Tygerberg – Kubus Koning

Koning Kubus – “Wonderwerk” uit die Stinkfabriek

Kubus, waaroor die hele land in rep en roer is, is ‘n reklame-foefie!
Suid-Afrikaners het reeds meer as R100 miljoen in hierdie kwansuise konsep belê. Dit lyk asof die hele kubusbedryf binnekort in duie sal stort en duisende Afrikaners sal kort voor lank miljoene rande verloor.
Oral in die land sit mense gretig en wag vir hul sogenaamde “kubus-aktiveerders”. Die kubus-fabriek in Parow is waar die “verwerking” plaasvind. Op die wonderwerk wat daar plaasvind, bou duisende mense die laaste tyd hul drome van vinnige welvaart.
Rapport het die week gaan kyk wat aangaan by die kubusfabriek, wat uit vyf gehuurde saaltjies bestaan. Ons het sonder aankondiging en sonder om vooraf reëlings te tref daar opgedaag en sommer op eie houtjie rondgekyk.
Van die hele fabriek was saal drie die mees interessant. Hier is ‘n groot, elektriese meul sonder ophou aan’t dreun. Dit is hier waar die duisende pakkies kweeksel beland, ingestuur deur duisende oorgretige kwekers. Hier word die sogenaamde aktiveerder blykbaar “vervaardig”. In die verstikkende stank van vrot melk, kaas, gom en papier, skep werkers emmersvol van klein wit en bruin koevertjies. Hierin is niks anders as gedroogde blertse “kubus” nie. Hierdie blertse word dan aan die een kant van die meul ingegooi. Niks anders nie, net blertse.
Aan die ander kant kon ons sien hoe die koeverte met die inhoud in ‘n stroom geel vlokkies uitvloei. Houers vol word deur werkers na lang tafels gedra, waar dit deur rye vroue in groot koeverte afgemeet word. Niks anders word by hierdie gemaalde koeverte gevoeg nie.
Volgens kubus-base bevat hierdie koevert gemaalde gom, papier en kubus-goed – genoeg om 25 glase melk te laat gis. Hierdie “wonderwerk” in die koeverte het duisende mense oral in Suid-Afrika in vervoering. Hierdie stinkende gemors.
Rapport het een van die vroue wat daar werk gevra hoe hul die stank hanteer: “Dit is maar sleg vir die eerste week. Daarna raak ‘n mens dit gewoond. Ál ding is: sedert ek hier werk, eet ek nie meer kaas nie!”
(Die Rapport, 23 September 1984)


Niewoudt reageer: “Bedryf is g’n foefie nie!”

Nóg ‘n storm het gister weer oor die kubusbedryf gewoed nadat ‘n Sondagkoerant aantuigings gemaak het dat als net ‘n reklamefoefie is.
Adriaan Nieuwoudt, kubusbaas van Garies, het als ten sterkste ontken, ook gerugte dat die hele bedryf neerkom op ‘n kettingbrief-aksie.
Volgens Nieuwoudt sal die bedryf beslis nie sommer binnekort in duie stort nie.
Die Burger se kantoor is gister oorval met oproepe van talle ontstelde kubuskwekers om te verneem of die gerugte waar is en of hulle dalk moontlik hul geld sal verloor.
Nieuwoudt hou vol dat sy kubusbedryf nie bloot ‘n reklamefoefie is vir gratis bemarking van sy nuwe skoonheidsmiddel, Cleosec, nie.
(Die Burger, 24 September 1985)


Kubus Koning maak hand oop

Parow se Burgersentrum was Donderdagaand ‘n polsende “onderwêreld” met die bekendstelling, deur Adriaan Nieuwoudt, van sy langverwagte skoonheidsproduk, Cleosec. Reusagtige pryse, waaronder ‘n silwer Porsche 911 Carrera ter waarde van R70 000 en ‘n Golf, is deur Nieuwoudt se vrou, Flossie, en sy welbedeelde sekretaresse, Maffie, aan die 20 wenners van sy Cleosec-wedstryd uitgedeel.
Die sowat 400 uitgesoekte gaste is genooi van oor die hele land. Nieuwoudt, uitgedos in ‘n aandpak en ‘n tamaai rooi strikdas, het in ‘n kort toespraak gesê: “Ons stel nie in die kritici van doemprofete belang nie.”
Hy moes lank skerm om sy wonderproduk van mense weg te hou wat dit voor die tyd wou sien. Toe bulder hy: “Hier is dit!” waarna hy sy “velherstelroom, vogroom en ‘n skoonmaakroom” aan die gaste bekendgestel het.
Vyf geskenkpakkies is ook uitgedeel en elke dame by die glansgeleentheid het ook ‘n “klein monstertjie” gekry. Party van die vroue het opgewonde gekoer oor dié onverwagse meevallertjie.
Een van die gelukkige dames wat die pragtige geskenkpakkie gewen het, het die volgende te sê gehad: “Wurms in die kubus of te not, vanaand gaan ek die herstelroom aansmeer. Dit voel so glad.”
Die aand is afgesluit met ‘n gesakkie-sakkie, rock en wals vir ‘n vale! En dit was ‘n tyd vir “vrede en strydbyle begrawe”.
Gert Niewoudt, broer van Adriaan, wat Rapport op Garies wou vermoor, kom sê dag: “Weet jy dat ek na julle verlang het?” vra hy met oortuiging . . .
(Die Rapport, 25 November 1984)

kubus-02

Die man van die uur! ‘n Passievolle Adriaan Nieuwoudt by die glansryke bekendstelling van sy opspraakwekkende skoonheidsreeks, Cleosec.
(Die Rapport, 25 November 1984)


kubus-01

“Laat ek sien hoeveel jonger ek jou kan maak,” beduie Cornelia Swanepoel, links, aan Ewie Dixon (asof Nieuwoudt se nuwe wonderroom ‘n wafferse verjongingskuur is). Sy het ‘n geskenkpakkie skoonheidsmiddels by Cleosec se glansryke afskop gewen. Hier probeer Bettie Wiesner ook van die “wondermiddel”. Ál drie is boorlinge van Bellville.
(Die Rapport, 25 November 1984)


Nieuwoudt ‘kan vrot melk nou terugkoop’

Die likwidateurs van Adriaan Nieuwoudt het hom gesê hy kan maar sy vrot melk terugkoop om moontlik vir sy skoonheidsreeks, Cleosec, te gebruik.
Nieuwoudt het gereageer met: “Ek sal die aanbod mettertyd oorweeg.”

kubus-03

Kubus-kwekery se voorlopige likwidateurs het beslag gelê op hierdie “fonds”. By Nieuwoudt se “fabriek” in Parow, hurk (van links) Koos van Rensburg, Manie Rheeder en Jannie Rousseau by die hope vrot melk.
(Die Burger, 15 Maart 1985)


Gert Theron jailed in US for kubus fraud!

WASHINGTON – A South African businessman from Parow has been sentenced to 18 months imprisonment for his part in a multi-million dollar kubus milk culture copycat scam in die USA.
Gert Theron was the last of about 12 people to be sentenced for the racket involving an estimated R160 million from about 28 500 unsuspecting investors. His bail was set at R550 000.
Frans Theron, Gert’s brother, pleaded guilty to mail fraud conspiracy for a dismissal of 42 mail fraud charges.
US investors paid R70 for each “lactic activator kit” and were told the cultures would be used in a line of cosmetic products. Some were produced, but 90% of the cultures were recycled into kits for resale.
(The Cape Argus, 5 May 1987)