1862 – “Sondag-trein was van die Duiwel!”

www-colourbox

In 1862 is ‘n treinspoor van die Kaap na Wellington gebou.
Voor die koms van die treinspoor het mense in die Kaap selde die stoep verlaat, maar nou kon almal trein ry. En watter dag beter as ‘n Sondag?
Ds. Van der Lingen, leraar van die Paarl, het die treinryery as ‘n ontsettende bedreiging vir die rusdag beskou. Om dié rede het hy ‘n groot boikot-aksie teen die treindiens begin.
Gemeentelede van, onder andere, Stellenbosch, is gevra om te bid vir die afskaffing van die Sondag-treine.
Saam met hul leraar het baie Paarliete geglo treine is werktuie van die Anti-Christus en het selfs die lokomotief “de duivels kruijwagen” genoem!
Daar word selfs beweer dat Van der Lingen gesê het dat diegene wat treinry, al is dit net op weeksdae, reeds die teken van die dier op hul voorkop dra.
Al het hy die trein ‘n instrument van die duiwel en die gruwel van die eeu genoem, het hy wel self later trein gery.
(Die Burger Paarl 30, 7 Maart 1987, foto van Colourbox.com)


Treinstasie het Bellville se begin beteken

Die South African Railway Company het in 1859 ‘n spoorlyn begin bou waarvan Kaapstad die beginpunt sou wees. Hierdie spoorlyn sou dan oor die Kaapse Vlakte na Stellenbosch loop. Daardie jare was Soutrivier en D’Urban Road-stasie die enigste twee stasies tussen die eindpunte. Hierdie spoorlyn is op 3 Mei 1862 geopen.
Net die idee dat ‘n nuwe dorpie naby die nuwe stasie sou verrys, was ondenkbaar. Tog het die regering se beplanners voorspel dat ‘n groot aansluiting, wat deur ‘n spoorlyn en stasie gedien word, die aangewese ligging vir ‘n dorpie sou wees.
Die regering het ‘n nuwe naam vir die plek gegee. In die Gazette van 18 November 1861 is die “intended village [of] Bellville” ter ere van Charles Bell, die staatslandmeter, aangekondig. Vir amper 50 jaar was daar verwarring oor die plek se naam. Die nuwe nedersetting het dit moeilik gevind om die naam D’Urban Road af te skud. Alhoewel sy amptelike naam Bellville was, het feitlik niemand dit gebruik nie. Tot en met 1906 het die passasiers by die D’Urban Road-stasie afgeklim, toe nog die gebruiklike naam vir die dorpie. Deur daarna te verwys as “die Twaalfde Myl”, na aanleiding van die mylpaal langs Maitlandweg (vandag se Voortrekkerweg), het die bruinmense net die verwarring vererger.
(Die Tygerberg – boek deur N.M. du Plessis, 1998)

parow-en-bellville

Parow en Bellville se dorpies in 1901, geleë tussen Maitlandweg (vandag se Voortrekkerweg) en die treinspoor (die oranje lyn).
Die groen kol is die Boston Hotel, die rooie Hardekraaltjie-uitspanplek en die bloue D’Urban Road-stasie.

img_8070-copy

In 1906 the Bellville train station was still known as Bellville Junction.
(Cape Times, 19 May 1956)

img_8070

One of the stairwells to the new subway tunnel at the Bellville station.
(Cape Times, 19 May 1956)

07-09-1964

The Cape Dutch house at the Bellville station.
(Foto: digitalcollections.lib.uct.ac.za)

cb4g1ytw8aa65ch

Passengers relaxing at the Bellville station in 1965.
(Photo from, Rhoda Davids, @RhodaDavids)


Kuilsrivier agiteer vir ‘n eie spoorwegstasie

Op 16 Julie 1861 is die spoorlyn reeds tot by Twaalf Mylpaal, later D’Urban Station (Bellville), voltooi.
Kort ná die opening van die spoorlyn tot op Stellenbosch het ‘n verslaggewer van die Cape Argus op 6 Mei 1862 ‘n treinreis onderneem waartydens hy sy waarnemings neergeskryf het. Hy het die omgewing as ‘n eentonige woesteny en die uitsig op die Kaapse Vlakte deur die treinvenster as ellendig eentonig beskryf. “Kuils River is no-where. It was but a mere stopping-place, itself called into existence by the conveyances of the times; when these were superseded, Kuils River’s work was done. It would be folly to stop trains there, for there is nothing to stop for.”

