Parow – Interessante gebeurtenisse vanaf 1657

Parow – Interessante gebeurtenisse vanaf 1657

1657   Eerste blankes trek deur die gebied waar Parow vandag is.
1865   Skeepskaptein Parow, stigter van Parow, se skip vergaan in Tafelbaai.
1886   Kaptein Parow bekom plase waarop Parow gevestig word.
1903   Kaptein Parow lê hoeksteen van eerste skool – tans Parow Laerskool.
Dorpsbestuur van Glen Lily, Fairfield en Parow kom tot stand.
1904   Planne vir eerste hotelle goedgekeur: Parow Hotel en Central Hotel.
(Parow Hotel gesloop in 1974.)
1905   Die eerste kerkgebou, naamlik dié van die N.G. Kerk, in Sarel Cilliersstraat opgerig.
1907   Eerste bakkery.
1910   Parow se eerste verkeersoortreder word R1,00 elk op twee aanklagte beboet.
1914   Eerste apteker in Parow.
1915   350 geboue al in Parow se dorpsgebied.
1917   Dr. D.F. Malan lê hoeksteen van die Nasionale Saal.
1918   Groot Griep eis baie lewens in Parow. Die Nasionale Saal enigste plek waar lyke
gehou kon word.
1921   Eerste fabriek (Plywoods) begin met produksie.
1925   Eerste kraanwater beskikbaar.
1928   Elektriese kragskema goedgekeur – 80 verbruikers en 25 straatligte.
1930   Eerste sypaadjies in Voortrekkerweg, van beton.
1939   Parow word munisipaliteit.
1949   Begin met konstruksie van rioolskema.
1951   Parow-Noord-swembad word voltooi. (Die eerste munisipale swembad in die Tygerberg).
1952   Kaapstad is 300 jaar oud. Parow neem deel aan die reusagtige Van Riebeeckfees in die Kaap.
1955   Eerste dorpswapen aangekondig.
Eerste ampsmotor, met die registrasienommer CY 1, vir die burgemeester gekoop.
Burgersentrum deur dr. D.F. Malan geopen.
Op 25 Oktober word eerste erwe in Parow-Noord verkoop.
1958   Op 31 Januarie word Parow ingevolge die Wet op Groepsgebiede geproklameer.
1961   Parow se eerste behuisingskema vir kleurlinge – 329 huise.
1962   Parow kruis die N1 nasionale pad vir die eerste keer met beoogde ontwikkeling.
Bouwerk begin aan die Tygerberg-hospitaal, toe een van die grootste hospitale in die wêreld.
1968   Munisipaliteit kry sy eerste rekenaars.
1974   Tiervlei se naam verander na Parowvallei.
1978   Kanalisering van Elsieskraalrivier deur Parow voltooi 43 jaar nadat eerste onderhandeling begin is. Uiteindelik, geen meer oorstromings nie!
2003   Parow raak 100 jaar oud.


Kaptein Johann Heinrich Ferdinand Parow

kaptein-parowkaptein-parow-se-standbeeld

Kapt. Johann Parow (links) en ‘n standbeeld van hom voor die Parow-burgersentrum (regs). Met sy kop omhoog, stoot hy sy bors trots uit en kyk uit oor die pragtige Parow.

Hier is iets wat my diep beswaard maak. Hoekom het Bellville nie ‘n beeld van Charles Bell gegiet na wie Bellville vernoem is nie? Ek is ‘n gebore Bellvilliet en ek dring sterk daarop aan dat Bellville óók ‘n baie mooi beeld kry van ons eie “bobaas held”.

Johann Parow is meer as net die man wat Parow gestig het. Hy is die held van ál die Parow Arrows. Volgens urban legend het hy die langste mullet ooit gehad en van die ou gaardes van Parow beweer hulle sien steeds sy spook soms in ‘n vinnige Datsun in die strate van Parow rondry.
Johann Heinrich Ferdinand Parow is op 1 Maart 1833 in Born am Darss in Pruise (vandag deel van Duitsland) gebore.
Tydens ‘n reuse-storm in 1865 in Tafelbaai het 19 skepe aan die kus gestrand, waaronder kapt. Parow se skoener, die Kehrwieder. Nadat sy skip gestrand het, het Parow hom hier in die Kaap gevestig. Kort nadat hy homself gevestig het, het hy begin bevel voer oor ‘n kusvaarder tussen Tafelbaai en die Weskus. Kort voor lank is Parow getroud – met Johanna Wilhelmina Timmerman, dogter van die familie wat hom gehelp het toe sy skip gesink het.
Parow het sommer gou besef die Tygervallei hou groot potensiaal in en hy het besluit om weg van die see te trek en met grootvee handel te dryf. Hy het later met grond begin spekuleer in die area waarop Parow (die dorp) later uitgelê is en was uiters suksesvol.
Die voorstad Parow is natuurlik na hom vernoem. Die bejaarde kaptein het in 1910, op die ouderdom van 77, gesterf. Sy vrou, Johanna, is reeds ‘n volle tien jaar vroeër dood en hulle het nie kinders gehad nie.
So nou kan julle aflei . . . die handjievol oorblywende Parow Arrows is beslis nie afstammelinge van die oorspronklike kaptein Parow nie.

Parow kom nie van gister af nie

‘n Plekgedig deur Debbie Pentz

Kaptein Parow se skip, Kehrwieder, word deur ‘n storm gestrand –
so sit hy vir die eerste keer, in Kaapstad, voet aan land.
Agttien ander skepe loop dieselfde tyd deur;
dit het alles in 1865 gebeur.

Johanna Timmerman se pa sien sy nood –
hy help hom met ‘n bed en brood.
Johann Parow raak verlief op die jong vrou
en kort voor lank staan hul op trou.

Veeboerdery vir handeldryf het sy aandag begin verg –
toe hy potensiaal sien in grond aan die voet van Tygerberg.
Die geld in sy sak maak sy glimlag breed,
uit die grondverkope wat deesdae Parow heet.

Sonder kroos sterf die Kaptein in 1910.
Tien jaar vroeër het Johanna reeds die hemel gesien.
Vandag staan Kaptein Parow se standbeeld voor die Munisipale gebou –
sy teleskoop word ook daarbinne veilig gehou.

Die Afrikaans rapper Zander Tyler is ook in Parow gebore.
Met Jack Parow as verhoognaam, trek hy oral gehore.
Parow is die plek waar ek ook vir jare reeds bly,
maar by ‘n rap-konsert sal jy my nooit ooit kry.

(Bron: versindaba.co.za/2013/09/24/plekgedig-32-parow-kom-nie-van-gister-af-nie/)