Tygerberg – Interessante Berigte vanaf 1980 – 2002

1980 – Trompoppies skop hoog

100_4427

Die trompoppies van die Hoërskool Fairmont het Saterdagoggend die kleurryke optog van die WP-netbalunie van Vasco-boulevard na die Kaapse Skougronde gelei. Die vorige aand is groot makietie gehou en die biere het lekker gevloei. Die hoogtepunt van die aand was die verkiesing van Mejuffrou Netbal. ‘n Sierwa met Mej. Netbal en haar twee prinsesse het Saterdagoggend die optog gelei. Die grootste trekpleister was seersekerlik die trompoppies, wat met hul eina-klein minirompies menige ‘n tienerseun se hartklop laat styg het. Die Netbalfees is beskryf as ‘n ongelooflike sukses. (Die Burger, 2 April 1980)


‘n Advertensie uit 1980 van Basils in 12de Laan Boston, Bellville

100_4431

(Bylae tot Die Burger, 6 Junie 1980)


Die lewe raak nou duur – Kospryse van 1976 en 1981

img_8067

‘n Voorstelling van stygende kospryse, ‘n artiekel uit Die Huisgenoot


1980 – Bellville Bak en Brou dat dit Bars

100_4433

Leerlinge van Tygerbergse skole neem druk deel aan ‘n koekbakkompetisie vir laerskole om die baasbakker of -bakster in die verskillende standerds aan te wys. Tien uitdunrondes is gehou om die 50 finaliste aan te wys wat op 17 Oktober sake in die Sanlamsentrum sal uitspook. Gewone koekies, hawermout- en klapperkoekies, skons en ‘n wit laagkoek is als deur die leerlinge gebak. Hier swoeg die Laerskool Bellville-Noord se kinders. Selfs die seuns was nie bang om elmboogdiep in die meel te karjakker nie!
(Die Burger, 27 Junie 1980)


1981 -Die meester van Rubick se Kubus

100_4434

‘n Jong genie, die 12-jarige Thys Blom van Welgelegen, sal vir enigiemand wys hoe hy Rubick se Kubus in minder as twee minute kan tem. Hierdie fenominale jong man het selfs ‘n handleiding daaroor geskryf. Kan jy glo?
(Bylae tot Die Burger, 30 Oktober 1981)


1985 – Hierdie waaier was baie gewild in Bellville huishoudings


1982 -Hoheizen-inwoners hou groot buurtbraai

100_4430

Verlede Saterdag het iets nuuts gebeur. ‘n Braai. Maar nie sommer enige braai nie. ‘n Hele paar Hoheizen-inwoners het besluit om bymekaar te kom vir ‘n braai in die park. Dit was ‘n aangename ervaring vir die 60 of so mense wat kom saamkuier het. Hulle dink selfs daaraan om elke jaar so te maak. Wat ‘n verrassing was dit nie, toe die burgemeester óók sy vleisie kom saambraai het.
(Bylae tot Die Burger, 26 Februarie 1982)


1987 – Paasfeesligkruis skyn helder op Tygerberg

montrealnightlifemountroyalcross

As simbool van Paasfees sal ‘n asemrowende ligkruis (soortgelyk soos dié een in Montreal) op Tygerberg skitter – ‘n struktuur van 30 m hoog en 13 m breed, met 40 gloeilampe versier.
Dan van der Westhuizen het jare gelede op ‘n mistige aand gedurende Paastyd ‘n soortgelyke kruis opgemerk wat destyds deur die organisasie Jeug vir Christus opgerig is.
Vandaar die idee om ‘n ou tradisie te laat herleef deur ‘n ligkruis op te rig om ons aan die eintlike rede agter Paasfees te herinner.
(Die Burger, 10 April 1987)


1988 – Hugenoot Fees

100_4435

Dis 1988 en presies 300 jaar ná die koms van die Franse Hugenote. Tydens die feesvieringe in Franschhoek het bykans 30 000 mense opgedaag by die Hugenote-monument, waar hulle ‘n verskeidenheid voorstellings dopgehou het. Duisende Tygerbergers het die lang tog Franschhoek toe aangedurf om die feesvieringe by te woon. (Die Burger, 18 April 1988)

Heelwat Hugenote-vanne in Suid-Afrika

In Suid-Afrika woon meer as 400 000 Suid-Afrikaners met Hugenote-vanne. Hier is ‘n lys met die meeste afstammelinge in Suid-Afrika:

untitled2222

Die res van die Hugenote-vanne se getalle is ongelukkig nie beskikbaar nie.
(Die Burger, 5 Maart 1988)


1988 – Die Burger Sanlam 100-prettrap

Meer as 3 500 kranige fietsryers het Saterdag vroegoggend opgestaan om deel te neem aan Die Burger Sanlam 100-fiets-prettrap. Deelnemers aan die 100km- en 50km-prettrap het by die Sanlamsentrum in Parow weggespring. Daar was talle kleurvolle karakters op hul fietse wat die dag se harde inspanning vergemaklik het. Die wedren was gekenmerk deur ‘n atmosfeer gevul met gees en kleur.
(Die Burger, 10 Oktober 1988)

100_4505

Die koste vir deelnemers om aan die prettrap deel te neem, is nie te baie nie – R6 vir enkel-trappers, R10 vir ‘n gesin (minimum van twee persone) en R10 vir tandem-deelnemers.
(Die Burger, 6 Augustus 1988)

img_7776img_7780

Hier is die bewys dat ek óók deelgeneem het. Op die foto regs het ek my leerbaadjie aan my fiets vasgemaak. Ek het dit vroeër die oggend vir die koue oggendlug aangetrek – hoe idioties. Ek het ook ses blikkies Coke aan my fiets vasgemaak. Die blikkies het my permanent van balans geruk en die baadjie se moue het kort-kort in my voorwiel se speke geëindig. Die 50 km was hel en ek was een van die laastes oor die wenstreep.


