Parow – Sanlam-sentrum

1972 -Die Sanlam-sentrum in Parow open sy deure

100_4337

So het dit eergister gelyk in die binnehof van Sanlansentrum, die nuwe inkopieparadys in Parow, kort nadat dit deur die burgemeester van Parow geopen is. Die winkelsentrum het ‘n ongelooflike 55 winkels. Sedert die opening het sowat 40 000 mense al deur die sentrum se deure gestap.
(Die Burger, 28 Oktober 1972)


1975 – Inkopiemalligheid  toe kopers begin stormloop

Dit was inkopiemalligheid toe twee groot winkels in Parow en Claremont gisteroggend vrieskaste teen R50 en seunsbroeke teen net 50c verkoop het.
‘n Massiewe massa mal inkopiegangers het gisteroggend by twee takke van ‘n bekende winkel se winteruitverkoping amok gemaak. In Parow het vele reeds sedert eergisteraand voor die winkel tougestaan. Die winkel se groot vensters het gisteroggend byna gebreek onder die druk van sowat 600 mense wat net wou in om hul swaarverdiende salarisse te spandeer. Die personeel het grootoog die minute afgetel voordat hulle die deure uiteindelik oopgemaak het.

100_4335
Toe die klok negeuur slaan, was dit net ‘n stormloop.
Vier jong manne was natgesweet, doodmoeg en moes kalmeerpille soek nadat hulle gehol het vir die goedkoop vrieskaste.
Sitkamerstelle is spotgoedkoop, teen net R50 stuk, verkoop.
Dan was daar strykysters teen R2 elk, dames-broekpakke teen R3 elk en kousbroekies teen ‘n belaglike 5 sent elk.
Tien vroue het selfs pelsversierde jasse teen ‘n skrale R5 elk gekoop.
Tydens die stormloop is ‘n bejaarde dame teen ‘n toonbank vasgedruk, hande-viervoet. In die deurmekaarspul het sy selfs haar rok se knope verloor. Sy is toe baie vies daar weg.
Volgens mnr. C.B. Fourie van Tygerdam was die ondervinding die moeite werd. Ná ‘n lang, koue wag het hy sy vrieskas.
Toe die deure geopen het, het ‘n jongman wat die winkel se uitleg geken het, geheel en al verkeerd gehardloop. Hy het sedert Dinsdagnag gewag en was van die eerstes wat die winkel binnegestorm het, maar het in die afdeling vir vroueklere beland. “Weet nou nog nie hoe ek daar uitgekom het nie,” het hy naby aan trane gekerm. “Ek was los voor toe hulle oopmaak.”
Een vrou het byna bos gelos toe sy ná die stormloop haar hand op ‘n vrieskas sit en aankondig dis hare op te koop. Volgens haar sê die Wet jy moet jou hand op ‘n aankoopitem lê as bewys dis joune en nie een van die ander inkopie-malles het dit gedoen nie. Die arme vrou het egter geen goedkoop vrieskas gekry nie en om dinge erger te maak selfs in die proses ‘n paar roksknope verloor.
(Die Burger, 26 Junie 1975)


1980 – Dallas-ster in Sanlam-sentrum

100_4336-copy

So het dit Saterdagoggend in die Sanlamsentrum gelyk toe Charlene Tilton, wulpse, blonde Dallas-ster, Lucy, die Tygerberg met haar betowerende persoonlikheid en glimlag verower het. Daar was om en by 4 000 mense wat bankvas gestaan het, selfs op die roltrap! Die duisende bewonderaars was glad nie teleurgestel nie. (Bylae by Die Burger, 18 April 1980)