1652 – Weglopers toe eerste blankes in noordelike voorstede

Op 25 September 1652 het Jan van Riebeeck verneem dat vier kompanjiedienaars, Jan Blanx, Jan van Leijen, Willem Huitjens en Gerrit Dirckssen, weggeloop het. Die rede hiervoor was ontevredenheid oor die aanhoudende en moeilike werk aan die fort en die swak gehalte van die kos.
Hulle was die eerstes uit Van Riebeeck se geselskap wat dit gewaag het om die veiligheid van die fort te verlaat om die ylbegroeide, onherbergsame, feitlik boomlose sandvlakte aan die oostekant van Tafelberg aan te durf.
Van Riebeeck was bang dat ander ook sou dros en het toe ‘n beloning van 50 gulden uitgeloof aan enigiemand wat inligting oor die drosters kon verstrek.
Hulle wou blykbaar probeer om hul vaderland oor land te bereik! Hulle wou te voet tot by Mosambiek vlug en vandaar per skip terug na Nederland vaar. Die berge wat hulle op hul pad teëgekom het, het egter verhoed dat hulle verder as 24 myl (38 km) na die ooste kon vorder. Hulle het waarskynlik net tot by die Hottentots-Hollandberge gevorder. (As hulle maar net geweet het hoe ver Mosambiek is!)
Volgens Jan Blanx, die leier van die drosters, se joernaal, het hulle op die eerste dag reeds twee renosters raakgeloop wat hulle bestorm het om hulle te “vernielen, maer God bewaarde ons”. Hul beproewinge het nie dáár geëindig nie. Nadat hul hond ernstig in ‘n onderonsie met ‘n ystervark beseer is, en die twee renosters hul boonop weggejaag het van die stroompie waar hulle wou oornag, het hulle besluit om liewer kuslangs te stap en tussen die duine te slaap.
Hulle het ná slegs ses dae besluit om liewer om te draai en terug te keer na die Fort waar hulle op genadige straf op hul dade gehoop het. So, agt dae later, op
3 Oktober 1652, het die drosters vrywillig teruggekeer.

(Uit ‘n tesis deur Adinda L. Vermaak, “Die Geskiedenis van Kuilsrivier, 1652 – 1905”)


Die Groot Plan: 1698 – 1743

Simon van der Stel is in 1679 as goewerneur aangestel. Op daardie stadium was die kolonie steeds nie selfonderhoudend nie. Graan moes steeds ingevoer word. Op grond hiervan het Van der Stel die Kompanjie oortuig dat ‘n nuwe strategie gevolg moes word. Die toekenning van vrypagplase van sowat 60 morg (700 m x 700 m) aan boere was deel van dié plan.
Elke boer het daarby ook ‘n vierjaar-lening van saad, ‘n dosyn osse, ‘n ploeg en ‘n wa gekry. Hul produkte moes hulle deur die Kompanjie verkoop en ‘n tiende van hul graan aan die Kompanjie verskaf. Hulle moes meel-, tabak- en drankbelasting betaal, sowel as ‘n heffing tot bydra van die prysgeld vir die “leeus en tiers”.
(“Brackenfell . . . van toeka tot nou”, Dalena Vollgraff, 2001)


Die uitgifte van plase in die noordelike voorstede

1680 – Evertsdal
1698 – Diemersdal
1698 – Droogekraal
1698 – Fisantekraal
1698 – Hooge Berg Vallei
1698 – Klein Olifantskop
1698 – Mosselbank
1699 – Plattekloof
1701 – Bellevue
1701 – Goede Ontmoeting
1701 – Lobenstein (vandag Loevenstein)
1702 – Bloemendal
1702 – Clare Anna Fontein
1702 – Het Oude Westhof
1702 – Hooggegelen
1702 – Koopmanskloof
1702 – Kuiperskraal
1702 – Maastricht
1702 – Meerendal
1704 – Berg-en-dal
1704 – Hazendal
1704 – Klipheuwel
1704 – Lichtenburg
1704 – Ongegund
1704 – Onrust
1704 – Oortmanspoort
1704 – Stellenburgh
1704 – Welgedacht
1704 – Welgemoed
1705 – Ronde Bosjes
1706 – Contermanskloof
1706 – Hadersleben (waar Parowstasie vandag is)
1707 – Hoogekraal
1707 – Rustenburg
1712 – Kruispad
1712 – Mooiplaas
1788 – Leeuwenhof
1793 – Zevenfontein


Eversdal se Windmeul (1894)

eversdal-01

Daar word vermoed dat die Schabort-familie gedurende die eeuwisseling (net voor die jaar 1900) die hele Vygeboom- en Eversdal-plaasgebied besit, dié meul laat bou en jare later laat afbreek het.
(Die Burger Bylae, 5 Julie 1997. Die foto is ook in die Kaapse argief.)


