1652 – Weglopers toe eerste blankes in noordelike voorstede
Op 25 September 1652 het Jan van Riebeeck verneem dat vier kompanjiedienaars, Jan Blanx, Jan van Leijen, Willem Huitjens en Gerrit Dirckssen, weggeloop het. Die rede hiervoor was ontevredenheid oor die aanhoudende en moeilike werk aan die fort en die swak gehalte van die kos.
Hulle was die eerstes uit Van Riebeeck se geselskap wat dit gewaag het om die veiligheid van die fort te verlaat om die ylbegroeide, onherbergsame, feitlik boomlose sandvlakte aan die oostekant van Tafelberg aan te durf.
Van Riebeeck was bang dat ander ook sou dros en het toe ‘n beloning van 50 gulden uitgeloof aan enigiemand wat inligting oor die drosters kon verstrek.
Hulle wou blykbaar probeer om hul vaderland oor land te bereik! Hulle wou te voet tot by Mosambiek vlug en vandaar per skip terug na Nederland vaar. Die berge wat hulle op hul pad teëgekom het, het egter verhoed dat hulle verder as 24 myl (38 km) na die ooste kon vorder. Hulle het waarskynlik net tot by die Hottentots-Hollandberge gevorder. (As hulle maar net geweet het hoe ver Mosambiek is!)
Volgens Jan Blanx, die leier van die drosters, se joernaal, het hulle op die eerste dag reeds twee renosters raakgeloop wat hulle bestorm het om hulle te “vernielen, maer God bewaarde ons”. Hul beproewinge het nie dáár geëindig nie. Nadat hul hond ernstig in ‘n onderonsie met ‘n ystervark beseer is, en die twee renosters hul boonop weggejaag het van die stroompie waar hulle wou oornag, het hulle besluit om liewer kuslangs te stap en tussen die duine te slaap.
Hulle het ná slegs ses dae besluit om liewer om te draai en terug te keer na die Fort waar hulle op genadige straf op hul dade gehoop het. So, agt dae later, op
3 Oktober 1652, het die drosters vrywillig teruggekeer.
(Uit ‘n tesis deur Adinda L. Vermaak, “Die Geskiedenis van Kuilsrivier, 1652 – 1905”)
(more…)