Parow-rolskaatsbaan sorg vir wêreldrekord

Parow-rolskaatsbaan sorg vir wêreldrekord

pinterest90395ce09a1994e881ba89c423c2b5d8

Foto’s: Pinterest

Tygerberg se rolskaatsbaan in Parow is gebruik om ‘n wêreldrekordpoging aan te durf om te sien wie die langste sonder ophou kan rolskaats. Die vorige wêreldtyd-rekord in hierdie sport was 97 ure en ‘n groep van 96 geesdriftige deelnemers het Maandagoggend vroeg die baan betree in hul poging om die wêreldrekord te oortref in dié marathon-kompetisie.
Ná 83 uur was die twee voorlopers in die marathon ‘n huisvrou van Parow en ‘n 22-jarige grofsmid van Heathfield.
Die rolskaatsmarathon was vol drama en opwinding, soos verwag kan word van ‘n skaatskompetisie wat vir vier dae en vier nagte aanhou.
Sommige deelnemers het selfs op hul skaatse aan die slaap geraak, sommer so terwyl hul aan’t skaats was, terwyl ander skaatsers eenvoudig inmekaar gestort het weens uitputting, of handdoek moes ingooi. Party rolstaatsers het selfs naaldwerk gedoen om hulle uit die slaap te hou.

100_4390

Gottlieb Kotze, die grofsmid, was die uiteindelike wenner, met ‘n wêreldrekordtyd van 98 uur 5 minute 55 sekondes. ‘n Skare van honderde ondersteuners het Kotze toegejuig toe hy gisteroggend die wêreldrekord oortref het. Selfs die burgemeester, mnr. HJ Winterbach, was daar om die uitgeputte wenner geluk te wens en het ‘n heerlike koek vir hom ingedra. Die eerste prys vir die wenner van die marathon was ‘n motorkar, ‘n Mini Minor, tweede prys ‘n skeepsreis na Durban en terug, terwyl die derdeprys-wenner met ‘n R100 kontant kon wegstap. (Foto-Beeld, Bylae tot Die Burger, 8 September 1968)

100_4388

Oom JC Otto van Parow was die vorige jaar in dieselfde kompetisie ná 6¼ uur van die baan gestuur nadat hy “ ‘n bietjie te woes te kere gegaan het”. Hy het strafpunte teen hom gekry. (Die Burger, 8 September 1968)

100_4389

‘n Advertensie vir die Tygerberg-rolskaatsbaan. (Die Burger, 12 April 1979)

Rolskaatsbaan in Parow sluit oor week ná 30 jaar

Die Tygerbergse rolskaatsbaan in Parow sal Saterdagaand ná 30 jaar sy deure finaal sluit.
Die baan is die enigste onderdakbaan in die Wes-Kaap met ‘n houtblokkiesvloer en die Tygerberg- en WP-rolskaatsklubs het gereeld hul oefensessies daar gehou.
Hendrine de Wet, mede-eienaar, sê mense was mal oor die klub omdat geen sterk drank en dwelms daar geduld is nie.
Die perseel sal nou vir iets anders ontwikkel word.
(Die Burger, 21 Januarie 1995)

1999416a570e89979edfe00085b8a96e

Rolskaats was groot in die 70’s en 80’s, soos gesien kan word in die fliek Roller Boogie. (Foto: Pinterest)