Die kanonseinstelsel

Die kanonseinstelsel is as noodsaaklike kommunikasiemiddel in die Kaap gebruik.

Die seinstelsel vir skepe in die hawe:
‘n Seinstelsel is by die Kasteel ingestel om die aantog van skepe aan te kondig. ‘n Skoot is gevuur en ‘n geheime vlag gehys om eers die fort, en later die Kasteel van die skip of skepe se aantog in kennis te stel.
By ál vier seinposte, Leeukop, Robbeneiland, Simonsbaai en Houtbaai, was ‘n kanon en ‘n vlagpaal.
Dié stelsel is later uitgebrei en seinposte is by Simonsbaai, op ‘n hoë sandduin by Muizenberg, op Wynberghoogte, op die plaas Welgelegen en teen die hange van Duiwelspiek, opgerig.

Die seinstelsel vir militêre diens:
Met die tweede seinstelsel is die burgers vir militêre diens opgeroep. Aanvanklik is twaalf kanonskote gevuur, ‘n vlag op die Ruiterstal gehys en ‘n trom geslaan. Hierdie stelsel is later uitgebrei nadat Simon van der Stel plase na die binneland aan boere gegee het en die sein dus te ver was om te hoor.

100_4553

‘n Kaart van die seinposte in die Skiereiland. (“Brackenfell . . . van toeka tot nou”, Dalena Vollgraff, 2001)

Na gelang van tyd is skote vanaf Tygerberg gevuur waarop boere moes reageer op grond van die aantal skote wat gevuur is. Natuurlik het ál hoe meer boere na die binneland en verder van die Kaap beweeg, en daarom moes die stelsel hersien word. Kanonne is op verskeie plekke geplaas en ‘n seinman was by elkeen van dié seinposte gestasioneer. Die seinman moes sy kanon afvuur en ‘n vuur maak om boere te laat weet dat hulle vir militêre diens moes aanmeld.

Die Tygerberg-kanon het nadat hy die sein ontvang het, in drie rigtings gevuur. Die seinmanne het die sein van seinpos na seinpos gestuur, totdat die sein die seinposte in Citrusdal, Worcester en Zuurbraak anderkant Swellendam bereik het.

In 1759 is die stelsel verder uitgebrei en is ‘n kanon op Duyvenheuwel as een van verskeie nuwe seinposte geplaas. Kanonkop het destyds bekend gestaan as Kanonberg en nog voor dit as Duyvenheuwel.

Engeland het in 1795 die bewind aan die Kaap oorgeneem, waarna hierdie stelsel laat vaar is. Dit is tydelik hervat tydens die Bataafse bewind (1803-1806).

Die seinstelsel is slegs 5 keer gebruik in 111 jaar: in November 1695, twee maal in 1781, in Junie 1795 en weer in Januarie 1806, met die tweede Britse oorname van die Kaap. Dit is slegs gebruik vir militêre doeleindes en nie om boere van die aankoms van skepe in die hawe (waar hulle hul produkte kon verkoop) te verwittig nie.

100_5204

Die kanon op Tygerbergheuwel. Dit het ‘n eenvoudige slee-basis van jatyhout. Die slee bestaan uit ‘n raamwerk van vier balke en is voor smaller as agter.


Tygerberg ongelukkig vernoem na kolle en nie na tergende Tiere

100_5231

Destyds het die reeks heuwels oos van die Kaap vir die Hollanders effens soos luiperdvel gelyk en het hulle om daardie rede na die heuwels as Luipaerts Berghen verwys. Hulle kon egter nie tussen die woorde “luiperd” en “tier” onderskei nie en teen 1661 is die naam Luipaerts Berghen reeds so te sê deur Tijgerbergen vervang. Dié naam het na gelang van tyd Tygerberg Heuwels geword.

Tygerberg kry sy naam van die groot groen kolle wat tot vandag toe nog op die heuwels voorkom. Die bokke wat daar rondgeloop het, het mis gelaat wat die grond vrugbaar gemaak het. Om daardie rede groei die gras tot vandag toe nog weliger en beter in daardie kolle as op plekke waar die diere nie gewei het nie.
(Die Tygerberg-boek deur N.M. du Plessis, 1998, Tafelberg-Uitgewers Beperk)