By D’Urban Station het dinge stadig begin ontwikkel toe twee hotelle reeds gebou, die fondament van ‘n kerkgebou gelê en erwe vir aanbou van huise al uitgemeet is.
Toe bekend gemaak is dat slegs ‘n spoorweghalte by Kuilrivier gebou sou word en nie ‘n volle stasie nie, was daar groot ongelukkigheid.
Toe die spoorbouery en ontwikkeling van Bellville gestaak is, het dit ‘n negatiewe effek op Kuilrivier gehad. Toe die bedrywigheid in volle swang was, was daar drie hotelle in Kuilsrivier, sowel as drie bakkers en vyf winkels. Uiteindelik, vanaf Februarie 1899, het alle treine, insluitende passasierstreine, by Kuilsrivier begin stilhou.
(Uit ‘n Tesis deur Adinda L. Vermaak, Die Geskiedenis van Kuilsrivier, 1652 – 1905)


Kraaifontein-treinstasie

Op 14 September 1876 is die spoorlyn van Bellville na Muldersvlei oor Kraaifontein geopen, die lyn van Kraaifontein na Kalabaskraal op 25 September 1877 en van Kalabaskraal na Malmesbury op 12 November 1877.
Kraaifontein was toe niks meer as ‘n halte met ‘n aanwysingsbord, “Kraaifontein Junction”, nie. Net ‘n klein sinkgeboutjie het daar gestaan waarin die goed wat daar afgelaai is, gebêre is. Die eerste lokomotief op hierdie spoor was die ou lokomotief wat tot ‘n paar jaar gelede nog op die Kaapse stasie gestaan het.


Wat het geword van die spoorlyn na Durbanville?

In 1903 is die Durbanville Spoorlynmaatskappy gestig, met John King as voorsitter. Die bates is gewaardeer teen ₤2 000.
In April 1903 het die Raad hul goedkeuring verleen aan die voorneme van hierdie maatskappy om ‘n spoorlyn te laat bou van Bellville-stasie na Durbanville.
By vergaderings in 1905 en 1906 is dié plan ondersteun. Kommunikasie met die spoorwegowerhede is deur King aangegaan, maar dit het maar gesukkel. Hy het wel ‘n belofte van ondersteuning van die destydse Eerste Minister van die Kaap Dr. L.S. Jameson gekry.
Later het ‘n spoorwegingenieur ‘n moontlike roete na Durbanville opgemeet.
Aan die begin van 1907 is daar geskryf dat as twee treine per dag van Bellville na Durbanville en terug sou ry, die jaarlikse tekort sowat ₤1945 sou wees.
Die vergadering van belastingbetalers van 18 Februarie 1907 het daarop aangedring dat die projek moet voortgaan.
Dr. Biccard, toe die burgemeester nadat King in Februarie 1907 uit die Raad bedank het, het Jameson toe van sy belofte om Durbanville op die voorranglys te sit, herinner.
Die veelbesproke spoorlyn is egter nooit gebou nie.
Die gebrek aan ‘n spoorlyn is waarskynlik een van die groot redes hoekom ‘n industriële area nooit in Durbanville ontwikkel het nie.

Durbanville – Drie eeue van Welwillendheid deur C.M. Stimie, Die Durbanville Spoorlyn, bl. 46, uitgegee deur Mariaanne Moore, CREDA Communications, 2006

blou-is-spoorlyn-na-die-steengroewe-waar-die-tyger-waterfront-vandag-is-rooi-is-die-boogde-treinspoor-na-durbanville-wat-noot-gebou-is-nie-copy

Hierdie kaart van ongeveer 1901 moes ek met gróót moeite van die Kaapse munisipaliteit smeek.
Ek het ‘n geel lyn getrek waar Maitlandweg (vandag se Voortrekkerweg) is.
Die oranje lyne is die huidige spoorlyne.
Die blou lyn is die spoorlyn na die steengroewe waar die Tyger Waterfront vandag is. Dit is daarheen aangelê om gruisklip in hul tonne te verwyder.
Die rooi lyn is die beoogde roete vir die spoorlyn na Durbanville wat toe nooit gebou is nie.