot vandag toe nog. In daardie jare is Hazendal as ‘n halfwegstasie tussen Kaapstad en Wellington gebruik. In 1992, word Hazendal tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Koopmanskloof: Die plaas is in 1702 óók deur W.A. van der Stel aan Jan Rotterdam toegeken. Die plaasopstal is in 1801 gebou. In 1896 is die plaas vir ‘n skamele R2 400 (natuurlik was dié ‘n plaas se prys daai jare) deur W.S. Smit (die huidige eienaar, Stevie Smit, se oupa) gekoop. Die huis is in die vroee sestigerjare tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Mooiplaas: Dié plaas is in 1712 aan C. Hazendal toegeken. Aan die einde van die 18de eeu het Willem van As die eienaar geword en ‘n opstal daar gebou. In 1989 is Mooiplaas se herehuis tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

(Uit Die Ontstaan, Stigting en Ontwikkelingsgeskiedenis van Kuilsrivier: 1683 – 31 Desember 1993, skrywer J.H.H. Visagie)


De Kuilen as buitepos van die kompanjie

Terug in die 17de eeu was die pad na die binneland niks anders as diep, sanderinge grond en woeste duine nie. Reisigers wat die Kaapse Vlakte moes oorsteek, het ‘n plek nodig gehad waar hulle hul trekosse kon laat rus, water gee en laat wei. In daardie jare was goeie trekosse so waardevol soos goud. Dit het gelei tot die bou van ‘n huis deur Simon van der Stel by De Kuilen in 1680. Vroeg die volgende jaar was daar ‘n eenvoudige huis van baksteen-en-kleimure, met ‘n groot skaapkraal langsaan. Die veepos was deur slegs drie man beman – ‘n korporaal en twee soldate.

Die volgende jaar was gevul met allerlei rampe. Daar was baie vloede in daardie jaar van 1682, wat groot plantasie-skade aangerig het. In ‘n stadium het een van Olof Bergh se waens selfs weggespoel. Behalwe die vloedens, het die wilde leeus in die omgewing naby De Kuilen ‘n ál hoe groter probleem geword. Een het selfs in Julie daardie jaar ‘n bees van die Kompanjie opgevreet. De Kuilen was daai tyd ‘n uiters belangrikse veepos vir die Kompanjie.


Olof Bergh, De Kuilen se eerste eienaar

CREATOR: gd-jpeg v1.0 (using IJG JPEG v80), quality = 100

Die avonturier Olof Bergh se huwelik met Anna de Koning was een van die eerste gemengde-ras huwelike in die Kaapkolonie. Sy was Jan van Riebeeck se voormalige slavin se dogter . . .
Onder Simon van der Stel was Olof Bergh deel van die Kaapse garnisoen. Hy moes gereeld toesig hou oor gestrande skepe aan die Kaapse kus. Ongelukkig vir hom was sy vingers net ‘n bietjie te lank en het hy in 1686 strandroof gepleeg vanaf ‘n Portugese skip wat by Kaap Agulhas gestrand het. In 1687 is Bergh na Robbeneiland gestuur vir tronkstraf vir sy absoluut onaanvaarbare gedrag, maar tog was hy nie vir meer as ‘n jaar opgesluit nie. In 1700 het Bergh die eerste eienaar van De Kuilen geword.
(Die Geskiedenis van Kuilsrivier, 1652 – 1905, Adinda L. Vermaak)


img_9511

‘n Advertensie vir die verkoop van 60 erwe langs Kuilsrivier se hoofweg op 29 Augustus 1898.
(De Zuid-Afrikaan, 29 Augustus 1898)