Dis 1988 toe skoolfonds net R10/maand was


1988 – Bellville vier Voortrekkers se 150ste bestaansjaar

Ter viering van die Voortrekkers se 150ste bestaansjaar is gereël dat die Groot Trek-geselskap op sy tog uit Kaapstad na die Noorde in Bellville oorbly. Vir hierdie merkwaardige mylpaal in ons geskiedenis het dié stad se Afrikaanse Kultuurvereninging besluit om ‘n bedrywige program vir die naweek van 27 tot 29 Augustus te reël.
Verrigtinge soos onder meer ‘n vlagtablo deur die SA Weermag, ‘n vlaghysing deur die Voortrekkers, optredes deur tamboermeisies van Tygerbergse skole, ‘n optrede deur junior- en senior-Volkspelers, die oordra van groeteboodskappe van Tygerbergse burgemeesters, ‘n fakkelloop en tablo deur die Voortrekkers, sowel as ‘n gimnastiek-vertoning deur 600 leerlinge van die Hoërskool Durbanville, sal op 27 Augustus in die munisipale woonwapark Hardekraaltjie (langs Bellville se openbare swembad) plaasvind. Tradisionele eetgoed soos koeksusters, sosaties en pannekoek sal te koop aangebied word. Sowat 4 000 mense word op die feesterrein verwag.
Die feesoptog deur die stad, bestaande uit perderuiters, 150 Voortrekkers met feesvlae, sowel as leerlinge van die Tygerbergse skole met skool- en landsvlae sal deur die kadetorkes van die Hoërskool Bellville gelei word.
Op Sondag, 28 Augustus, word ‘n erediens in Hardekraaltjie gehou.
Die volgende dag vertrek die ossewa en by die burgersentrum sal die burgemeester, prof. Kristo Pienaar, ‘n groeteboodskap oorhandig.
(Berig dalk uit Die Burger, 1988)


1989 – Die Burger se Mej. Brander-kompetisie

mej-brander

Die pragtige, jong finaliste van Die Burger se Mej. Brander-kompetisie pronk in T-hempies en hul swemuitrustings. Hier is die finaliste. Van lins staan mejj. Kerry Crauser, Yvonne Lotriet, Marinda van der Schyff, Lara Field, Vanessa O’Connell, Adene Burger, Michelle Johnson, Janene du Plessis, Helga Strydom, Maresa Smit, Christelle le Roux, Yolanda Palvie, Liezl Redelinghuys, Esna Arangies en Adele Mostert.
(Die Burger, 21 Desember 1989)


1991, Huisgenotjies – vir elke grappie wat jy destyds vir die Huisgenoot gestuur het, het hulle jou R10 betaal


2002 – Sonsverduistering oor die Tygerberg

100_4440

Op 28 November 2002 het die sonsverduistering leerders van die Laerskool Vredelust in Boston, Bellville in vervoering gehad. Hierdie verskynsel vind baie selde plaas en leerders het hul sonkykbrille nadergetrek om te kan kyk.
(Die Burger, 29 November 2002)


2002 – Saambou . . . saam vou

ACD Systems Digital Imaging

Februarie 2002 – Saambou-bankkliënte staan in lang toue om hul spaargeld te trek.

Saambou-bank is ‘n voormalige Suid-Afrikaanse bank wat op 12 Junie 1942 onder die naam Unie Bouvereniging gestig en in 2006 gelikwideer is.
Die bank is in Februarie 2002 onder kuratorskap geplaas nadat koerantberigte beweer het dat dit bankrot is en kliënte binne net twee dae R1?miljard onttrek het.
Die bank is in 2006 finaal gelikwideer. ‘n Oorskot van R7.568 miljoen, of 4.53c per aandeel is aan aandeelhouers uitbetaal. Die aandele het voor die kuratorskap teen 203c per aandeel verhandel.
(Bron: Die foto van Die Burger, 15 Februarie 2002 en inliging van Wikipedia, die vrye ensiklopedie)


2002 – Scoring Points – short documentary

Ek het hierdie video in 2002 gemaak, in Bellville en Parow toe ek nog by Allenby Filmskool gestudeer het. Die video gaan oor punte wat jy oral kan verdien. Wat ‘n classic video, so baie moeite gehad, veral nadat een van die filmstudente die meeste van my video van die rekenaar afgevee het, hy wou ‘n paar gigs op rekenaar oop maak om plek te maak sodat hy sy videos kan edit. Natuurlik sonder om my te vra, vee hy toe my hele projek aspris van die rekenaar af. Die video was oorspronklik ‘n uur lank. My vriend Anton le Roux doen die onderhoude in die video.