Van wa-spore deur die sand tot die paaie van vandag

img_8205

Die foto hier bo is die ou, gewese houtbrug by die kruising van die huidige Voortrekker- en Durbanweg. Die foto is in 1899 geneem. Kan jy dit glo?!
(Foto: “Bellville” deur C.J. Scheepers Strydom, 1981, Nasionale Boekdrukkery)

Soos alle helderdenkende persone tog weet, was daar toentertyd natuurlik geen N1-snelweg nie. Reisigers moes maar tevrede wees met stowwerige wa-spore in die somer en modderpadjies vol slaggate in die winter. Die Kompanjie was natuurlik daardie jare bloot op wins ingestel, en die bou van paaie was beslis nie ‘n prioriteit nie. So ook wou die boere nie hul skaars kapitaal aan padbou bestee nie.

‘n Span osse kon daai tyd teen sowat 5 – 6 km/h beweeg en drie tot vier uur lank daarmee volhou. Aan die einde van elke skof is hulle eenvoudig uitgespan en laat suip, wei en rus.
D.w.s, in die jaar 1700 het dit ‘n span osse ongeveer 4 ure geneem om die 12 myl (19.2km) van Kaapstad na Bellville af te lê. Nou, sowat 300 jaar later, neem dit slegs 18 minute met ‘n kar . . . en oor 300 jaar, in die jaar 2300 sal dit sowat 1 ½ minute neem.

Uitspannings is dus op gerieflike afstande uitmekaar gevestig, waarookal standhoudende vars water en ‘n goeie kampplek te vinde was. Die enigste pad uit die Kaap het na Soutrivier geloop. As jy laat vertrek het, was daar ‘n uitspanning by Maitland. Dié wat vroeg genoeg uit Kaapstad vertrek het, kon die uitspanning by Kuilsrivier bereik. Ander het Hardekraaltjie (later jare in Bellville) gebruik.

Namate die eerste reisigers ooswaarts van die Kasteel om die punt van die Tygerberg beweeg het, het hul spore gou saamgevloei om die hoofroete te vorm. In 1724 is pale geplant om die pad aan te wys omdat die paaie soms met sand toegewaai het.

Die Kaapse Wagen Weg was die enigste grootpad uit die Kaap. Die pad was naamloos tot in 1843, toe dit amptelik Maitlandpad geword het, later bekend as Voortrekkerweg. Die mense het bloot gepraat van “die pad oos”.
(Uit die Tygerberg-boek)


Die geskiedenis van Voortrekkerweg

Die hardepad (vandag se Voortrekkerweg) het destyds oor ‘n afstand van 38.4km oor die Kaapse Duine gestrek. Die pad is hoofsaaklik deur bandiete gebou om onkoste te bespaar. Een bandietstasie is by die tiende mylpaal op die plaas Tygervlei opgerig. Die elfde mylsteen was by die Hardekraaltjie-uitspanning, tans die karavaanpark net suid van Voortrekkerweg. Die twaalfde mylpaal (19.2km) staan vandag nog op die hoek van Voortrekker- en Durbanweg. Die veertiende mylpaal (22.4km) was waar die pad, oor Brackenfell en Kraaifontein, na Paarl gaan. Die vyftiende mylsteen het oorspronklik aan die westekant van die huidige Sareptaweg/Van Riebeeckweg kruising gestaan. Dan, by die sestiende mylpaal, was Kuilsrivier, die perfekte lokasie vir nóg ‘n bandietstasie.
(Uit ‘n tesis deur Adinda L. Vermaak, “Die Geskiedenis van Kuilsrivier, 1652 – 1905”)

ACD Systems Digital Imaging

Goodwood se sewende mylsteen in Voortrekkerweg. Dié mylsteen staan nou voor die Goodwood-museum.

die-12de-mylpaal

Die twaalfde mylsteen op die hoek van Durban- en Voortrekkerweg in Bellville, wat tot my verbasing nog nie omgery is deur ‘n minibus-taxi nie.

dsc05319

Die Historiese mylsteen gemerk XV (wat 15 myl na die Kaap beken ) is tans in die voorportaal van Kuilsrivier se munisipale gebou,. Die klip is destyds gebruik langs die hoofpad tussen Kaapstad en Stellenbosch en aangebring om die afstand tussen Kaapstad en Kuilsrivier te meet. Dit is as nasionale gedenkwaardigheid verklaar (en is hopelik nog nie deur enige vandale of skobbejakke weggedra nie).

Die 17de mylsteen is vandag steeds in Durbanville te sien. Dit dui natuurlik, soos ál die ander mylpale in die omgewing, die afstand van Kaapstad aan.

Nóg ‘n mylsteen, die 16 myl ene, staan tot vandag toe nog in De Villiersrylaan.


Kuilsrivier se Hardepad: 1840 – 1845

Die hardepad, bekend as Kuilsrivier se Van Riebeeckweg.
Vroeg reeds, in 1685, het Kommissaris H.A. van Reede die De Kuilen omgewing opgemerk as ‘n area met potensiaal. Hy het die streek beskryf as “wydt en breed, boomloos en sandagtigh” en het gehou van die heide, poele en hoë wit sandduine.
Reisigers wat die Kaap besoek, het natuurlik ‘n baie goeie indruk van indrukwekkende en skilderagtige omgewings soos Rondebosch of die vrugbare Eersteriviervallei by Stellenbosch gehad. Om by die uitspanplek by De Kuilen uit te kom, moes hulle eers deur ‘n onherbergsame woestynland swoeg, tussen die verblindende wit reuse-sandduine deur wat oral tussen die plantegroei uitgestaan het.
(Uit ‘n Tesis deur Adinda L. Vermaak, Die Geskiedenis van Kuilsrivier, 1652 – 1905)

Eers in 1843 is besluit dat die pad oos ‘n nuwe goeie oppervlak moes kry. Die pad het later bekend geword as Maitlandweg.
Die bouers wou plaaslike grondstof gebruik en vandaar het die steengroewe in die Tygerberg ontstaan. ‘n Area tussen Lobenstein en Plattekloof is ontgin. Ander plekke waar steengroewe ontstaan het, was by die Oosterzeestasie, die tronk in die Elsieskraalvallei (waar die Tyger-Waterfront vandag is) en in die heuwels naby Vissershok en Fisantekraal.
In 1848 is daar ‘n begaanbare pad deur Bainskloof oor die berge na die binneland geopen, wat ‘n aansienlike toename in verkeer na Wellington via Durbanville tot gevolg gehad het. Die ou hoofpad deur die Elsieskraalvallei na Durbanville was dus nou onvoldoende. Bain was toe weereens gekommandeur om ‘n nuwe hoofpad van Maitlandweg na Durbanville te bou. Hierdie roete is in 1853 voltooi en het bekend gestaan as Durbanweg. Tot vandag toe nog, meer as 160 jaar later.
(Die Tygerberg-boek deur N.M. du Plessis, 1998, Tafelberg-uitgewers)


Voortrekkerweg is kleurvol versier tydens Kersfeestyd

ACD Systems Digital Imaging

Helder, kleurvolle liggies versier Voortrekkerweg in Bellville gedurende Kersfeesvieringe in 1992. (The Cape Argus, 25 November 1992)